Inentings loop seepglad vir Wes-Kaapse plaaswerkers

Rita Andreas, raadslid; Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit; ‘n plaaswerker uit die gemeenskap en dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou is almal baie beïndruk met die inentingsveldtog (Foto: Verskaf)

Die Wes-Kaapse landbou- en gesondheidsdepartemente het hande gevat in ʼn veldtog om so veel as moontlik plaaswerkers oor die hele provinsie in te ent.

“Ons het twee weke gelede begin deur plek by die Ceres-hospitaal in te ruim spesifiek vir plaaswerkers waar hulle aangery is om hulle inentings te ontvang,” sê Daniel Johnson, woordvoerder van dr. Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou.

“Verlede week het ons ʼn mobiele eenheid in die Klipheuwel-gebied gehad en Dinsdag gaan ons een op die Elsenburg-proefplaas hê.”

Gister het Meyer die Bovlei-boerdery in Wellington besoek waar die mobiele inentingspan ʼn teiken gestel het om 500 werkers in te ent. Dié teiken is toe wel bereik.

Hy is deur Conrad Poole, uitvoerende burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit en raadslid Rita Andreas, lid van die burgemeesterskomitee (MMC) vir landelike ontwikkeling, vergesel.

Poole het tydens die besoek die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement, die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, raadslid Andreas, die gesondheidswerkers en al die departemente bedank wat hande gevat het om dié inentingsveldtog te laat slaag.

“Dit is absoluut fantasties dat verskillende rolspelers kan saamwerk om te verseker dat ons plaaswerkers die kans het om hierdie virus te beveg wat soveel hartseer veroorsaak,” sê Poole.

“Hulle het ’n uitstekende werk gedoen om hierdie inisiatief moontlik te maak en dit verloop baie goed.”

Meyer het gesê dit is noodsaaklik dat mense aangemoedig word om hulle teen die virus te laat inent en ʼn beroep op al die inwoners van die Kaapse Wynlande gedoen om aan die inentingsprogram deel te neem sodat hierdie virus gestuit kan word.

“Dit is ‘n wonderlike program. Ons plaaswerkers en ons boere in die omgewing is hier om ingeënt te word, en dit is verblydend om te sien dat hulle in groot getalle opdaag om dit te doen,” sê Meyer.

“Ons moet kudde-immuniteit bereik en vandag is nog ’n belangrike stap in daardie rigting. Ek het groot waardering vir die deurslaggewende rol wat ons mediese personeel speel. Boonop speel ons landbouwerkers ’n belangrike rol in die voedselwaardeketting in die Wes-Kaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.