Kaapstad-hawe kopseer vir tafeldruifboere

Uitvoerders ondervind al ‘n geruime tyd probleme in die Kaapstad-hawe. (Foto: Phillip Bruwer)

Oor die afgelope drie weke het sake vir die Kaapstadse hawe ernstig skeefgeloop. Dit het tot ʼn grootskaalse vertraging in hawe-aktiwiteit gelei en sommige skepe het so lank as 11 dae in die kaai gelê.

Op 20 Desember het ʼn kragonderbreking die woonbuurte aan die Atlantiese kusstreek in donker gehul, en die hawe is noodwendig ook daardeur geraak.

Nie lank daarna nie het Transnet se hawe-owerheid beweer dat sterk winde en ʼn onstuimige see weer verhoed het dat die hyskrane behoorlik werk. Dit beteken dat derduisende tonne se sensitiewe tafeldruiwe, wat vir die uitvoermark bestem is, in gedrang is omdat hulle nie betyds vervoer kan word nie en potensieel enorme skade vir boere kan meebring.

ʼn Anonieme bron het aan Maroela Media gesê dat daar oor die feesgety ook ernstige arbeidsprobleme by die hawe was, terwyl die topbestuur boonop op verlof was. Daar is tans nege tot tien skepe wat voor anker lê en hulle wag nou gemiddeld ses tot sewe dae om gehelp te word. Volgens die bron het een skip onlangs vir 11 dae aan die kaai gelê en wag.

“Skeepsmaatskappye verloor baie geld en dan is daar nog hawekoste en -tariewe wat ophoop. Versienings en herstelwerk aan hyskrane duur ook uitermatig lank en daar is ʼn tekort aan basiese onderdele. Onlangs moes ʼn mobiele hyskraan ook van Gqeberha (Port Elizabeth) na Kaapstad gestuur word vir rugsteun.”

Die bron sê verder hy is baie skepties oor Transnet se verskoning dat die weer so buitensporig erg was dat die hyskrane nie kon werk nie.

Miljoene kilogram tafeldruiwe in gedrang

Francois Myburgh, uitvoerende bemarker van Bet-El Fruits, wat vrugte in heelwat streke verbou, het aan Maroela Media gesê dat die tafeldruifseisoen, wat van middel November tot middel April duur, tans deur sy piektydperk gaan.

Die logistieke ketting is dus onder ernstige druk om die 70 miljoen kartonne van sowat 4,5 kg elk, so vinnig as moontlik uit die land te kry.

Daarbenewens wring die Europese en Chinese markte hulle hande, want tans is Suid-Afrika een van die min lande wat in produksie is en die verlangde kultivars kan voorsien wat aan die smaakvereistes van veral die Europeërs voldoen.

“In die verlede het dit twee weke geduur om die druiwe op die oorsese winkelrakke te kry, maar met die vertragings in die hawe duur dit tans drie tot vier weke. Aan die anderkant gaan ons die mark heeltemal toegooi indien sake in die hawe binnekort regkom en die agterstand vinnig ingehaal word.”

Hy sê die probleem kom eintlik al ʼn lang pad. “Verlede jaar, tydens die wêreldwye inperkings, was daar te min behoueringskratte wat in Suid-Afrika aangekom het. Dit was net nie ekonomies lewensvatbaar om hier aan te doen nie omdat ons hawens nie teen die vereiste tempo kon laai nie. Tweedens was daar ʼn groot aanvraag na varkvleis uit China, omdat die varkgriep-epidemie veroorsaak het dat dié land ʼn groot deel van sy nasionale kudde van kant moes maak. Die skepe het derhalwe hul roetes aangepas en dit het ʼn sneeubal-uitwerking op die hele bedryf gehad.”

“Tafeldruiwe moet deurlopend teen ʼn sekere aantal grade Celsius verkoel word en Bet-El het toegang tot hulle eie koelkamers in Kaapstad, maar baie kleiner boere is nie so gelukkig nie. Omdat Transnet op ʼn stadium force majeure verklaar het, betaal die versekeringsmaatskappye ook nie uit vir produkte wat te warm geword het nie.”

Clayton Swart, kommunikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf (Satgi), het aan Maroela Media gesê dat hulle die probleme verstaan en deurlopend met die hoofbestuur van Transnet in gesprek is om oplossings te vind. “Daar is ʼn nabye verhouding tussen Transnet en Satgi en ons hou weeklikse vergaderings om die dringendheid om die probleem op te los, te benadruk.

“Suid-Afrika het bilaterale ooreenkomste met sy uitvoerlande en volgens die protokolle moet die koue ketting deurlopend teen bepaalde temperature gehandhaaf word. Die vruggehalte en ander aspekte, soos dat die verkoelingskratte ononderbroke van krag voorsien word, is kritiek.”

ʼn Ander vreemde verskynsel is ook nou besig om in Kaapstad‑hawe te ontvou. Omdat die hawe se hyskrane onvoldoende diens lewer, word die modernste en gevorderdste behoueringskrat-stelsel ongewilder. Nou begin meer verkoelingskepe soos in vervloë dae in die hawe aandoen wat met hul eie hyskrane sagtevrugte op palette in hul verkoelde ruime laai.

Terwyl sake stadig maar seker by Suid-Afrikaanse hawens agteruitgaan, is ander hawens soos Walvisbaai besig om hieruit voordeel te trek. Hy het sy infrastruktuur opgegradeer en sy hawe vergroot. Daar is onlangs ʼn nuwe terminaal gebou en vier nuwe hyskrane opgerig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Kyk hoe goed werk BEE aanstellings, en dit is 33 grade die laaste twee dae.

Groen Ghoen ·

Om mnr. Freek Robinson aan te haal: “Daar is hoop vir die toekoms.” Totdat “die toekoms” aanbreek, geliefde tafeldruifboere, sal julle maar geduldig moet tande kners.

Stephen ·

Bly julle lewer kommentaar op Walvisbaai. Namport se diens is uitstekend en die omdraai tyd vir skepe is 4 dae. Hierdie hawe kook en die druiweboere van die Oranjerivier verskeep reeds hiervandaan. Die hawe teen enorme koste vergroot en verbeter.

Johanna ·

En ons, die gewone Suid Afrikaners kry glad nie van hierdie goeie gehalte uitvoer tafeldruiwe te koop nie.
Ek raak al meer bewus van die swak gehalte vrugte en groente wat ons koop. DIE supermarket se pryse is hoog en kwaliteit nie goed nie. Gister kon ek net 4 geel perskes koop en by die huis gekom was al 4 hierdie perskes vrot aan die binnekant. Buite was dit goed. Maar waar laat dit ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.