Kom besigtig veiligheidspatente by Kragdag-landbou

TLU SA se landbou-ekspo gaan ‘n belangrike deel van Kragdag uitmaak. (Foto: Argief)

Kragdag is net ʼn maand ver en TLU SA het weer die taak op homself geneem om dié landbou-ekspo aan te bied.

Vanjaar is dit die derde keer dat TLU SA betrokke is en Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê sy span sien weer baie uit na dié geleentheid.

Kragdag vind van 11 tot 13 Augustus op die Diamantveld-landgoed buite Pretoria, naby die N4-Rayton-afrit, plaas en die TLU SA landbou-ekspo is reg langsaan.

Die ekspo sal sowat 400 stalletjies, ʼn kinderspeelpark, biertuin, kosstalletjies, ʼn raadsaal-program en nog vele meer bied.

Benewens die landbou- en vee-uitstallings asook die arena- en bulring-program word daar vanjaar ook ʼn boere-veiligheidspatent-kompetisie aangebied.

“Om veilig in en om jou huis te wees is nie veronderstel om ʼn arm en ʼn been te kos nie, maar ons almal weet hoe duur tegnologie is wat help met veiligheid. Ons wil graag ʼn groot poging aanwend om die man op straat te help as dit by veiligheid kom. Dit is nie reg dat jy sukkel met veiligheid net omdat jy nie al die moderne tegnologie kan bekostig nie,” sê Geldenhuys.

“Ons soek patente en planne van boere vir vroeë waarskuwing soos die ou tradisionele toutjie met blikkies aan en klippies in die blikkies – as jy die tou aftrap, is daar ʼn lekker geraas. Dis ʼn vinnige voorbeeld. Daar is dalk ook opsies vir peutervrye-slotte. Dit mag nie ʼn gekoopte ding wees nie, maar kan natuurlik gemaak word met gekoopte onderdele. Dit moet ʼn praktiese boerepatent wees wat jou met veiligheid in en om jou huis kan help. Die belangrikste is dat dit nie ʼn arm en been moet kos nie. Dit moet ook deur ʼn individu ontwerp en gemaak kan word.

TLU SA se Kragdag landbou ekspo-span van verlede jaar. (Foto: Argief) 

“Tydens die ekspo sal die patente uitgestal word en ʼn paneel beoordelaars sal die beste drie patente aanwys. Daar is lekker pryse op die spel. Ek is nogal opgewonde,” sê hy.

Die drie wenners sal op Donderdag 11 Augustus aangewys word. Inskrywings is gratis en die sluitingsdatum is 4 Augustus.

TLU SA nooi lede en vriende uit om betrokke te raak en die ekspo te ondersteun. Toegang kos R100 per persoon en vir kinders onder 18 is dit gratis. Vir 50%-afslag kan voornemende besoekers hier registreer. Om deel te neem aan die patentekompetisie kontak [email protected] vir die aansoekvorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Hoekom moet daar altyd n biertuin wees. Almal weet jy mag nie ry wanneer onder die invloed is nie en vandag hoef jy nie dronk te wees om vervolg te word nie en dan weet ons ook dat daar mense is wat goed getap het en dan agter die stuur inklim en sodoende ander mense se lewens in gevaarstel of selfs neem. Organeseerders moet daaraan ook dink n mens kan als geniet en besigtig sonder alkohol. ek is nie n suurknol nie maar as jy wil drink,drink dan by jou huis en bly by jou huis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.