KragDag: Alternatiewe vir beurtkrag, waterprobleme en onderwys

KragDag Wes-Kaap (Foto verskaf)

Met toenemende Eskom-beurtkrag, veiligheidsprobleme, dreigende waterkrisisse, ontoeganklike paaie en wanpresterende onderwys in staatskole, kan niemand meer bekostig om net te kla oor die huidige stand van sake nie. Ons moet sélf alternatiewe begin vind.

Sakeliga KragDag sê vanjaar “Daar is ʼn alternatief!” by sy tweede Wes-Kaapse selfstandigheidsekspo by Môreson Plaas buite Malmesbury vanaf 21 tot 23 Maart 2024.

“Die Wes-Kaap-weergawe van Sakeliga KragDag is verlede jaar vir die eerste keer buite Malmesbury getoets en met meer as 5 000 besoekers wat die 100 uitstallers kom besoek het, het ons geweet dat ons besluit om KragDag se voetspoor te vergroot, die regte een was,” sê HP Steyn, bestuurshoof van KragDag.

Die ekspo het ontstaan ná beurtkrag in 2007 die eerste keer in Suid-Afrika aangekondig is, en dit duidelik geword het dat energieoplossings in Suid-Afrika noodsaaklik is vir huishoudings en klein ondernemings. Deesdae is daar egter ʼn groot verskeidenheid selfstandigheidsoplossings vir alle lewensterreine. Of die uitdagings nou watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekuriteit is – planne word gemaak.

KragDag is al 14 keer aangebied op die Diamantvallei-landgoed net buite Pretoria en het van enkele tot sowat 600 uitstallers, en van etlike honderde tot meer as 36 000 besoekers in Augustus 2023 gegroei. Sedert 2019 vorm ʼn landbou sub-ekspo ook deel van die uitstallings.

“Daar is ʼn alternatief”

“Ons leef in ‘n onsekere tyd, met ongekende ekonomiese verval en ʼn groot deel van die probleem is dat ons só gewoond geraak het aan gebrokenheid en verval dat dit moeilik is om ʼn lewe in te dink waar dinge werk soos dit moet,” sê Steyn.

“Die antwoorde op die vraagstukke in ons land is beslis nie eenvoudig nie, maar dit begin sonder twyfel by selfstandigheid en individuele verantwoordelikheid. Wanneer ons sê ‘Daar is ʼn alternatief’ gaan dit oor méér as om reaktief staatsbestand te raak. Dit laat ons opnuut herbesin oor hoe ons lewens, omstandighede en gemeenskappe na regte daar moet uitsien en om self verantwoordelikheid daarvoor te neem.”

Sakeliga KragDag is dus soveel meer as ʼn selfstandigheidsekspo. Dit is ʼn instelling vir mense met ʼn positiewe selfstandigheidsingesteldheid vir hulself en hul gemeenskappe. Mense met ʼn filosofie van vryheid en selfbeskikking wat roepingsbewus kreatiewe en selfstandige oplossings ontwikkel en implementeer en mense inspireer om deel te neem.

Kom kyk na hierdie alternatiewe by Sakeliga KragDag Wes-Kaap 2024:

  • Jou eie kragvoorsiening as alternatief tot uitgelewerdheid aan beurtkrag.
  • Ontgin en opgaar van jou eie water as alternatief tot besmette water en wateronderbrekings.
  • Private en voorkomende gesondheidsorg as alternatief tot staatshospitale en -voorskriftelikheid.
  • Privaat- en tuisleer as alternatief vir staatskole.
  • Eie- en gemeenskapsinstandhouding van infrastruktuur as alternatief tot slaggate en ander staatsuitgelewerdheid.
  • Persoonlike veiligheidstelsels en gemeenskapsekuriteit as alternatief tot polisie-onbevoegdheid en -misdadigheid.

Besoekers kan uitsien na meer as 100 selfstandigheidstema-uitstallers, ʼn kuns en kou-mark, ʼn verskeidenheid kosstalletjies, ʼn gesellige biertuin en wyntuin as ook ʼn pretpark. Verskeie kenners gesels ook saam in die Kopskuif Ateljee met sprekers soos Dawie Roodt, Piet le Roux, Ian Cameron, Bennie van Zyl en Theo de Jager. Aangesien entrepreneurskap ʼn belangrike element vir selfstandigheid is, bied KragDag ook ʼn Junior Entrepreneurskompetisie tydens die ekspo aan.

  • Toegang vir besoekers beloop R120 per volwassene by die hekke, maar vooraf kaartjies is teen 50%-afslag beskikbaar by kragdag.co.za. Kinders onder 18 kan die ekspo heeltemal gratis besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.