Landbou het gemengde gevoelens oor begrotingsrede

‘n Gesonde fiskale beleid is belangrik vir landbou om te floreer. (Du Preez de Villiers)

Vanjaar se begrotingsrede is gister deur Enoch Godongwana, minister van finansies, in Kaapstad se stadsaal gelewer. Hy het gefokus op die regering se beplande ekonomiese groei op grond van drie pilare, naamlik ʼn stabiele makro-ekonomiese raamwerk, die implementering van sleutel-hervormings, veral in energie en vervoer, en verbeterde regeringskapasiteit.

Verskeie organisasies in georganiseerde landbou het kommentaar daarop gelewer en TLU SA was die minste beïndruk met die regering se keuses waarop hy sy geld in die 2023-belastingjaar gaan bestee.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, meen Suid-Afrikaners moenie geflous word met die regering se verskonings oor vorige jare se probleme rakende staatsbesteding nie. “Die regering sê sy vermoë om in nuwe infrastruktuur te belê was weens swak groei, groeiende uitgawedruk en die finansiële ondersteuning aan staatsmaatskappye. Dit is eerder ʼn geval van Adam sê dis Eva, en Eva sê dis die slang. Die ANC was die hoofoorsaak van al hierdie probleme weens swak bestuur.”

Agri Wes-Kaap (AWK) sê hy verwelkom die aankondiging dat R903 miljard oor die mediumtermyn aan infrastruktuur bestee sal word. “Die belegging in die logistieke netwerk is vir landbou in die Wes-Kaap wat uitvoergedrewe is, deurslaggewend,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van AWK.

“Volgens die minister sal 15% van die betonwerk van die Clanwilliam-damprojek aan die einde van 2023 voltooi wees. AWK is van mening dat dié projek van kritieke belang is en dat daar lank genoeg gesloer is,” sê Strydom.

Van Zyl voel ook positief oor die begroting vir infrastruktuur. “TLU SA verwelkom die beplande besteding van R400 miljard aan infrastruktuur oor die volgende drie jaar. Ons sal regtig wil sien hoe die herstel van paaie asook watervoorsiening aandag kry.”

Agri SA is ook positief oor die beplande besteding aan kritieke infrastruktuur, insluitend vervoer en logistiek, sowel as water en sanitasie. “Dit weerspieël die tesourie se begrip van die noodsaaklike bydrae van hierdie belangrike projekte tot die nasionale ekonomie en die voedselsekerheid van die land,” sê Kulani Siweya, hoofekonoom van Agri SA.

Rakende die veiligheidsbegroting hoop Van Zyl dat dit op die regte plekke bestee sal word. “Ons sal graag wil sien dat die R227,3 miljoen wat vir veiligheid en sekerheid begroot is ook aangewend sal word vir die beveiliging van plase. Dit is net jammer dat daar nêrens enigiets oor plaasaanvalle genoem word nie. Dit wys ongelukkig waar die prioriteit rakende hierdie saak lê.”

Van Zyl sê daar moes ook meer fokus op die behoeftes van landbou geplaas gewees het.

“Boere moet al hoe meer op diesel bestee om die produksieproses aan die gang te hou, maar steeds word niks gedoen om hiermee te help nie. Hoe verwag die regering dat daar kos op die tafels en rakke moet bly as hulle nie ʼn vinger lig om te help nie? Dit terwyl die Covid-19 maatskaplike verligtingstoelaag met nog ʼn jaar verleng word,” sê hy.

Die minister het onderneem dat die nasionale energiekrisiskomitee die intensiteit van kragonderbrekings sal verlaag.

Hierop reageer Van Zyl soos volg: “Boere kry nie hul gewasse besproei nie. Ons soek steeds ʼn oplossing hiervoor. Hoe hou die feit dat die regering R254 miljard van Eskom se skuldverpligtinge oorneem ʼn voordeel vir landbou in, en vir die mense wat vir die land se voedselproduksie afhanklik is?”

Agri SA sê hy verwelkom die skuldverligting wat vir Eskom aangekondig is, maar AWK sê hy is versigtig optimisties oor die aankondiging dat die regering ongeveer 60% van Eskom se skuldlas sal help verlig. “Die hoop is dat ʼn laer skuldlas Eskom in staat sal stel om aandag aan instandhouding en beleggings in kritieke opwekking en transmissie-infrastruktuur te kan gee,” sê Strydom.

Hy sê verder dit is goeie nuus dat ondernemings hul belasbare inkomste met 125% van die koste van ʼn belegging in hernubare energie kan verminder. AWK is van mening dat hierdie ʼn stap in die regte rigting is om weg te beweeg van Eskom as monopolie-energieverskaffer.

Agri SA sê dit is teleurstellend dat daar enige verhoging op aksynsbelasting is, maar AWK is tevrede daarmee.

“Hoewel AWK gehoop het dat daar nie ʼn verhoging in die aksynsbelasting sal wees nie, is ons verlig oor die tesourie se aankondiging dat aksynsbelasting op alkohol en tabak in verhouding is met die verwagte inflasiekoers. Die wynbedryf verkeer tans onder geweldige druk en ʼn verhoging bo die inflasiekoers sou verdere druk op die bedryf geplaas het,” sê Strydom.

Siweya sê ten spyte daarvan voel Agri SA dat Godongwana ʼn goeie begroting vir Suid-Afrika se moeilike klimaat gelewer het.

“Daar is wel steeds kommer in die nasionale begroting, veral die wetsontwerp op vergoeding in die openbare sektor. Tog is Agri SA in die algemeen tevrede dat minister Godongwana die konteks waarin die begroting gelewer is, verstaan het. Dit is ʼn kritieke oomblik vir ʼn landbousektor wat deur beurtkrag uitgemergel word,” sê Siweya.

“Hoewel die regering verder kon gaan om met die uitdagings wat die landbousektor in die gesig staar van hulp te wees, weerspieël die begroting ʼn nugtere ontleding van die omgewing waarin ons werk,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.