‘Begrotingsrede mik in regte rigting, maar…’

Enoch Godongwana, minister van finansies (Begrotingsrede 2022) (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Solidariteit het die minister van finansies, Enoch Godongwana, se begrotingsrede as oorwegend positief beskryf en sê dat hy versigtig optimisties is oor die koers waarop die begroting dui, maar benadruk dat die onus nou op ander ministeries rus om ook hul deel te doen.

“Dit is duidelik dat die ANC in die regte rigting gedwing is deur die eenvoudige feit dat die geld op is. Vir die eerste keer word oor openbare finansies gepraat as ’n beperkte hulpbron en nie ’n bodemlose put van belasting nie,” sê Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut.

Die VF Plus meen egter die begrotingsrede het met verkeerde prioriteite ʼn gulde kans verspeel om ekonomiese groei te stimuleer.

“Dié verkeerde prioriteite sluit in nóg R1 miljard in die bodemlose Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL)-put terwyl die Poskantoor se reddingsboei R2,4 miljard beloop,” sê Wouter Wessels, VF Plus-LP.

“Dit terwyl net een rand se verdere hulp aan gefaalde staatsondernemings bykans op hoogverraad sou neerkom gegewe die land se kritieke finansiële posisie.”

Wessels sê die vermorsing op die SAL, die Poskantoor en ander staatsondernemings moet gesien word teen die agtergrond van die land se grootste werkloosheidsyfer in die onlangse geskiedenis, ʼn staatssalarisrekening en -skuld wat buite beheer toeneem en die publiek en sakesektor wat ʼn verlore stryd teen die kragkrisis stry.

“Geld moes veel eerder bestee word aan belangrike prioriteite soos ʼn groter toegewing aan die publiek om na sonkrag oor te skakel, maar ná bykans drie dekades van ANC-bewind is hierdie prioriteite totaal skeefgetrek.”

Athol Trollip, voorsitter van ActionSA in die Oos-Kaap, sê dit is egter kommerwekkend dat die onderliggende struikelblokke vir ekonomiese groei in Suid-Afrika nie aandag gekry het nie.

“Indien hierdie struikelblokke – soos misdaad en korrupsie en die algehele agteruitgang van ons vragvervoer-infrastruktuur – nie reggestel word nie, sal die land nie die nodige ekonomiese groei kan behaal om werk te skep en die lewens van ons mense te verbeter nie,” sê Trollip.

Volgens Trollip herhaal ActionSA sy oortuiging dat die moeilike keuses wat minister Godongwana tydens sy begrotingsrede in die gesig gestaar het, deur die ANC se eie toedoen is weens jare se wanbestuur en korrupsie en uithol van staatsinstellings soos Transnet, Eskom en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Dit is slegs deur fundamentele hervormings dat langtermyn‑ ekonomiese groei aangevuur sal word wat die lewens van ons mense sal verbeter, en die ANC het deurgaans gewys dat hy te besig is met sy interne magstryd as om die vereiste besluite te neem. Dit is egter net die Suid-Afrikaanse kiesers en belastingbetalers wat uiteindelik kan besluit of hulle nog begrotings wat deur die ANC voorgelê word, sal duld en die geleentheid om dit te bepaal kom volgende jaar in die nasionale en provinsiale regeringsverkiesings.”

Skuldlas

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Solidariteit het egter sy kommer uitgespreek oor die vlak van skuld waaronder die land tans gebuk gaan.

“Die koste om ons skuld te diens is tans die derde grootste enkele item in ons hele begroting – meer as gesondheidsorg, meer as veiligheidsdienste en selfs meer as ekonomiese ontwikkeling. Dit is hoegenaamd nie volhoubaar nie. Veral gegewe die optimistiese aannames in verband met openbaresektorloononderhandelinge en die veronderstelling dat maatskaplike toelae uitfaseer sal word.”

Wessels sê besteding en staatskuld is buite beheer en die noodgedwonge oorname van Eskom se skuld van R400 miljard gaan die fiskale posisie verder verswak.

“Die situasie van die lamlendige staatsondernemings is tekenend van die staat se eie finansiële situasie. Die gevaar bestaan boonop dat die land se uitgawes onderskat of laer geprojekteer word om die situasie beter te laat lyk.

“Dit kan ernstige tekorte laat ontstaan, veral wat die salarisrekening betref sonder enige werkbare plan om dit te verminder.”

Die staat se salarisrekening is van die hoogste van die wêreld se ontwikkelende lande.

“Dit is as persentasie van die BBP (31% in 2022) hoër as die gemiddeld van die 38 lidlande van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (Oeso).”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eugene ·

Die begrotingsrede mik in die regte righting, maar bedrog kyk om die hoek, wag vir die regte tyd.

pieter ·

Met die korrupte anc en kaders sal die land nooit ooit verbeter nie .

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC moet nooit geloof word nie. Val hulle elke dag aan.

Papsak ·

Land verswak skelms loer all over uit maak plan met anc en dinge gaan reg kom

Nie Verbaas ·

“Die staat se salarisrekening is van die hoogste van die wêreld se ontwikkelende lande.” En met sekerlik van die laagste gemiddelde intelligensie.

Mallie ·

As gevolg van die gestelery is baie mense sonder werk en dit nadat daar beloftes van werkskepping gemaak was. Hoe nou?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.