Landbou-ontwikkelingsprojek bly groei (en oeste ook)

(Foto: Verskaf)

Ná twee vorige suksesvolle oeste het Thabake Business Enterprise vandeesweek met die derde plantsiklus begin.

Die gesamentlike landbouontwikkelingsprojek word gedryf met die hulp van AfriForum en Saai.

Vanjaar word beet, blomkool en rooikool aangeplant. Dit volg op ʼn tweede suksesvolle oes wat einde Januarie afgehaal is: 4 191 kg murgpampoen, 728 kg rooikool en 740 kg kool is aan Nutripick gelewer.

Altesame 770 blomkoolkoppe is ook aan ander klante gelewer.

“Een van die moeilikste dinge om te doen is om ná ʼn oes wat nie aan verwagtings voldoen het nie, aan te gaan. Dit is maklik om handdoek in te gooi as jou produk wat op die vloer is en leë landerye wat wag om weer bewerk te word, al is wat jy het,” sê Lebo Mosime, uitvoerende hoof van Thabake Business Enterprise.

“Ek is geseënd met al die ondersteuning wat ek het en die rolspelers wat betrokke is, asook die brandstof wat dit vir my moontlik maak om my landbouonderneming te ontwikkel en te laat groei tot ʼn winsgewende en volhoubare onderneming. Dít sal my nalatenskap aan my kinders en my span wees. Die kwaliteit van my produkte verbeter met elke oes en dit gee vir my hoop.”

(Foto: Verskaf)

Mosime het in 2022 na AfriForum uitgereik nadat sy besluit het om die kleinskaalse groenteboerdery wat sy in haar agterplaas op 2 000 m2 bedryf het, uit te brei. Hoewel sy suksesvol produkte aan die mark gelewer het, was die skaal te klein om ekonomies lewensvatbaar te wees.

AfriForum en Saai het Thabake Business Enterprise gehelp om 0,75 ha van die hoewe van 21 ha in die Phokeng-omgewing wat Thabake Business Enterprise van Royal Bafokeng Enterprise huur, onder sonaangedrewe drupbesproeiing te plaas. Die eerste oes blomkool en broccoli van dié projek is in Oktober afgehandel.

Die volgende fase van die projek behels die uitbreiding van die sonaangedrewe drupbesproeiingstelsel om die skaal van die projek te vergroot. Dit sal verder bydra tot die volhoubaarheid en winsgewendheid daarvan.

Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder by Saai, sê dit is bemoedigend om te sien hoe hul gesamentlike landbouontwikkelingsprojekte, wat fokus om kleinboere in diep landelike en buitestedelike gebiede te help moderniseer, meganiseer en kommersialiseer, begin vrugte afwerp.

“Een van ons belangrikste fokusareas is bestuursontwikkeling wat fokus op die verbetering van prosesse, administrasie en boekhouding. Bestuursontwikkeling help om winsgewendheid en volhoubaarheid meer akkuraat te bepaal sodat areas van verbetering ook makliker vasgestel kan word,” sê Lourens.

(Foto: Verskaf)

“Ons is deurlopend besig met ʼn proses om herlewingslandboupraktyke stelselmatig in werking te stel met die doel om winsgewendheid te verbeter en omgewingsimpak te verlaag.”

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sê dit is ʼn voorreg om deel te wees van ʼn groeiende netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar op voetsoolvlak ondersteun. “Samewerking op interkulturele projekte bied aan kultuurgemeenskappe die geleentheid om mekaar te leer ken en blywende vertroue en verhoudings, gegrond op wedersydse erkenning en respek te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.