Landbou ook geraak deur onluste; versoek noodtoestand

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Agri SA doen ʼn beroep op die presidensie om sy optrede te verskerp en ʼn nasionale noodtoestand te verklaar om ʼn einde te maak aan die golf van misdadigheid wat in die land posgevat het.

“Wetsoortreders saai verwoesting aan infrastruktuur in sekere gedeeltes van die land en toon geen ontsag vir die reg nie. Die uittarting van die gesag van die regering mag nie geduld word nie en ʼn beroep word op die polisie gedoen om alle hulpbronne aan te wend om die verspreiding van die misdadige optrede te verhoed en die skuldiges in hegtenis te neem,” sê Pierre Vercueil, president van Agri SA.

Agri SA het die president se veroordeling van die misdadigheid en wetteloosheid wat in sekere gedeeltes van die land voorkom, verwelkom. “Ons wil by die president aansluit in die veroordeling van die optrede van wetsoortreders en versoek dat die opdragte van die president onmiddellik ingestel moet word om verdere misdadigheid te verhoed.

“Agri SA verwelkom daarom die regering se dringende optrede om die weermag in KwaZulu-Natal en Gauteng ter ondersteuning van die polisie te ontplooi.”

Volgens Agri SA raak dié misdadige optrede ook nou die landbou, wat tans in die pieksitrusproduksieseisoen is. Groot hoeveelhede sitrus ter waarde van ongeveer R592 miljoen moet weekliks na die Durban-hawe vervoer word. Enige ontwrigting hiervan lei tot finansiële verliese vir produsente en verhoed dat die produk betyds die buitelandse mark bereik.

Dié bedryfsorganisasie ontvang ook berigte uit KwaZulu-Natal van die afbrand van suikerriet- en ander landerye. Die boere kan ook nie die brande blus nie uit vrees vir hul lewe. Die situasie raak ook veeboere wie se voervoorraad afgebrand word en verskeie saagmeulens wat gesluit word.

Verdere berigte dui daarop dat die polisie nie die nodige beskerming aan boere kan bied nie en in sekere gevalle nie weet hoe om die situasie te hanteer nie.

Agri SA doen in dié verband ʼn dringende beroep op die minister van polisie om bykomende polisiehulpbronne aan die provinsie beskikbaar te stel om die produsente by te staan om verdere brandstigting te verhoed.

Vercueil sê die misdadigheid wat Suid-Afrika tans beleef, het niks meer te doen met die reg op vreedsame protes nie, maar word nou misbruik om die land se infrastruktuur te vernietig en gewone landsburgers se lewe te bedreig. “Agri SA doen ʼn verdere beroep op landsburgers om hulle te distansieer van dié misdadige optrede. Ons het nou nodig om die land se ekonomie op te bou.

“Die plundering van winkels, klipgooi na motors, versperring van paaie, afbranding van vragmotors en oeste, asook diefstal van vee hou ʼn ernstige bedreiging vir voedselsekerheid in,” sê Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA.

“Suid-Afrika loop die gevaar dat mense nie kos kan koop of toegang daartoe kan kry nie. Dit sal lei tot hongerte op nasionale skaal, wat weer meer sosiale onrus en chaos sal aanwakker.”

Hy sê dit is duidelik dat misdadigers geen respek het vir wet en orde nie en dat hulle onophoudelik sal plunder, vernietig en steel totdat daar niks oor is nie. “Verder is Suid-Afrika ʼn grondwetlike staat, en ons Grondwet lê ʼn grondwetlike verpligting op die staat om sy burgers teen sulke misdadigheid te beskerm.

“ʼn Nasionale verklaring van ʼn noodtoestand moet ook gepaard gaan met die ontplooiing van veiligheidspersoneel in alle gebiede wat geraak word. Daarbenewens doen ons ʼn beroep op die presidensie om te verseker dat ons logistieke infrastruktuur soos ons paaie, hawens en lughawens bly funksioneer om voedsel af te lewer.”

Van der Rheede beklemtoon dat onskuldige burgerlikes honger sal ly as misdadigheid onophoudelik voortduur en misdadigers toegelaat word om winkels te plunder en die land gyselaar te hou. “Dit is duidelik dat die oproepe om die ekonomie te sluit en die voortsetting van burgerlike wanorde en geweld ʼn ernstige bedreiging vir alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaners inhou, asook diegene wat van wet en orde afhanklik is om die ekonomie te laat groei.

“Die verklaring van ʼn noodtoestand is van sleutelbelang om ʼn beter lewe vir al ons mense te bewerkstellig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.