ʼn Oplossing vir elkeen by KragDag

Osprey SA bou en verskaf veehanteringstoerusting en omheiningsmateriaal. Jaco Burger wys hoe deeglik ‘n dier ontsmet kan word met die Osprey-Combat, wat by veilings en boere se plaashekke opgestel kan word. (Foto: Du Preez de Villiers)

Staatsbestandheid was ʼn woord wat sonder aarseling en deurlopend tydens vanjaar se Sakeliga KragDag-besprekings gebruik is. ʼn Rekordgetal besoekers was ook ʼn aanduiding dat Suid-Afrikaners ywerig besig is om vir hulself skanse teen staatsverval op te rig.

Die 13de KragDag is verlede week op die Diamantvallei-landgoed, sowat 20 km oos van Pretoria, aangebied.

In ʼn atmosfeer van “Doen jou eie ding!”, wat ook die leuse van KragDag is, het ʼn rekordgetal uitstallers, wat wissel van alternatiewe onderwys tot die verhandeling van koolstofkrediete, hul nuutskeppings en oplossings ten toon gestel.

Dry Ice International se masjien wys hoe word koolstofdioksied-gas in ‘n vastestof omgesit om vir verkoeling en die merk van vee gebruik te word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Maroela Media was ook daar en kan getuig dat KragDag te midde van die negatiewe klimaat waarin Suid-Afrikaners hulself bevind beslis ʼn opbouende ervaring was.

Die ekspo se uitstallers het sedert verlede jaar met 23% gegroei, van 470 tot 580 ondernemings. Die bywoningsyfer het met 47% gegroei van 21 000 tot 30 900.

 

Wilna en Riaan Odendaal van Willdor wys hoe droog hulle beskuit met behulp van die son se hitte. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Hoëveld Veteraantrekker- en enjinklub het hul enjins van toeka se dae, regdeur die skou laat loop:

 

Landbou volg kort op sy hakke

TLU SA het vanjaar vir die derde keer voor gevat met die Kragdag landbou-sub-ekspo en het ook heelwat gegroei tot meer as 100 uitstallers, met ʼn arena- en skouringprogam, asook ʼn veetent en pluimvee-uitstalling.

Vir groter uitstallers wat hul trekkers, werktuie en veehanteringstoerusting wou uitstal, is daar groot standplase uitgelê.

Hoewel bek-en-klouseer ‘n paar dae voor Kragdag in dié gebied uitgebreek het en baie genootskappe hul diere onttrek het, was daar heelwat vir veeboere te sien.

Verskeie landbouspesialiste het hul kennis met boere in die raadsaal en veetent gedeel en die telers wat tog besluit het om hul vee na die skou te bring, kon hul diere in die skouring paradeer.

 

In die raadsaal het Bennie van Zyl van TLU SA, dr Theo de Jager van Saai en Gerhard Papenfus van Neasa gesels oor die probleme met die bestaande Landboumeesterplan en bespreek hoe daar ‘n alternatiewe plan op die tafel gesit gaan word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Grootvee-, kleinvee- en perde-uitstallers was almal saam in die veetent bymekaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Verskeie hoender- en ander pluimveerasse is in die pluimvee- en hoendertent bymekaargebring. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Die Inyati-groep se span wys hoe lyk hul hommeltuig en sy magnetometer waarmee verskille in die weerstand van grondformasies tot 500 m diep gemeet kan word. Dit stel hulle in staat om te “sien” waar water en minerale kan voorkom. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

David Hendrikse van DD-Equipment sê ‘n Taihong-trekker is tot 50% goedkoper as sy mededingers. Hulle het twee jaar gelede begin om dié trekkers uit China in te voer en kan modelle vanaf 50 kw tot 500 kw lewer, van basiese tot hoogs gesofistikeerde modelle. Dit kan ook volgens ‘n boer se behoeftes aangepas word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

ETG se voertuigafdeling versprei nou die Belarus-trekkers in Suid-Afrika, wat basies gebou is en pasgemaak is vir plaaslike omstandighede. Bray Hyland, Brian Mumford, Hans Greyling is baie trots op hierdie handelsmerk wat uit 10% van alle trekkers wêreldwyd bestaan. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Leonard Mharadze demonstreer hoe vinnig jy ‘n draadklamp met sy gereedskapstuk kan maak:

 

 

Mike Lombard sê dié konvensionele lugdrukplanter van RovicLeers is vir grootsaad gebou en jy kry drie stelle plate saam om verskillende saadgroottes te plant. Kunsmis kan langs, of onder die pitte gelaas word en die gronddruk kan verstel word. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Jonathan Toxopeus sê Algar voer hierdie selfaangedrewe voermenger uit Kanada in. Sy inhoudsmaat is 1,4 kubieke meter en kan tussen 500 kg en 1 000 kg se massa dra en word deur ‘n 9 kW Honda-enjin aangedryf. Charlotte Esterhuizen wys hoe maklik jy die menger bestuur terwyl jy boonop ‘n trekker kan spaar. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Riana Nel en Chris Vermaak van Agricon sê hulle bou hamermeulens, asook versakkings- en toestiktoerusting, alles vir veeverpilling. Hulle is in Boemfontein geleë en sedert 1993 in die bedryf en voer 40% van hul produkte na 20 lande uit. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Poldaw se windpompe is ‘n ou bekende en wyd verspreid oor Suid-Afrikaanse plase. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Kyk: Fireblock wys hoe blus jy ʼn vuur met ʼn bal wat binne ʼn paar oomblikke ontplof.

 

 

Die bekende veearts, dr Faffa Malan gee ‘n oorsig oor die belangrikste veesiektes waarteen boere waaksaam moet wees. Marzanne Roets van die National Animal Health Forum staan hom by. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Fanie Kruger en sy dogter, Theana van Ruswater Dormers sê hulle is baie lief vir dié skape en daarom teel hulle lekker met dié ras. Hulle boer buite Potchefstroom en is nou al vir agt jaar besig om ernstig te stoet. Hulle het net stoetdiere op die plaas waarmee daar baie intensief geboer word en gegewe veilings en lamtyd is daar altyd tussen 400 en 500 diere in die kudde. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Danie Bruwer wat by Paul Roux boer het die voordele van Dohne Merinos uitgelig. Hy sê dié ras is die enigste werklike dubbeldoel vleis- en wolskaap in die wêreld. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Sarel Opperman van Afgri Delmas sê hulle het dié John Deere 6B-reeks twee jaar gelede begin invoer. Hierdie 80 kW model se eerste, tweede en derde ratte is nou ook met die A-, B- en C-ratreekse gesinkroniseer sodat jy nou in die ry tussen ratte en ratreekse kan verwissel. Dit is veral handig wanneer swaar toerusting soos sleepwerktuie en tapkarre getrek word. Dit verminder slytasie op die ratkas aansienlik.  (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Volgende jaar se KragDag is reeds vasgemaak en diegene wat steeds soekend is na alternatiewe op vele terreine moet solank 9 tot 12 Augustus 2023 in hul dagboeke aanteken.

Met die openbare vakansiedag op 9 Augustus, wat volgende jaar op ʼn Woensdag val, het die organiseerders gesê dat Sakeliga KragDag-ekspo van 2023 vir die eerste keer na vier dae verleng word. Aansoeke vir uitstallers open binnekort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.