Nuwe hoof moet Daybreak regruk

Die Merinovlakte-hoenderplaas. (Foto: Daybreak Farms)

Richard Manzini is aangewys as die nuwe hoof van die hoendergroep Daybreak Farms.

Daybreak Farms bedryf ʼn geïntegreerde pluimveeonderneming en lewer dagoudkuikens aan sy eie en gekontrakteerde plase waar die hoenders grootgemaak en as vars en gevriesde hoender en hoenderstukke gelewer word.

Die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) besit die sukkelende groep wat onder meer geteister word deur kontantvloeiprobleme.

Daybreak sê Manzini het bewese ondervinding in die ontwikkeling van maatskappye namens die OBK.

“Manzini is ʼn bedrewe sakeleier met ʼn onberispelike geskiedenis om sleutelbeleggings in die landbou-omgewing te bedryf. Hy sluit by Daybreak aan terwyl die pluimveebedryf talle probleme die hoof moet bied – die verwoestende uitwerking van voëlgriep, beperkte kraglewering en stygende voerkoste,” sê Vuyelwa Matsiliza, voorsitter van Daybreak Farms.

“Die enorme taak om ʼn instelling in die huidige bedryfsomstandighede om te keer vereis ʼn dapper ingesteldheid en die kundigheid van ʼn veelsydige strategiese leier met ʼn diepe begrip van die Suid-Afrikaanse pluimveelandskap en die bydrae daarvan tot voedselsekerheid.

Manzini is “perfek vir die rol” nadat hy in die verlede bygedra het tot groot bestendigheid en groei in die sektor.

Hy word beskryf as ʼn taai en veerkragtige strateeg en “korporatiewe boer” wat eerder sy tyd in die aanlegte of op plase deurbring as agter ʼn lessenaar.

Manzini gee toe dat Daybreak se reputasie skade gely het, maar sê dat berigte verband gehou het met “historiese wanbestuur, korrupsie en ampsmisdrywe”.

“Die huidige raad hanteer hierdie kwessies binne die toepaslike wetlike raamwerk.”

Die bestuur konsentreer daarop om Daybreak Farms as ʼn betroubare vennoot tussen sy eweknieë te posisioneer, “een wat gehalte hoender- en voedselprodukte aan klante landwyd lewer”.

“Ons streef ook daarna om ʼn voorkeurwerkgewer te word, om etiek deur ons bedrywighede te weerspieël en onsself beter voor te berei op die onstuimighede in ons bedryfsomgewing,” sê Manzini.

Hy sê Daybreak moet ook voldoen aan die beleggingsmandaat om transformasie in die landboubedryf te bevorder.

“Werkskepping en -behoud, die produksie van bekostigbare, gehalte proteïen om Suid-Afrika se voedselsekerheid te verbeter, en die skep van sinvolle ekonomiese platforms om armoede in ons gasheergemeenskappe te verminder, gaan deurslaggewend tot ons sukses wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Nou ja Manzini, dis jou kaans om dinge rwg te ruk…. voorspoed vir jou.

WitBlits ·

Mr Manzini, as jou doelwit om “beleggingsmandaat om transformasie in die landboubedryf te bevorder” is deur weer Ras as bepalende faktor in die besigheid in te bring is jy gedoem om te faal… Vergeet van Transformasie, en stel die beste persoon vir die werk aan – ongeag van ras…. Slegs met die beste moontlike kandidaat om sy of haar werk effektief en gemotiveerd aan te pak sal jy sukses behaal….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.