Ooreenkoms skep grootste magsbasis in landbou

Verteenwoordigers van Saai en TLU SA het in Pretoria bymekaargekom om ‘n samewerkingsooreenkoms te onderteken. (Foto: Du Preez de Villiers)

Kommersiële boere, familieboerderye en rolspelers in die landbouwaardeketting se belange het ʼn aansienlike hupstoot gekry toe Saai en TLU SA hul kragte saamgesnoer het deur ʼn samewerkingsooreenkoms te onderteken.

Dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai, en Henry Geldenhuys, president van TLU SA, het eendragtig saamgestem dat hierdie aksie dié twee organisasies se invloed in landbou se beleidsomgewing gaan verbreed, verdiep en versterk.

Hulle is van mening dat die krag van verteenwoordigende getalle belangrik in beleidsbeïnvloeding is asook die daarstelling van burgerlike alternatiewe waar die staat die landbousektor faal, in die beleidsomgewing én dienslewering.

Voor die bekendstelling van Saai is daar deur ʼn reeks werkgroepsessies verseker dat die waardes en beleidsvertrekpunte van TLU SA en Saai belyn is om samewerking aan te moedig.

Volgens De Jager bestaan hul gesamentlike ledetal uit meer as 16 000 boere, wat hulle die grootste stem in georganiseerde landbou gee. Hoewel daar voorheen reeds samewerking en oop kommunikasie tussen die twee organisasies was, spruit hierdie formele ooreenkoms daaruit dat die lede dit vereis en om nouer saakgerigte aksies en veldtogte van stapel te stuur.

 

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en Henry Geldenhuys, president van TLU SA onderteken ‘n samewerkingsooreenkoms. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

TLU SA is die oudste landbou-unie in Afrika en organiseer boere al sedert 1897. Saai is in 2019 as ʼn netwerk vir familieboere gestig in die raamwerk van die Verenigde Nasies se dekade vir familieboere. Hierdie twee organisasies vul mekaar derhalwe aan omdat TLU SA ʼn unie is wat strukture tot op distriksvlak het en Saai weer ʼn platter en kragtige netwerkstruktuur met baie internasionale invloed het.

“Die ooreenkoms is geteken as uitvloeisel van die gedeelde fokus en waardesisteem,” sê De Jager. “Hieruit het daar reeds verskeie beleidstandpunte, projekte en posisies ontstaan waar TLU SA en Saai hande gevat of kragte saamgesnoer het om ons boere se belange te beskerm, te bevorder of uit te bou.”

Geldenhuys sê enkele voorbeelde van hierdie projekte en waar hulle reeds hul kragte saamgesnoer het, is druk op die staat en om die landboumeesterplan meer inklusief en realisties te omskryf, om Landbank se aggressiewe uitwinnings teen boere stop te sit, of die instel van sonkrag om boere se kwesbaarheid teen beurtkrag te beperk.

“Ten einde die gemeenskaplike fokus en waardesisteem te versterk, kom Saai en TLU SA ooreen om waar nodig en tot voordeel van boere saam te werk,” sê Geldenhuys. “Ons doel is om mekaar te ondersteun waar hulp versoek word en mekaar te betrek by aksies indien samewerking waarde tot die aksie kan toevoeg. Ons hou mekaar ingelig oor tendense en bedreigings, die welstand van ons organisasies en ons lede, wat die boerderygemeenskap ten brede kan beïnvloed.”

 

Dr Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en Henry Geldenhuys, president van TLU SA wil baie nouer saamwerk om beleid in die landbou-omgewing makliker te beïnvloed. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Hy sê hierdie ooreenkoms is geteken om te midde van ʼn multidimensionele aanslag op boere ʼn band van vriendskap en kameraderie tussen Saai en TLU SA te smee.

Vir Saai en TLU SA is die ontwikkeling van jong boere ʼn prioriteit. Die twee organisasies stel dit in die vooruitsig om mekaar se inisiatiewe te ondersteun om jong boere en voornemende boere te bemagtig.

De Jager sê hy vermoed dat landbou gaan riemspring in die volgende jaar te midde van die aanloop tot die nasionale verkiesing. “Dit is in hierdie tyd voor die verkiesing wat dinge kan warm raak en boere hoop verloor. Ons doel is om hoop te skep en om vir boere te wys waar ons kan saamstaan en mekaar skerp en ingelig hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.