Polisie moet sê oor betredings – Saai

(Argieffoto: Anja van der Merwe)

Die landboubelangenetwerk Saai het ʼn formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) aan die polisie gestuur om meer inligting en statistieke oor betredings te bekom.

Die organisasie wil die polisie hiermee dwing om verslae en statistieke oor die aantal aangemelde voorvalle van betreding te verskaf. Saai vra ook vir ʼn opsomming van die aantal polisieondersoeke wat per provinsie ná voorvalle van betreding gedoen is. Voorts vra die netwerk ook antwoorde oor die aantal vervolgings wat teen betreders ingestel is, die koers van skuldigbevindings en vonnisrekords.

“Saai wil hierdeur die ondoeltreffendheid van die polisie se maatreëls om betreding te voorkom aan die kaak stel,” sê Theo de Jager, uitvoerende direkteur van Saai.

“Daarom dwing Saai die polisie om ook sy beleid, riglyne en direktiewe om betreding hok te slaan, te verskaf.”

In 2022 het die departement van justisie en korrektiewe dienste ʼn konsepwet genaamd die Onregmatige Toegang tot Persele voorgestel. Die voorgestelde wetgewing is egter nog nie na die parlement verwys nie en die Betredingswet van 1959 geld steeds.

De Jager sê die Paia-aansoek vorm deel van die voortgesette druk wat Saai wil toepas om sy beleidsbeïnvloeding – oor die kwessie van betreding – te laat slaag. Daar is ʼn toename in voorvalle van betreding en grondgrypgevalle, terwyl Saai meen dat die polisie terselfdertyd ook al hoe meer misluk om hierteen op te tree. Saai eis dat betredingswetgewing opgeskerp en strenger toegepas word en daarom doen hy regstappe om die owerhede aanspreeklik te hou om wet en orde te handhaaf.

“Dit is ons missie om ons lede se regte te beskerm en daarom doen ons stappe teen die toenemende voorvalle van betreding van privaat eiendom. Die skendings van eiendomsreg en persoonlike veiligheid wat met sulke voorvalle bedreig word, gee rede tot kommer en ons wil vir familieboere intree,” sê De Jager.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.