RPO mik nou vir China

Chinese beesvleiskerrie met grondboontjies (Foto: Lapa-uitgewers)

Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) het die oopstelling van rooivleisuitvoere na Saoedi-Arabië verwelkom en die Suid-Afrikaanse regering en die departemente wat betrokke was, bedank vir hierdie baie positiewe uitkoms ter ondersteuning van die rooivleisbedryf.

“Dit is inderdaad baie goeie nuus vir die rooivleisbedryf, ook in terme van Visie 2030 wat met die Landbou-meesterplan belyn is,” sê Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die RPO.

Visie 2030 is deur die vier primêre rolspelers in die rooivleisbedryf, naamlik RPO, Nerpo, die Rooivleisabattoirvereniging en SA Voerkraalvereniging, saamgestel.

Hy sê Suid-Afrika is tans 30% onder die wêreldnorm in terme van vleispryse en dit maak die Suid-Afrikaanse produsent wêreldwyd baie mededingend. Hierdie uitvoere baan ook die weg vir die uitvoer van lewendige slagvee asook genetiese materiaal na Saoedi-Arabië.

Hoewel Suid-Afrika steeds nie ʼn bek-en-klouseervrye status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) het nie, word daar tans rooivleis na 28 lande ingevolge bilaterale ooreenkomste uitgevoer.

 

Gerhard Schutte is die uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusenteorganisasie. (Foto: RPO)

 

“Die RPO het nog altyd die standpunt gehuldig dat Suid-Afrikaanse rooivleis en produkte, wat van ʼn  hoë gehalte is, na die sogenaamde dollar-, jen- en pond-markte uitgevoer moet word. Met die goedkeuring van hierdie uitvoere kan dit gesien word as nog ʼn stap om uitvoere na welgestelde markte te verseker. Die inkomste per kapita in Saoedi-Arabië is van die hoogste ter wêreld en dit waarborg goeie koopkrag. Dit is in teenstelling met Suid-Afrika ná Covid-19, waar groei in die ekonomie gedaal het, rentekoerse en inflasie hoog is en die verbruikers se koopkrag onder druk is.

“Ten einde ons produsente se winsgewendheid te verhoog, kan ons nie net op die binnelandse mark fokus nie en uitvoere moet toeneem. Die produsentepryse en die pryse van speenkalwers en voerlammers het reeds jaar tot jaar met 20% gedaal,” sê hy.

Een van Visie 2030 se fokusterreine is die nuwe statutêre heffing in handel wat ook uitvoere behels. Die RPO sê hierdie stap sal op ʼn inklusiewe basis die uitvoere van beesvleis van 5% van plaaslike produksie tot 20% verhoog en dié van skaapvleis van 1% tot 6%. Hierdie stap sal ook verseker dat die opkomende sektor kan groei en die winsgewendheid en volhoubaarheid van primêre produsente verhoog.

“Ons is ook uiters trots op die rooivleisbedryf vir hul rol om die afvaardiging te oortuig dat ons die dieresiekte en openbare gesondheidsaspekte onder beheer het. Ons vertrou dat die uitvoere ook die weg sal baan vir die hervatting van uitvoere na China,” sê Schutte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nommer 7 ·

Ek betaal nou R109.00 p/kg vir lam pakke, boud en loin tjops, hier by my OK om die draai. Nie te sleg nie. Boud tjops vir bredies, en loin tjops vir braai.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.