Russiese inval, ander kwessie by Nampo Kaap ontleed

Tydens ʼn Nasie in gesprek-aflewering by Nampo Kaap kyk rolspelers in die garswaardeketting mekaar in die oë oor die probleme wat in hierdie uitdagende bedryf ervaar word. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die bekende Nasie in Gesprek-paneelbesprekings sal vanjaar weer by Nampo Kaap op Bredasdorp aangebied word. Die besprekings kyk in diepte na kwessies in die landbou met gesoute fasiliteerders Theo Vorster en Anli Hattingh as die gesprekleiers.

Die sprekers wat genooi word, is kenners in hul onderskeie gebiede en sal ingewikkelde kwessies in die landbou, asook in die breë samelewing blootlê en op die man af bespreek. Die aanbiederborg is Senwes en die landbouverskaffersgroep het aangedui daar gaan vier sessies oor twee dae aangebied word.

Die eerste paneelbespreking skop op Woensdag 13 September om 10:00 af en handel oor die ekonomiese gevolge wat die Russiese inval op Suid-Afrika se handelsverhoudinge het. Ontwrigting in globale voorsieningskettings, skommelinge in kommoditeitspryse en diplomatieke spanning is regstreekse uitvloeisels van die inval.

Paneellede wat die diepgaande uitwerking van wêreldwye konflik op wêreldhandel sal ondersoek, is Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, asook Wolfe Braude van Agbiz, Wandile Sihlobo van Agbiz, Anthony Clarke van Smalltalkdaily Research en John Hudson van Nedbank.

Die tweede sessie vind op Woensdag 13 September om 14:00 plaas. Die groei van die kanola-bedryf in die Kaap sal onder die loep kom. Die groei wat tans in hierdie bedryf ervaar word, versterk nie net die plaaslike ekonomie nie, maar vestig ook die Wes-Kaap as ʼn beduidende bydraer tot die globale kanola-voorsieningskettings deur aan die stygende vraag na gesonde olies en biodiesel te voldoen.

Paneellede wat na die toekoms van dié bedryf sal kyk, is Pieter Malan van SSK, Koos Blanckenberg van die Kanola-spesialiskomitee, Kellie Becker van SOILL en Jose de Kock, ʼn produsent.

Die derde sessie op Donderdag 14 September om 10:00 kyk na kragopwekking in die Kaap. Die Kaap-streek het ʼn leiersrol ingeneem rakende die bevordering van kragopwekking en het al keer op keer merkwaardige vordering getoon as dit by volhoubare energie-inisiatiewe kom.

Paneellede sal na die Kaap se suksesvolle proaktiewe benadering ten opsigte van natuurlike hulpbronne kyk wat wind, sonkrag en hidro-elektrisiteit insluit. Die paneel bestaan uit sprekers wat die saak van verskillende kante benader: staatsamptenare wat beleid vorm, asook diegene uit die privaat sektor wat tegnologiese vordering dryf.

Die volgende sprekers beloof om ʼn holistiese beeld oor volhoubare kragopwekking te gee: Geordin Hill-Lewis, burgemeester van Kaapstad, asook Argon Poorun van Green-Cape, dr. Kandas Cloete van BFAP en Gary Vorster, produsent.

Die laaste sessie vind op Donderdag 14 September om 14:00 plaas en kyk na uitdagings wat die skaapbedryf in die Kaapprovinsie tans in die gesig staar. Struikelblokke waarna gekyk sal word, is wisselende markvereistes, klimaatonsekerhede en veranderende verbruikersvoorkeure.

Paneellede wat saam na oplossings sal soek, is dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou in die Wes-Kaap, saam met Stephen van Huyssteen, voormalige besturende direkteur van KLK, dr. Phillip Oosthuizen van RMIS, Isak Staats van BKB, Richard Krige van Overberg Agri en ʼn produsent.

Senwes sê ekspogangers is welkom om saam te gesels oor kwessies wat nie net op die landbousektor van toepassing is nie, maar ook ʼn uitwerking op die breë ekonomie het.

Beperkte sitplekke is beskikbaar en dit is raadsaam om vooraf ʼn aanlyn bespreking te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.