Sprinkaanplaag verg groter paraatheid

Bruinsprinkane los bittermin groenigheid agter op hulle verwoestingspad. Foto: Pixabay

Sprinkaanbeheer is tradisioneel die departement van landbou se taak, maar georganiseerde landbou het hierdie seisoen meer betrokke geraak weens die reuse-omvang van die krisis.

Die insekte saai ʼn skrikbewind oor groot dele van die Karoo en tot diep in die Kalahari. Swerms het selfs tot diep in Botswana en Namibië inbeweeg en groot skade aan weiding en gesaaides aangerig.

Volgens Reuters is daar tot dusver 719 000 ha weiveld en ongeveer 1 200 ha gewasse in tien van die 14 streke in Namibië vernietig. Dit was die derde uitbreking in die 2020-’21-seisoen.

Volgens Vrystaat Landbou is boere in die Hertzogville- en Boshof-omgewing in die Wes-Vrystaat ook nou slagoffers. Hulle is die afgelope naweek deur ʼn donker sprinkaanwolk begroet toe ʼn groot swerm vanaf die Noord-Kaap oorgewaai het.

Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van Vrystaat Landbou, bevestig dat skakeling met die hoof van die Vrystaatse departement van landbou, dr. TJ Masiteng, en die bestuurder van die Vrystaatse rampbestuur, Mafa Moqhaka, daartoe gelei het dat die plaaslike spanleiers vir die beheer van sprinkane bevestig is om in die betrokke gebiede te help, aangesien die beheer van migrerende plae onder die departement val.

Armour raai boere aan om soos volg op te tree wanneer swerms gewaar word:

  • Swerms moet dopgehou en bure in kennis gestel word in watter rigting hulle beweeg. Plaaslike sprinkaanbeamptes/spanleiers moet ook van ʼn ligging (location pin) en foto voorsien word om hulle op die hoogte te hou.
  • Die ligging moet omstreeks 16:00 aan die plaaslike spanleier/sprinkaanbeampte deurgegee word om die spanne na die gebied te mobiliseer.
  • Omstreeks 18:00 tot 19:30, wanneer die sprinkane vir die nag gaan lê, moet die GPS-koördinaat van die finale posisie aan die betrokke beampte oorgedra word. Die span sal dan gedurende die nag of vroeg die volgende oggend spuit terwyl die sprinkane stil is.
  • Waar sprinkane gedurende die nag op die grond gespuit word, word ʼn onttrekkingsperiode van twee weke vir diere aanbeveel.

Boere kan met die volgende spanleiers van die sprinkaanbeheerspan kontak maak om in die betrokke gebiede te help:

– Hennie Grobbelaar – 073 445 5430 – Luckhoff en nabye gebiede

– Joggie du Plessis – 082 926 5660 – Vanderkloof-gebied

– George de Vos – 072 495 4133 – Philippolis en omgewing

– Ronnie Cawood – 082 468 7650 – Ghaap-gebied, Boshof en nabye gebiede

Indien lede van die publiek groot sprinkaanswerms in die Vrystaat gewaar, kan ʼn foto en ligging aan [email protected] gestuur word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Buks ·

Kan mens nie dalk ook probeer om die sprinkane te benut nie hulle is n goeie protein bron en gedroog en gemaal sal hulle wonderlik pas in hoender en vark voer pleks van spuit in die nag kan mens hulle vang. Is daai gif gespuite sprinkane nie giftig vir voëls nie?

Shady ·

Sprinkane gaan hulle nie “hier kiep kiep daar kiep kiep” net laat vang nie. As dit so maklik was sou dit lankal gedoen gewees het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.