TLU SA: Cyril stel ons nie gerus nie

Henry Geldenhuys, president van TLU SA. (Foto: Maroela Media)

TLU SA sê hy voel glad nie gerus oor pres. Cyril Ramaphosa se uitspraak dat die ANC nie ʼn beleid van nasionalisering voorstaan nie.

“Met nasionalisering word alle grond op een slag weggeneem en met onteiening sonder vergoeding – teen ‘n nul-koers – word alle grond stuk-stuk weggeneem van die wettige eienaars.”Hierdie landbou-unie, wat na die belange van kommersiële boere omsien, voorspel dat daar steeds ʼn poging aangewend sal word om alle grond (en ander eiendom)  uiteindelik in staatsbesit te plaas.

Maroela Media het die naweek berig dat Saai, die netwerk vir familieboere, ook aangedui het grondeienaars en veral boere nie deur die president se uitspraak gerusgestel word nie.

Ná sy onlangse presidensiële begroting het Ramaphosa in sy repliek gesê dat die ANC wil hê dat mense in Suid-Afrika grond moet besit en nie die staat nie.

Dié kwessie het vandeesweek na vore gekom nadat die ANC en EFF tydens ʼn sitting van die ad hoc-komitee oor die wysiging van art. 25 van die Grondwet nuwe wysigings voorgestel het. Die voorstelle handel oor die staatsvoogdyskap oor grond, die afsnydatum vir restitusie-eise en die rol van howe oor vergoeding.

“Wat is werklik die verskil tussen nasionalisering en onteiening sonder vergoeding,” vra Henry Geldenhuys, president van TLU SA. “Met nasionalisering word alle grond op een slag weggeneem van die wettige eienaars. Met onteiening sonder vergoeding – teen ʼn nul-koers – word alle grond stuk-stuk weggeneem van die wettige eienaars. Oor vyf of tien jaar gaan daar geen verskil wees in eienaarskap nie.”

Geldenhuys sê verder dat die staat reeds bewys het, met die voogdyskap oor waterbronne, dat hy nie opgewasse is om die taak verantwoordelik te bestuur en te beheer nie. “Dit is duidelik in die besoedelde waterbronne, swak kwaliteit water en die tekortkominge in voorsiening van water vir menslike gebruik. Mense moet nou uit hul eie sak water aankoop sonder enige verligting of bystand van die staat. Dit is verdoemend as die staat verder voogdyskap oor alles wil implementeer.

“Oor dié nuwe wending van voogdyskap moet ernstig besin word,” sê hy. “Kyk na die gevolge van sulke besluite. Die ekonomie taan en beleggersvertroue word geknou. Pas ʼn week gelede het Standard & Poor en Fitch die land se kredietgradering weer op BB-vlak gestel. Hoewel die onveranderd is, is dit beslis nie goed nie.

“Vandeesweek het Statistieke SA berig dat werkloosheid vir die derde agtereenvolgende kwartaal ʼn rekord hoogtepunt bereik het. Dit staan op 43%.

“Die regering versuim om die verpligting van die staat na te kom. Verdere wysigings steel die geleentheid vir groei en inderdaad elke burger in die land se toekoms.”

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Annalize ·

Ek wil net weet hoekom daar nie gekyk word EERSTE na die grond wat die Staat besit nie?

Piet parys ·

Want dis nog net die landbou in die land wat werk en die regering wil dit ook vernietig

absoluut ·

Die meeste daarvan is nie ontwikkel nie, en hulle soek grond wat reeds ontwikkel is

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.