Verwarring oor regulasies vir veilings

‘n Voorbeeld van ‘n veeveiling op die platteland. (Foto: Verskaf)

Agri SA eis duidelikheid oor die regulasies oor veilings in die landboubedryf nadat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand aangekondig het dat Suid-Afrika na ʼn aangepaste vlak 4 van afsondering skuif.

Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, het Maandag in die Staatskoerant aangekondig dat die fisieke bywoning van veilings vir die volgende twee weke verbied word.

Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, sê egter meer duidelikheid oor dié regulasie is uiters belangrik omdat landbou tot ʼn noodsaaklike diens verklaar is.

“Veilings, en veral diereveilings, is die lewensaar van die landboubedryf. Indien hierdie bedrywighede verder onderdruk word, sal daar gevolge vir die bedryf, die verbruiker en die algehele beskikbaarheid van vleisprodukte wees.

“Verder moet opgeklaar word na watter veilings die regering verwys. Word alle veilings, insluitend dié van eiendomme en ander bates, ook beperk?”

Volgens Van der Rheede is die verbod op veilings onprakties en dreig dit om kommersiële en opkomende boere, asook die gemeenskappe wat hulle ondersteun, finansieel op hul knieë te dwing.

Waar moontlik sal veilings in die toekoms aanlyn geskied om aan die deurlopende vraag na vee te voldoen.

“Op afgeleë gebiede is dit egter nie altyd moontlik om veilings aanlyn te doen nie en sal kleiner, opkomende boere die gevolge daarvan moet dra.”

Agri SA het verder sy kommer oor ander regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, te kenne gegee.

“Die ekonomiese gevolge van die inperking op die toerismesektor en soortgelyke bedrywe gaan die ekonomie verder knou. Waar is die hulppakkette om die wyn-, breër alkoholiese, wild-, restaurant- en toerismebedrywe te ondersteun?” vra Van der Rheede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Kopdoek, was jy ooit in jou lewe op n plattelandse veeveiling en weet jy hoe dit werk, my plaaswerkers sal die maand hul lone by jou gaan kry aangesien daar nie n inkomste gegenereer mag word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.