Wêreld se ‘belangrikste bate’ is produserende boere – TLU SA

In Frankryk het boere, nes in Duitsland, groot betogings teen belasting en ‘n dalende inkomste gehou. (Argieffoto: Ed Jones/AFP)

Rye op rye trekkers en ander plaaswerktuie het die afgelope ruk talle paaie in Duitse stede versper met duisende boere in dié land wat hul stem dik maak oor beplande besnoeiings aan landbousubsidies.

TLU SA sê hierdie is niks nuuts nie en oor die laaste paar jaar het boere in Wes-Europa met toenemende vurigheid teen beleide gestry wat volgens hulle doeltreffende boerderypraktyke aan bande lê.

“TLU SA erken die standpunt wat reg oor die wêreld ingeneem word ter ondersteuning van voedselproduserende boere. Elke land het sy eie uitdagings wat baie boere verhinder om volhoubaar te boer,” sê die organisasie.

“In Suid-Afrika ondervind ons ʼn tekort aan elektrisiteit, onderbenutte hawens en verwaarloosde paaie wat dit vir boere moeilik maak om produkte aan verbruikers te lewer. ʼn Ekonomie wat kwyn as gevolg van die regerende party se wanbestuur, maak volhoubare boerdery amper onmoontlik.”

Die organisasie sê regerings wêreldwyd moet besef dat wanneer boere, diegene wat voedsel vir hul burgers produseer, van hul plase verwyder word, die land en al sy mense in gevaar is. Daar is meer as agt miljard mense in die wêreld wat almal afhanklik is van die voedsel wat deur ongeveer 570 miljoen plase produseer word; dit beteken elke plaas moet sowat 140 mense bedien.

In Suid-Afrika is die syfer omtrent tien keer hoër, sê TLU SA; hier voorsien elke kommersiële boer kos vir meer as 1 400 mense.

“Die wêreld se belangrikste bate is sy produserende boere.

“Dit is tyd dat almal, veral regerings, verstaan dat sonder suksesvolle boere daar geen kos, geen ekonomiese groei, en geen toekoms is nie. Volhoubare produksiepraktyke en deurlopende navorsing is onontbeerlik vir die toekoms van boerdery.

“Vandag bring ons dank aan elke individu en organisasie wat boere ondersteun en bemagtig. Dankie dat julle opstaan vir die mense wat seker maak dat daar kos vir ons gesinne is. TLU SA stap al 127 jaar hierdie pad en sal voortgaan op hierdie reis.

“Laat ons hande vat om die toekoms van landbou oor die wêreld heen te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.