Avokado’s, mango’s in hande van beïnvloeders

Daar word hard agter die skerms gewerk om subtropiese vrugte soos avokado’s te bemark en bevorder. (Foto: Youtube)

Dit kan dalk teenintuïtief voel om landboukommoditeite soos vrugte en groente soos enige ander handelsmerk te bemark en te bevorder. Dit is tog vanselfsprekend dat verbruikers dit sal koop. Of nie?

Glynnis Branthwaite, strategiese kommunikasiekonsultant by Protactic, het egter navorsing hieroor gedoen en sê dit werk lankal nie meer so nie. Tydens Subtrop se onlangse bemarkingsimposium in Nelspruit het sy vir vrugteboere gesê die strategiese bemarking van vrugte as generiese produkte kan ʼn verskil maak en dit is baie belangrik om kopers se aandag deurlopend daarop te fokus.

“Navorsing wys dat verbruikers in die ou dae eenvoudig avokado’s in hul mandjies gesit het, maar deesdae reageer hulle meer op bemarking.”

 

Interessante geregte en resepte op sosiale media begeester verbruikers om meer varsprodukte te verbruik. (Foto: Youtube)

 

Sy sê daar is nie regtig enige verskil in die bemarkingstrategie van ʼn kommoditeit, soos ʼn vars produk en ʼn vervaardigde produk met ʼn gevestigde handelsmerk, nie. ʼn Bepaalde gevestigde handelsmerk sal wel aansienlik meer gespesialiseerde advertensies benodig.

Die generiese bevordering van ʼn vrug of groentesoort sal oor die algemeen meer gratis dekking op verskeie mediaplatforms moet geniet.

“Wanneer ons ʼn bemarkingstrategie ontwikkel, kyk ons na die makro- en mikro-ekonomie. Daar is gereeld nuwe neigings en wendings wat kop uitsteek en tydens moeilike ekonomiese tye is die mark geneig om op sekere vrugte soos mango’s, avokado’s en lietsjies te sny. Dit forseer die bedryf om deurlopend marknavorsing te doen en ʼn padkaart te skep om nooit van stryk gebring te word nie en om tydens moeilike tye steeds die wiel aan die rol te hou.

“Ons tegnieke moet ook deurlopend getoets word en die evaluasie daarvan is baie belangrik.

Fopnuus

Sy sê kommunikasie speel ook ʼn groot rol en die gesprekke met opinieleiers en dieetkundiges moet aan die gang gehou word.

“Verbruikers moet ook deurlopend opgevoed word, want dit gebeur baie maklik dat waninligting of fopnuus sy kop uitsteek en dit moet so gou moontlik in die kiem gesmoor word en deurlopend bekamp word.”

Branthwaite het vir Maroela Media gesê haar span moes al bontstaan om verkeerde persepsies te beveg. “Suid-Afrikaners het die wanpersepsie gehad dat ʼn avokado met ʼn donker skil oorryp was, of om die navorsing aan te haal: ‘Daardie avokado’s is vrot!’ Daar was baie kommunikasie oor hierdie mite, waar die boodskap uitgedra is dat groen en donker skille ewe lekker en voedsaam is.

“Navorsing toon dat Suid-Afrikaners nou gemaklik is met avokado’s met donker sowel as groen skille, so dit het gewerk om hierdie mite uit die weg te ruim,” sê sy.

 

Glynnis Branthwaite, eienaar en strategiese kommunikasiekonsultant by Protactic sê die bemarking van subtropiese vrugte raak baie gespesialiseerd. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Beïnvloeders moet help

Branthwaite sê die medialandskap het dramaties verander. Tydens Covid-19 is die TV weer afgestof toe almal in hul huise teruggedwing is, maar nou is dit die beïnvloeders op Facebook, X (voorheen Twitter), YouTube, Instagram en TikTok wat die pas aangee.

“Beïnvloeders werk al vir ʼn hele paar jaar goed, want die jonger geslag is voor hul fone vasgenael; daarom moet ons in dié digitale ruimte wees. Hierdie volgende geslag verbruikers se aandagspan is kort, daarom moet die inhoud kort en kragtig wees. Dit is waar kosmaakvideo’s so doeltreffend is, want dit vind aanklank by jongmense.

“Beïnvloeders kan tendense vinnig raaksien en dit is interessant om te sien hoe hulle oor avokado’s en mango’s praat. Dit werk ook baie beter as passiewe media soos gedrukte media, want die terugvoer en resultate wat ons kry is vinnig.”

Om hierdie beïnvloeders in te span, sal daar aanlyn na geskikte kandidate gesoek word, wat onder andere die bepaalde vrugte in hul plasings gebruik, wat aandui dat hulle dit geniet om met dié vrugte te eksperimenteer en natuurlik ook om dit te eet.

“Ons kyk ook na hul getal volgelinge en betrokkenheid of interaksie op hul sosialemediaplatforms. Ons nader hulle dan om ʼn vergelyk te tref en voorsien hulle dan van sleutelboodskappe wat ons by die inhoud wil insluit. Hulle kan dan hul gunsteling‑ maklike resep kies wat daardie bepaalde vrug bevat.”

Indien enige gesondheidsinligting deur die beïnvloeder gebruik word, sal dit deur ʼn geregistreerde dieetkundige nagegaan word, weens die departement van gesondheid se regulasies.

Verskillende ouderdomsgroepe gebruik verskillende sosialemediaplatforms, byvoorbeeld TikTok-gebruikers is jonger, Facebook sʼn is ouer en daarom word ʼn kombinasie van platforms gebruik.

“Dit sal egter wonderlik wees om ʼn bekende te kry wat daardie spesifieke vrugte eet en dit plaas,” sê Branthwaite.

 

Beïnvloeders gebruik vindingryke idees om varsprodukte op sosiale media te bevorder. (Foto: Youtube)

 

Vindingryke metodes

Verbruikers hou nie daarvan as hul gunstelingvrugte nie altyd op die rakke is nie en mango’s skep veral ʼn probleem, want hierdie vrug dra tydens ʼn kort piekseisoen, gevolg deur ʼn lang tydperk van onbeskikbaarheid. “Boonop val die piekseisoen op die verkeerdste tyd van die jaar, wanneer almal weg is met vakansie en platsak terugkom. Ons maak dus seker dat ons oor Desember baie aktief op sosiale media is, soos om resepte te plaas sodat verbruikers op vakansie hulself met heerlike mango-geregte kan trakteer,” sê Branthwaite.

“Ons moet ook kleinhandelaars identifiseer en aanmoedig om avokado’s sonder onderbrekings in voorraad te hou en restaurante aanmoedig om avokado’s op hulle pizza of op pasta te sit en te laat besef dat dit gesond is en waarde is wat toegevoeg word.”

Sy sê kosprogramme op die televisie moet ook aangespoor word om avokado’s as belangrike bestanddele en elemente te gebruik.

Gedrukte media steeds belangrik

Branthwaite sê dit is ʼn ope vraag of gedrukte media in die toekoms steeds ʼn geskikte platform vir die bevordering van groente en vrugte sal wees.

“Daar is baie doemprofete wat voorspel dat gedrukte media besig is om uit te sterf en hoewel die sirkulasie van gedrukte media beslis afneem, het die onlangse Ask Afrika-navorsingsopname getoon dat 19% van Suid-Afrikaners gereeld tydskrifte lees, 15% gereeld plaaslike gemeenskapskoerante lees en 13% nasionale koerante lees.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.