Ontmoet ons wynboere: Erika Obermeyer: ʼn Edel wyn vang ʼn storie vas

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Erika Obermeyer besit nie ʼn wynplaas nie, maar sy het die gaping raakgesien om uitsoekdruiwe van ʼn paar strategies geleë wingerde reg oor die Kaapse wynlande aan te koop om self wyn te maak. Haar wyn is dus nie aan een wynplaas gebind nie en vang die terrior van ʼn verskeidenheid streke vas.

Erika het daarin geslaag om sonder ʼn wynplaas ʼn vooraanstaande wynmaker te word deur haar druiwe noukeurig te kies. (Foto: Facebook)

“Ek het my eerste druiwe in die Helderberg, Stellenbosch-streek aangekoop, waar ek steeds die meeste van my druiwe kry. Dié druiwe lewer ʼn besonderse cabernet sauvignon en koel klimaat syrah. Voor-Paardeberg, ʼn klein wynstreek 16 km noord van die Paarl, het ʼn warm, droë klimaat, ideaal vir die produksie van top gehalte shiraz en grenache noir. Die mistige en koel oggende en warmer dagtemperature in Groenkloof, Darling langs die weskus maak die rypwordtyd langer en vorm druiwe met komplekse vrugtegeure vir my sauvignon blanc. Agter-Paarl by Wellington is ʼn vrugbare streek met warm en droë somers en kouer, natter winters wat ideaal is vir die produksie van cinsault-druiwe,” sê sy.

Die meeste van haar druiwe koop Erika uit die Stellenbosch-streek aan. (Foto: Facebook)

Erika het op ʼn skaapplaas in die Sutherland-distrik groot geword en sy het van kindsbeen af ʼn besondere liefde vir die natuur ontwikkel. Sy wou aanvanklik medies studeer, maar toe sy in Stellenbosch aankom, het sy besef dat die wynbedryf haar voorland is. Sy het op wynnavorsing gefokus en in 1998 met ʼn honeurs BSc in wynbiotegnologie afstudeer. Die jaar daarna is sy as assistent-wynmaker by Kleine Zalze in Stellenbosch aangestel. In 2005 het sy by Graham Beck in Franschhoek begin werk en die jaar daarna keldermeester van hierdie wêreldklas wynplaas geword.

In 2016 het haar lewe dramaties verander toe sy ʼn groot deel van haar visie en ook haar werk verloor het as gevolg van Graham Beck se besluit om eksklusief op Cap Classique-produksie te fokus en hul stilwynproduksie te staak. In hierdie baie onseker tyd met menige uitdagings het sy juis dit omarm wat sy ken en waarvoor sy lief was – wynmakery. “Ek het net my oë toegemaak en ʼn geloofsprong geneem en my veilige hawe tussen die wingerde gevind,” sê sy. Ek het ʼn droom gehad om die siel van ʼn streek en die essensie van hierdie topgehalte wingerde in ʼn glas vas te vang.”

Sy het ʼn boetiekwynmakery met Erika O, ʼn klein handelsmerk, ontwikkel om klein hoeveelhede spesialiswyn te maak. “Dit was ʼn groot uitdaging. Vir enige mens om ‘n eie handelsmerk te skep het jy ‘n hartstogtelike passie en buitengewone visie nodig. Dit is ‘n oefening in moed, vasberadenheid, kreatiwiteit en geduld – ‘n ware liefdesopoffering!”

Erika verkry net die beste druiwe vir haar boetiekwyne. (Foto: Facebook)

Die bekendstelling van ‘n handelsmerk en wyn sonder geskiedenis, ‘n landgoed of erfenis bied ‘n unieke uitdaging, “maar dit bied die geleentheid om die wyn se siel, die magiese oorsprong daarvan en die filosofie te verken wat al die elemente van goeie wynmaak bymekaarbring. Tydsberekening is alles. Volharding is die sleutel. Daarom is ek baie opgewonde om mense uit te nooi om Erika O se wyne saam met my te ervaar.”

Vandag glo sy dat die natuur met iemand “praat” wat passievol en verbind is tot hul taak. “Ek glo dat my verskafferboere eerste kom en lang en stewige verhoudings verdien, maar ek is baie streng met die sluit van elke kontrak en dit maak baie saak hoe ek my tot my sake verbind.”

Erika het reeds ʼn rits toekennings vir die vrug van haar harde werk ontvang. Die Platter’s Wine Guide het haar as nuweling wynmaker van die jaar vir 2019 aangewys en vyf sterre (95 punte) is vir haar eerste oesjaar Cabernet Sauvignon 2015 en haar Syrah Grenache Noir Cinsault 2016 toegeken. Sy het ook 4½ sterre (94 punte) vir haar Sauvignon Blanc 2017 ontvang.

Tydens die Platter’s Wine Guide 2020-geleentheid het sy twee vyf sterre ontvang vir haar Cabernet Sauvignon 2017, Syrah Grenache Noir Cinsault 2018 in die opvolgoesjaar-kategorie en die rooi versnit van die jaar toekenning vir haar Syrah Grenache Noir Cinsault 2018.

Erika Obermeyer stel vier wyne op www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za bekend, ʼn Flabbergast Cinsault 2018, ʼn Syrah 2017, ʼn Meticulous Sauvignon Blanc 2017 en ʼn Syrah Grenache Noir Cinsault 2016.

Erika stel vier wyne op diewynboer.co.za bekend. (Foto: diewynboer.co.za)

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die afsonderingstyd. Hulle sit met oorskot wyn, oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za / www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hulle huise wyn kan bestel.

Kyk na die video met ʼn onderhoud met Erika Obermeyer van Erika O-wyne:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kerneels ·

Spelfout in opskrif van artikel: …wyNboere…

Maak maar net stilletjies reg ;)

Megan Swart ·

Dagsê Kerneels
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.