Het graansilo’s ʼn toekoms?

Graansilo’s op die platteland staan voor ernstige uitdagings. (Foto: Du Preez de Villiers)

Suid-Afrika moet die sakemodel wat silo’s betref, herbedink. Dit is die gevolgtrekking waartoe paneellede tydens ʼn gesprek op Agbiz se graansimposium gekom het.

Suid-Afrika het oor die jare ʼn voorloper in die wêreld geword in die ontwerp van silo’s, met afmetings wat die mees ekonomies is.  Vandag word plattelandse dorpe gekenmerk deur die rye betonsilo’s, wat eerste opgemerk word soos jy naderkom.

Silo’s skep egter baie uitdagings en tydens ʼn graansimposium wat onlangs deur Agbiz aangebied is, is die volhoubaarheid van silo’s en die berging van graan in ʼn paneelgesprek bespreek.

Duur manier van berging

Die tekort aan graansakke in die laat 1940’s en die hoë hanteringskoste van veral koring- en mieliesakke het die Suid-Afrikaanse regering genoop om massahanteringsopsies te ondersoek en gevolglik is daar in die vroeë 1950’s begin om silo’s in die graanstreke te bou.

Langtermynlenings is aan die destydse koöperasies, graanhandelaars en meulenaars toegestaan en verder kon enige private persoon en maatskappy vir permitte aansoek doen om tot die bedryf toe te tree.

ʼn Silo is nie ʼn goeie belegging nie, want die onderhoud is hoog en die inkomste wat daaruit gegenereer kan word, min. Die regering en die destydse Mielieraad moes dus silo-agente help waar hulle kon en regulasies promulgeer om te sorg dat die berging van graan, wat noodsaaklik is, volgehou kon word.

Met die wegval van die Mielieraad in 1996 en die oopstelling van die Suid-Afrikaanse mieliemark aan die wêreld, is silo’s met 20 miljoen ton se bergingsruimte gebou en vandag staan dit op 30 miljoen ton. Dié bates is heeltemal aan die koöperasies oorgedra, wat dit in stand hou en bergingskoste verhaal wat bereken word volgens die produksieprysindeks (PPI). Hierdie regulering plaas egter ʼn demper op die winsgewendheid daarvan, want silo’s met ʼn laer deurset maak nie dieselfde wins as silo’s in besige gebiede nie.

Vir die verskillende maatskappye wat silo’s besit om saam te kom en volgens hul prysstrukture tariewe vas te stel, gaan nie die mededingingskommissie se goedkeuring wegdra nie.

Oor die laaste paar jaar het die oprigting van hierdie silo’s dus drasties afgeneem weens verskeie bykomende faktore. Die ineenstorting van spoorvervoer maak berging en hantering duurder, omdat silo’s tradisioneel ontwerp is dat die graan deur trokke afgelaai word en deur treine, wat aansienlik goedkoper is, weggevoer word.

Weens die verandering in klimaatspatrone het mielieproduksie van die weste na die ooste van die land verskuif, met een miljoen hektaar wat uit produksie gegaan het. Dit het die gevolg dat baie silo’s op die verkeerde plekke staan. Daarbenewens het roetes na die hawens ook verander.

Die koste van versekering vir hierdie duur produkte wat in massas opgestapel word, is ook baie duur.

Ten spyte van al hierdie uitdagings, is die koste van graanberging in Suid-Afrika tussen 4% en 6% van die kommoditeitsprys, terwyl die wêreldgemiddeld 10% is.

Bergingskapasiteit nie voldoende

Hoewel Suid-Afrikaanse boere verlede jaar 22 miljoen ton se graan aan silo’s gelewer het, is die 30 miljoen ton se bergingskapasiteit nie genoeg nie, want die verskeidenheid graderings moet in verskillende silo’s geberg word met die gevolg dat silo’s nie almal gevul kan word nie. Langtermynberging tesame met die oorgang van die wintergraan- na die somergraanoesseisoen skep ook probleme.

Die gevolglike vakuum wat ontstaan het, is deur ondernemings gevul wat goedkoper bergingsdienste deur semi-permanente strukture soos bunkers en silosakke verskaf. Hulle is baie mededingend.

Boere het ook begin om sinksilo’s op hul plase op te rig, as buffer teen die opeenhoping van trokke voor die koöperasiesilo’s tydens die kritieke oesseisoen. Om jou eie silo’s te besit verminder ook risiko’s en vergemaklik graanverhandeling op die beurse en die lewering daarvan is eenvoudiger.

Vandag word een derde van graan in semi-permanente, of tydelike strukture soos bunkers en silosakke, geberg. Hierdie strukture is egter nie geskik vir berging oor langer termyn nie, want die gehalte van die graan neem baie vinniger af as in permanente strukture soos betonsilo’s, wat ook meer geskik is vir voedselgraadgraan en die voorskrifte van die oorsese mark.

Permanente strukture sal dus altyd ʼn belangrike rol in Suid-Afrika se voedselstelsels speel.

Tydens die gesprek is daar tot die slotsom gekom dat die sakemodel wat silo’s betref, herbedink moet word. Die JSE is ook gevra om met oplossings vorendag te kom.

Georganiseerde landbou moet ook druk op die regering plaas om die bedryf meer te dereguleer en regulasies opnuut te deurdink en verfyn, sodat die vryemark sy ding kan doen, maar omdat voedselsekerheid swaar weeg teen vryemarkbeginsels, moet daar baie versigtigheid aan die dag gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Jy kon die welvaart van ‘n area sien aan die aantal graansilo’ s wat soos reuse bo die dorp uit troon.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.