Veldbrande en vee: UP gee raad

Daar is min rampe wat so ‘n verwoestende uitwerking op veeplase het soos veldbrande. (Argieffoto)

Veldbrande in Suid-Afrika sal volgens plaaslike navorsing in die volgende drie dekades toeneem.

Brande put boere emosioneel en finansieel uit; hulle ondervind groot verliese wat insluit voer, fasiliteite, vee en prestasie van oorlewende vee wat aan rook blootgestel is.

Só sê twee akademici aan die Departement Produksiediernavorsing aan die Universiteit van Pretoria se Fakulteit Veeartsenykunde – dr. Claudia Cardoso, lektor in herkouergesondheid en -produksie en prof. Rhoda Leask, hoogleraar in herkouergesondheid en -produksie.

Daar moet verskeie faktore in ag geneem word wanneer diere wat deur brande geraak word behandel word. Dit sluit in die erns van die brandwond(e) en die kliniese prognose daarvan; beskikbaarheid van opgeleide personeel; voldoende skuiling, voer en water; koste van behandeling en die dier se toekomstige prestasie weens rookblootstelling.

Meer as net veloppervlakte

Brandwonde op lewende weefsel vorm die mees algemene letsels wat by vee wat slagoffers van veldbrande is, waargeneem word. Hierdie letsels ontstaan weens die regstreekse kontak met vlamme, of weens hittebestraling van die vlamme. Behandeling van dié wonde is moeilik weens die tipe sorg en hulpbronne wat benodig word, die koste daaraan verbonde en die genesingstydperk.

Ernstige verliese aan vloeistof en elektroliete lei tot skok by diere met dieper (tweedegraadse) brandwonde wat meer as 15% van die totale liggaamsoppervlakte (TLO) bedek en/of meer as 5% veldiepte (derdegraadse) brandwonde. Daarom is intraveneuse vloeistofterapie (resussitasie) in hierdie gevalle nodig om dié diere te red.

Boonop kan rookinaseming die asemhalingstelsel ernstig aantas en die erns van die brandbesering verhoog, hoewel dit moontlik nie in die eerste sewe tot tien dae geïdentifiseer kan word nie.

 

Daar moet mooi besin word oor wat met vee moet gebeur wat deur ‘n veldbrand geraak is. (Foto: Twitter)

 

Toekenning van prioriteite

Tydens veldbrande is die eerste uitdaging om toegang tot die geraakte gebied te kry en dan moet hulpbronne gevind word om diere na ʼn veiliger ligging te verskuif. Die eerste benadering in so ʼn situasie sal dus wees om diere te identifiseer wat geskuif moet word om onmiddellik versorg te word en dié wat dadelik van kant gemaak moet word. In hierdie stadium sal beseerde diere hoofsaaklik geëvalueer word op grond van hulle vermoë om  op te staan en of hulle by hul positiewe is.

Daar is gerapporteer dat bewustelose skape binne die eerste 24 uur ʼn swak prognose het, veral as dit saamval met ernstige brandwonde op die voorpote en aansienlike swelling op die kop. Oor die algemeen sal gebrande diere wat nie kan opstaan en beweeg nie, nie oorleef nie en moet hulle dus van kant gemaak word.

Dit is belangrik om in gedagte te hou dat behandeling in die meeste gevalle afhang van die veeartsenykundige hulpbronne wat beskikbaar is. Dit beteken dat diere wat op behandeling sal reageer eerste geïdentifiseer moet word. Daarna kan ʼn meer gedetailleerde behandelingsplan volgens die diere se vordering gemaak word.

Kliniese tekens in sekondêre ondersoek

In die tweede fase word diere wat moontlik by behandeling sou baat fisiek ondersoek. Sommige sal in brandskok wees, of binneaarse vloeistof benodig of ʼn aangetaste asemhalingstelsel hê, hoewel dit tot twee weke kan neem om te identifiseer. Boere moet veeartsenykundige raad inwin oor behandeling, sodat kostedoeltreffende besluite geneem kan word.

Omvang en diepte van sigbare letsels

Wanneer die letsels van brandwonde geëvalueer word, is dit belangrik om die omvang, oppervlak en diepte van die wond te bepaal, wat ʼn aanduiding sal gee van die erns van die besering en sal help om die prognose te bepaal.

Die volgende liggaamsdele is as persentasies van die totale liggaamsoppervlak gedefinieer: kop 7%, rug 7%, linkersywand plus linkerbuikwand 24%, regtersywand plus regterbuikwand 24%, uier 4%, ventrale toraks en buik 7%, elke voorpoot 4% (8%), elke agterpoot 6% (12%), perineale area 6% en stert 1%.

ʼn Dier se oorlewingsvermoë sal verband hou met die persentasie van sy liggaam wat aangetas is en sal afneem namate die wond se intensiteit toeneem:

  • Met 10% tot 20% van die totale liggaamsoppervlakte, gepaard met tweedegraadse brandwonde is daar ʼn 100% kans vir oorlewing, hoewel hierdie diere basiese vloeistofterapie sal benodig.
  • Met 20% tot 50% TLO gepaard met tweedegraadse brandwonde is daar ongeveer 87% kans vir oorlewing met intensiewe sorg wat aggressiewe vloeistofterapie sal insluit, die wond skoon gehou word met daaglikse verpleging en pynverligting.
  • Met 50% tot 70% TLO gepaard met tweede- en derdegraadse brandwonde is daar ʼn 27% kans vir oorlewing onder spesialis sorg.

In alle gevalle neem oorlewingsvermoë aansienlik af met rookinaseming en wonde op kritieke plekke.

Ligging van brandwonde

Brandbeserings word algemeen in die gesig, ore, mond en onderlyf (ledemate, pote en uier) by herkouers aangetref. Skape wat nie geskeer is nie se wol sal hul vel beskerm, maar kaal areas sal ten volle blootgestel word.

Voer en water moet binne bereik geplaas word en spesiale sagte beddegoed aan diere verskaf word wat wonde op ledemate het wat beweging belemmer, soos aangetaste kloue. Dit kan ook uiteindelik bewegingsbeperkend vir die dier wees weens die littekens wat gevorm is sodra dit genees het.

Diere wat meer as een klou verloor het moet uitgesit word, aangesien dit pynlik is en geneig is om vlieë te lok en/of tot sekondêre infeksies kan lei. Gevolglik is skade aan die pote ʼn belangrike aanduiding van die oorlewingsvermoë by skape.

Daar is egter bevind dat verbrande bene in kritieke dele wat nie swelling toon nie, binne ongeveer 30 dae met toepaslike sorg genees.

 

Vee wat deur ‘n veldbrand geraak is, moet deeglik ondersoek word om te bepaal of hulle gered moet word. (Foto: Maroela Media)

 

Liggaamsgewig is ook ʼn aanduiding van oorlewing. Endoparasietbeheer by gebrande skape onder behandeling is belangrik, aangesien dit ʼn bykomende komplikasie kan veroorsaak weens immuunonderdrukking. Beheermaatreëls vir hierdie kwale moet altyd in die behandelingsplan oorweeg word.

Brandwonde aan beeste se hoewe is ernstiger as by skape. Beeste sal onder hierdie omstandighede nie beweeg om te vreet nie, dus sal die verpleging van beseerde beeste ʼn duur en lang proses wees. Wanneer die dier se ledemate ernstig aangetas is en/of geen verbetering ten spyte van behandeling toon nie, tesame met ʼn verslegtende liggaamstoestand is uitskot die enigste opsie.

Verbrande uiers moet ook spesiale aandag geniet, aangesien dit belangrik kan wees vir toekomstige prestasie.

In vergelyking met verse, genees brandwonde op volwasse melkkoeie se spene vinniger, meer bevredigend, met minder vervorming en die dier kan vinniger weer normaal lakteer. Genesingstyd vir uitgebreide, oppervlakkige brandwonde by volwasse koeie is ongeveer vier maande en het gewoonlik ʼn goeie prognose, hoewel dit pynbestuur benodig.

Wanneer die daaropvolgende laktasie binne drie maande of minder is, (veral by verse) het tweedegraadse brandwonde ʼn swakker prognose. Spene wat vervorm en obstruksie van die speenkanaal is aangemeld as ʼn komplikasie by jong diere, wat prognose swakker maak. Topikale behandeling met versagmiddels en antibiotika word voorgestaan en sistemiese antibiotika word slegs gebruik in die geval van komplikasies soos mastitis.

Noodhulp

Sodra besluit is om die dier te behandel, sal die eerste stap wees om die vordering van die brandwond te stop deur koue, lopende water (nie verkoel nie) vir ongeveer tien tot 15 minute toe te dien. Dit sal die temperatuur van die weefsel verlaag en ook die vergroting van die letsel stop. As dit vereis word, moet ʼn gekwalifiseerde persoon intussen vloeistofterapie, pyn en anti-inflammatoriese behandeling binneaars toedien, sowel as sistemiese antibiotika indien nodig. Gevalle van respiratoriese aantasting moet ʼn veearts besluit oor die beste benadering.

Nadat die brandwonde afgekoel en saggies skoongemaak is, moet ʼn ruim hoeveelheid topikale verkoelingsgel en aloe vera-antibiotikaroom aangewend word en/of plaaslike verdowing toegedien word. Bedek dit dan met nylonvlies om besmetting te vermy, totdat die dier deur ʼn veearts geëvalueer kan word.

Dit is onvermydelik dat brande wêreldwyd meer gereeld sal voorkom en daarom is paraatheid in rampbestuur nodig om verliese te beperk. ʼn Transdissiplinêre span opgeleides moet dan help om die geaffekteerde gemeenskap in die herstelproses by te staan.

Volg die skakel om ʼn behoeftebepaling vir brandbehandeling vir die Universiteit van Pretoria voor 26 Julie 2023 te voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.