Verstaan die staatsoliefondsheffing

  • (Argieffoto: pixabay)

    Deur Christiaan Vercueil

Die staatsoliefondsheffing (slate levy) weeg vandag swaar op brandstofpryse, so kom ons gaan kyk hoe die vurk in die hef steek.

Die heel eerste heffing op Suid‑Afrikaanse brandstof, die algemene brandstofheffing, is in April 1983 ingestel op die rug van die Doeane‑ en Aksynswet, No.91 van 1964. Vandag is daar nege heffings van toepassing op brandstof, elkeen met ʼn spesifieke doel.

Sedert Januarie 2020 het dieselpryse al 42

bewegings agter die rug en van hierdie 42 bewegings was 17 afwaarts en 25 opwaarts. Die groothandelprys het vanaf Januarie 2020 tot Junie 2023 met 32% toegeneem, van R14,62/ℓ tot R19,31/ℓ. Die verskil tussen Mei 2020 en November 2022 (die laagste en die hoogste punte in hierdie tydperk) toon ʼn toename van 130%, van R11,09/ℓ tot R25,49/ℓ.

 

Grafiek 1: Groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys. (Verskaf)

 

In grafiek 1 kan duidelik gesien word dat daar ʼn sterk verband tussen die groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys is en dat die dieselprys wel in verhouding met die olieprys se beweging aangepas word. Hierdie groot prysstyging, soos voorheen genoem, word ook duidelik in die grafiek uitgebeeld. Hoewel die diesel- en olieprys ʼn baie sterk verband toon, is daar ʼn klomp faktore wat ʼn rol in die prysbepaling speel. Een daarvan is die wisselkoers wat ʼn enorme uitwerking het.

 

Grafiek 2: Persentasieverandering van die olie- en dieselprys op ʼn maandelikse basis. (Verskaf)

 

Grafiek 2 toon die verhouding in beweging tussen die groothandeldieselprys en die gemiddelde olieprys op ʼn maandelikse basis. Dit is duidelik dat die olieprys groter en meer wisselvallige bewegings maak, en derhalwe word die dieselprys aangepas op ʼn meer gematigde wyse om oor- en onderverhaling in ewewig te probeer bring.

Staatsoliefondsheffing (ook bekend as die ‘slate levy’)

Die staatsoliefondsheffing is anders as al die ander heffings wat op brandstof geplaas word, maar daar is een verskil. Die inkomste uit daardie heffing word nie deur die staat ingepalm nie; dit word gebruik as vergoeding vir brandstofmaatskappye.

Die rede vir die bestaan van hierdie heffing is weens die manier waarop Suid-Afrika se basiese brandstofprys bepaal word. Die plaaslike brandstofprys word bepaal deur wat die koste sou beloop om geraffineerde brandstof van die buiteland af in te voer. Elke maand se plaaslike pryse is aan die vorige maand se invoerkoste gekoppel, dus betaal verbruikers eintlik die vorige maand se werklike prys. Die prys word vir ʼn volle maand bepaal en nie daagliks soos pryse verander nie.

 

Christiaan Vercueil is ʼn ekonoom by Graan SA. (Foto: LinkedIn)

 

Hoewel die basiese brandstofprys maandeliks aangepas word, ontstaan daar steeds klein ongelykhede wat veroorsaak word deur die gemiddelde prys vir die maand en die datums waarop brandstofmaatskappye transaksies doen. Byvoorbeeld, indien die kleinhandelprys vir diesel R25/ℓ vir die eerste helfte van die maand is en R27/ℓ is vir die tweede helfte, is die gemiddeld R26/ℓ vir die maand. Veronderstel ʼn brandstofmaatskappy doen al sy transaksies in die eerste helfte van die maand, is sy eintlike prys R25/ℓ en nie die gemiddeld van R26/ℓ nie. Dus het die maatskappy ʼn agterstand van R1/ℓ wat uit die staatsoliefondsheffing verhaal moet word. Die slate levy is dus meer soos ʼn gelykmaakfonds.

Indien die maatskappy oorverhaal het deur slegs in die tweede helfte van die maand teen R27/ℓ al sy sake te gedoen het, word die fondse wat aan die verbruiker “geskuld” word, saamgepoel vir wanneer die verbruikers weer die maatskappye skuld. Die oomblik as hierdie poel droogloop, word die staatsoliefondsheffing ingestel, met ander woorde to wipe the slate clean.

(Joubert, 2012)

Samevatting:

 

Grafiek 3: Verdeling van die brandstofprys. (Verskaf)

 

Die brandstofprys bestaan dus soos in grafiek 3 uitgelê. Vir meer inligting oor presies hoe die groothandeldieselprys bepaal word, sien gerus die SA Graan tydskrif, April 2022-uitgawe, bladsy 58.

Die staatsoliefondsheffing is nie deur die staat ingestel vir sy eie sak nie, maar is ingestel om die brandstofmaatskappye wat die koste van brandstof-invoere vir ʼn maand vooruit dra, te vergoed.

  • Christiaan Vercueil is ʼn ekonoom by Graan SA.

Erkenning:

Bibliografie:

Joubert, P. (2012). What is the slate levy? Retrieved from Solidariteit: https://solidariteit.co.za/what-is-the-slate-levy/amp/

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.