Dít is hoekom mense fopnuus versprei

Argieffoto (Foto: memyselfaneye/Pixabay)

Die verspreiding van fopnuus word algemeen as ontwrigtend en potensieel skadelik beskou.

Kiara Sunder, ʼn kliniese sielkundige wat by Netcare Akeso Umhlanga praktiseer, beklemtoon dat baie individue naïef is en dat hulle onwetend fopnuus versprei.

“Daar is ook diegene wat dit doelbewus doen om onderliggende sosiale behoeftes of politieke agendas te bevredig. Motiewe vir die verspreiding van disinformasie is veelvlakkig en kan baie ingewikkeld wees om te ontmasker,” sê sy.

Misplaaste vertroue

Sunder wys daarop dat nuus in die verlede in gedrukte media verskyn het of op uitsaaiplatforms deur amptelike nuuskanale versprei is. Die publiek het vertrou dat hierdie bronne se inhoud ondersoek en geverifieer is.

Maar nou, in ʼn relatief kort tydjie, het dit die norm vir mense geword om nuus op sosialemediaplatforms en kommunikasie-apps van verskillende, dikwels nie-amptelike bronne, te lees.

“Die internet het vir almal ʼn stem gegee. Hoewel dit bepaalde voordele inhou, beteken dit ook dat ongekontroleerde inligting gedeel word,” meen Sunder.

Digitale ongeletterdheid is kommerwekkend en kom veral onder ouer generasies voor. Jonger mense wat met tegnologie grootgeword het, het ʼn kognitiewe raamwerk vir die organisering van inligting en beskik oor hoë digitale geletterdheidsvaardighede. Dit gee hulle ʼn sekere vlak van ingeboude begrip om te kan bepaal watter aanlyn inhoud eg is en wat onjuis is.

“Daar is baie internetgebruikers wat verkeerdelik glo dat alles wat aanlyn gepubliseer word, waar moet wees. Dieselfde geld vir inligting wat in ʼn SMS of stemboodskap deur ʼn vertroude kontak ontvang word,” sê sy.

Motiewe vir fopnuusverspreiding

Sunder voer aan dat daar ʼn wye spektrum faktore is wat mense dryf om verkeerde inligting te skep en te deel.

“Sommige van hierdie faktore is minder voor die hand liggend, en hoewel dit veelvlakkig is, is daar ʼn paar duidelike sielkundige motiverings wat in ag geneem kan word.”

Die soeke na aansien

Hoewel hierdie gebruikers moontlik nie bewus is van die motiewe agter hulle gedrag nie, soek hulle in werklikheid aansien en selfbevordering, meen Sunder. Dit dui daarop dat daar in die werklikheid nie aan sekere emosionele behoeftes voldoen word nie.

Sunder sê om relevant te wees en eerste nuusgebeure te deel is twee van die faktore wat hier ʼn rol speel.

“Baie mense voel voortdurend gebombardeer deur boodskappe van vriende en beïnvloeders op sosiale media wat baie suksesvol blyk te wees, en dit kan lei tot gevoelens van ontoereikendheid by diegene wat nie dieselfde tipe inhoud het om aanlyn te deel nie,” verduidelik Sunder.

Ander mense ervaar voortdurend druk om die eerste te wees om enige nuwe inligting, waar of onwaar, te plaas of te deel. Dit kan ook ʼn soort sosiale bevrediging verskaf om gesien te word as ʼn “beskermer” van jou aanlyn gemeenskap.

Uitlaatklep vir angs

Daar is mense wat aan angs en geestesgesondheidstoestande ly, wat sosiale media as ʼn kanaal gebruik om hul eie gevoelens te verwerk, verduidelik Sunder.

Persone wat angs as gevolg van daaglikse nuus en wêreldgebeure ervaar, kan kies om daarvan af te skakel en eerder sosiale media te gebruik. Dit kan egter daartoe lei dat mense by aanvallende en feitelik ongegronde inhoud betrokke raak sonder om dit te besef.

Sommige mense ervaar ʼn gevoel van bevestiging om ʼn plasing of boodskap te deel wat hul eie gevoelens of vrese weerspieël, selfs al is die gedeelde inligting nie noodwendig waar nie.

Bevestigingsvooroordeel

Die behoefte om erkenning te kry, is ook ʼn motiverende faktor onder diegene wat gereeld fopnuus versprei. Veral onder diegene wat alternatiewe sienings of samesweringsteorieë aanhang.

Sunder verwys verder na twee onderliggende faktore: ʼn gebrek aan objektiwiteit en die invloed van algoritmes.

“Wanneer ons iets lees, hoor of kyk wat ons eie oortuigings bevestig, gee dit geloofwaardigheid aan ons sienings en dan kan ons dit as geverifieer aanvaar,” sê Sunder. “Mense wat hulle eie oortuigings bo die geverifieerde, feitelike inligting plaas, is dus baie vatbaar vir die verspreiding van, en dikwels selfs skepping van, misleidende inligting. Die motivering hier is nie kwaadwilligheid nie, maar bloot ʼn gebrek aan objektiwiteit.”

Die invloed van algoritmes, wat in soekenjins en sosialemediaplatforms die inhoud wat ons verbruik opspoor en soortgelyke inhoud aan gebruikers voorstel, speel ook ʼn rol in wat mense lees. Dit bevestig dan ʼn persoon se eie oortuigings en voorkeur, eerder as die feite.

Selfsugtige voornemens

Persone wat doelbewus fopnuus skep en versprei, sal dikwels ʼn politieke of sielkundige agenda hê wat hulle probeer bevorder of dien.

Sunder sê dat hierdie individue moontlik die bedoeling het om skade aan te rig, of dat hulle so eensydig is in hul strewe dat hulle geen agting het vir die skade wat hulle kan veroorsaak nie.

Dit kom op drie motiverings neer: polities gemotiveerd, melodramatiese en narsistiese persoonlikheidseienskappe.

Mense wat polities gemotiveerd is, werk vir ʼn spesifieke saak wat nie die aandag kry wat hulle voel dit verdien nie, of dit is mense wat van plan is om ʼn ander persoon of groep skade aan te doen. Hierdie individue sal fopnuus skep of versprei om sulke doelwitte te bereik.

Iemand met ʼn histrioniese persoonlikheidseienskap (wat aandag en drama verlang), kan ʼn opspraakwekkende stuk inligting skep of deel; soms met baie hoofletters, uitroeptekens of emoji’s wat dit meer dramaties laat lyk.

Narsiste kan inligting deel om belangrik en kundig voor te kom. Persone met narsistiese eienskappe is moontlik selfgesentreerd, het minder empatie en begeer bewondering. Hulle deel moontlik nuus, vals of waar, wat hulle in die kollig plaas, ongeag die gevolge wat dit vir ander kan hê.

Finansiële voordeel

Volgens Sunder is dit algemeen bekend dat misdadigers wat kwesbare mense teiken, misleidende inligting as ʼn hulpmiddel gebruik om hulle teikens te bereik.

Misdadigers versprei nuus oor gesogte geleenthede, byvoorbeeld deur fiktiewe advertensies vir werk of opleiding en ander soortgelyke skelmstreke, waardeur niksvermoedende individue gevra word om ʼn administratiewe of aktiveringsfooi te betaal met die belofte van verdienste of ander finansiële belonings in ruil daarvoor.

Sulke bedrieglike aktiwiteite word dikwels vermom as ʼn uiters wettige advertensie of ʼn ander vorm van kommunikasie, en die persone wat geteiken word, kan onder druk voel deur die dubbelsinnigheid van die situasie. Slegs as hulle nie weet hoe om die gegewens te verifieer nie, kan slagoffers die bedrogspul ten prooi val, wat ernstige finansiële verlies tot gevolg kan hê.

“Of dit nou opsetlik is of nie, sulke gedrag kan aanleiding gee tot aanlyn afknouery, reputasieskade en finansiële verlies sowel as fisieke geweld, om nie te praat van verwarring en ontwrigting nie,” sê Sunder.

Bron: Akeso

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Wie besluit wat “fopnuus” is? Daar is immers ‘n verskil tussen daai stories oor weeskindjies wat jou ma op Facebook deel en goed wat waar is, maar deur die regering en/of die media onderdruk word vir welke rede ookal.

melaney ·

Baie jare gelede was ek by ‘n vergadering in Pretoria waar minstens 250 die vergadering bygewoon het. Ek was laaste by die deur uit na die vergadering. Die volgende dag het ek ‘n totale ander weergawe van die einste vergadering in Die Beeld gelees. Die destydse media het ook maar goed aangejaag.

Hardekwas ·

Een man se fopnuus is n ander man se waarheid, en een man se waarheid is n ander man se fopnuus.

Henning ·

Enige nuus sonder ‘n bronverwysing is fopnuus. Maw, waar kom die inligting vandaan, wie sê so, wanneer het hy of sy so gesê? Wat is die oorsprong van die nuus?

Andre ·

Van die ouer mense glo steeds dat die gedrukte media en tv sendings alles waar is. Selfs van die jonger garde wat internet geletterd is, is soms ook net geletterd met facebook en google se verkondigings. Kyk maar net hoe die leiers en hul segsmense se stories gedurig verander

Marianna ·

Fopnuus is baie keer onderdrukte waarheid. Deesdae moet jy net die eenkant van die storie glo, die storie van die ‘wettige media’ wat horende doof en sienende blind is. Die mensdom word deur ons eie ‘kundiges’ so belieg en bedrieg om tog net deel te wees van die hoofstroom ‘kenners.’ ‘Fopnuus’ word al lankal bewys dat waar ‘n rokie trek brand ‘n vuurtjie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.