Aitsa, aartappels bly darem maar lekker

Hoewel aartappelskyfies en -skille hoog in vet en kalorieë kan wees, is die aartappel self gluten-, vet- en cholesterolvry, asook laag in natrium. Die gesondheidsgeheim lê natuurlik in die gaarmaakmetode. (Foto: iStock)

Aartappels is waarskynlik een van die laaste goed waaraan ’n mens dink as jy jou gewig in toom wil hou, maar hokaai voordat jy dié knolgroente bloot as styselsondebok brandmerk en van jou inkopielys verwyder.

Aartappels, wat reeds in 5 000 v.C. in Suid-Amerika verbou is en eers sowat 500 jaar gelede in die Westerse wêreld sy buiging gemaak het, is vandag die wêreld se vierde grootste voedselgewas. Omdat dit in bykans enige klimaat en toestand kan groei, word dit met goeie rede deur die Verenigde Nasies as voedselsekerheidsoes aanbeveel.

Die syfers

Volgens Statista se data is nagenoeg 360 miljoen metrieke ton aartappels wêreldwyd in 2020 van 17 miljoen hektaar geoes. China is die topprodusent van dié stapelvoedsel. Saam met Indië, wat die tweede posisie beklee, sorg dié twee lande vir bykans ’n derde van die wêreld se totale aartappelproduksie. Oekraïne is in die derde plek.

Volgens Aartappels Suid-Afrika (PSA), verskaf dié bedryf se sowat 570 plaaslike aartappelboere werk aan tussen 50 000 en 60 000 mense en het ons land in 2020 meer as 2,6 miljoen ton aartappels, oftewel 263 miljoen 10 kg-sakkies aartappels, op 51 000 hektaar grond opgelewer.

Hoewel mieliemeel en brood die gewildste bron van stysel onder Suid-Afrikaanse verbruikers is, sê PSA dat aartappelverbruik oor die afgelope dekade verdubbel het. Die prys van aartappels het in 2021 in ’n stadium tot bykans R100 vir 10 kg opgeskiet, maar sedertdien tot om en by die vlak van R40 per 10 kg-sakkie teruggesak.

Gesondheid uit die grond uit

Hoewel aartappelskyfies en -skille hoog in vet en kalorieë kan wees, is die aartappel self gluten-, vet- en cholesterolvry, asook laag in natrium. Die gesondheidsgeheim lê natuurlik in die gaarmaakmetode.

  • Aartappels is propvol vitamiene en minerale. Een ongeskilde aartappel bevat meer as 40% van die vitamien C en ongeveer die helfte van die vitamien B6 wat jy daagliks benodig. Dit is ’n goeie bron van magnesium en folaat, en bevat selfs meer kalium as ’n piesang.
  • Gebakte aartappelskil is ’n goeie bron van kalium en magnesium. Wanneer jy nie genoeg kalium in jou dieet het nie, hou jou liggaam ekstra natrium (sout) terug, en te veel natrium verhoog jou bloeddruk. ’n Kaliumryke dieet kan help om bloeddruk te verlaag, die hart te beskerm en die risiko vir beroerte te verminder.
  • Aartappels is ryk aan antioksidante, soldate wat skadelike stowwe beveg wat jou selle teiken. ’n Dieet wat genoeg vrugte en groente insluit wat ryk aan antioksidante is, verlaag jou risiko vir hartsiektes, diabetes en kanker. Navorsing het getoon dat die antioksidante in aartappels die groei van kankerselle in die lewer en kolon kan onderdruk.
  • Dis ’n goeie bron van vesel, wat jou kan help om gewig te verloor deur jou langer versadig te laat voel. Vesel help voorts om hartsiektes te voorkom deur cholesterol en bloedsuikervlakke in toom te hou.
  • Die weerstandbiedende stysel in aartappels dien as ’n probiotika, oftewel voedsel vir goeie bakterieë in die dikderm wat dermgesondheid verbeter. Dit help op sy beurt om hardlywigheid en prikkelbare dermsindroom te voorkom.
  • Die vitamien C en B-kompleks, asook minerale soos kalium, magnesium, fosfor en sink in aartappels, is goed vir jou vel. Fyngemaakte rou aartappels wat met heuning gemeng word, word deur talle mense gebruik om puisies en vlekke hok te slaan.
  • Behoorlike funksionering van die brein hang grootliks af van die glukosevlak, suurstofvoorsiening, hormone, aminosure en vetsure soos omega-3. Aartappels kan in al bogenoemde behoeftes voorsien.

Kook aartappels met die skil. (Foto: iStock)

Wenke en waarskuwings

  • Doen dít: Kook aartappels met die skil. Die skil self bevat nie net hope voedingswaarde nie, maar help om die vitamiene en minerale tydens die kookproses behoue te laat bly. Verhit eers die water tot kookpunt en voeg dan die aartappels by. Dit verkort die gaarmaaktyd drasties.
  • Pasop hiervoor: Tot 75% van die voedingswaarde (soos vitamien C) gaan verlore wanneer jy aartappels braai. Haal eerder jou stoompot of lugbraaier uit, of bak die aartappels met ’n klein bietjie olyfolie in die oond (stadig met die sout, botter, roomkaas, gesmelte kaas en ander tierlantyntjies wat ons so graag saam met ’n gebakte aartappel eet).
  • Vermy dit: Groen aartappels is dikwels giftig, en so ook aartappelblare en vrugte, aangesien dit alkaloïede soos arseen kan bevat. ’n Oordosis hiervan kan noodlottig wees. Die glukemiese indeks van aartappels kan boonop baie hoog wees (bo 80); mense wat probeer om vetsug of diabetes te bestuur, moet dus eerder aartappels vermy. Dit geld ook diegene met ’n chroniese niersiekte of wat dialise ontvang.

Kanon van ’n knol

Druk jou unieke aartappelstempel in verf en dan op papier. (Foto: iStock)

Ook wat ander gebruike betref, is daar min groente so veelsydig soos ’n aartappel:

  • Sny ’n aartappel in die helfte en maak jou geroeste gereedskap sonder ’n geskrop skoon. Die suur in aartappels maak korte mette van roesmerke. Jy kan selfs ’n gesnyde aartappel gebruik om ’n nuwe glanshuppel in jou skoene te sit!
  • Stof jou kleuterskoolkunskennis af deur ’n aartappel in die helfte te sny en patrone daarin uit te kerf. Druk jou unieke aartappelstempel in verf en dan op papier. Dis ’n heerlike projek vir oud en jonk en ideaal om almal dié Paasnaweek besig te bou.
  • Danksy aartappels se antibakteriese eienskappe verrig dit wondere om geringe brandwonde te behandel en die pyn draagliker te maak. Sny in dun skywe of rasper en meng met water om as ’n kompressie te gebruik.
  • As jy ’n onhandige nutsman soos ek is, het jy waarskynlik al ’n (outydse) gloeilamp in skerwe gebreek in ’n poging om ’n nuwe LED-een in te sit. Om die basis van die gloeilamp wat agtergebly het te verwyder, skakel die krag af, druk die punt van ’n aartappel in die rand van die basis en draai.
  • Aartappels is ’n natuurlike vlekverwyderaar. As jy met bessies gewerk het en jou hande is gevlek, vryf dit met ’n gesnyde aartappel skoon. Sit die glans terug in jou silwerware deur dit met die water waarin jy aartappels gekook het, skoon te vryf.
  • Oeps, te veel sout in die sop? Gooi ’n paar stukkies aartappel in die pot en verwyder ná 10 minute om die oortollige sout uit die vloeistof te trek.
  • Soortgelyk aan die manier waarop mense komkommerskywe gebruik, kan jy rou aartappelskywe gebruik om op powwerige oë te sit. Lê vir sowat 10 minute met die rou aartappelskywe op jou toe ooglede vir vinnige verligting. As die aartappel koud is, werk dit selfs beter.
  • Aartappels behou hitte of koue verbasend lank. Jy kan ’n bevrore aartappel gebruik om kos koel te hou in plaas van ’n yspak, en jy kan warm aartappels gebruik om goed warm te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janine ·

‘n Ete is nie ‘n ete sonder aartappels nie. Net jammer die kwaliteit plaaslik beskikbaar, maak dit onmoontlik om die skille te behou tydens die gaarmaakproses. Meestal moet mens byna ‘n kwart wegsny om verby al die gate ens vrot dele te kom. :(

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.