Beenmurg: Só werk skenking

(Foto: iStock)

Elke jaar bereik duisende mense met leukemie, ander bloedsiektes en immuunafwykings ʼn gesondheidskeerpunt waar die enigste moontlike genesing – en dikwels die enigste kans op oorlewing – ʼn beenmurgoorplanting is. Soms word ʼn geskikte skenker in die familie gevind, maar meestal is ʼn versoenbare skenker ʼn vreemdeling met die presiese soort beenmurgweefsel.

Met duisende verskillende weefselsoorte wat bestaan, is die kans op ʼn perfekte pasmaat slegs 1 uit 100 000! Selfs met bykans 40 miljoen geregistreerde skenkers reg oor die wêreld, vind baie pasiënte nie betyds ʼn skenker nie. Op enige gegewe tydstip is daar meer as 200 pasiënte in Suid-Afrika wat ʼn beenmurgoorplanting benodig.

Die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) vier vanjaar sy 31ste bestaansjaar en moedig Suid-Afrikaners, met beenmurg- en stamselskenking wat in Augustus in die kollig is, om as skenkers te registreer.

Hoewel skenkers gewoonlik tussen die ouderdom van 18 en 45 jaar moet wees, het Suid-Afrika in 2020 slegs die tweede land naas die Verenigde Koninkryk geword om ook 16- en 17-jarige skenkers toe te laat om dié lewensreddende skenking te kan maak.

Volgens dr. Charlotte Ingram, mediese direkteur van die SABMR, is jongmense uitstekende skenkingskandidate. “Navorsing toon dat jonger skenkers met beter oorlewingsyfers vir pasiënte ná ʼn stamseloorplanting verbind word. Slegs sowat 7% van skenkers tans is tussen die ouderdom van 18 en 24 jaar.

“Studies toon dat kinders en jongmense tussen 14 en 25 jaar baie meer selfbewus, sosiaal-verantwoordelik en wêreldwys as vorige generasies is. Hulle is ook meer gedrewe om maatskaplike kwessies by die horings te pak, en is bereid om hul moue op te rol en ʼn daadwerklike verskil maak,” sê sy.

Hoewel die SABMR met sowat 74 000 skenkers spog, kan baie ouer skenkers nie meer stamselle skenk nie, omdat hulle sedert registrasie hipertensie, hartsiektes of diabetes ontwikkel het. Wanneer dít gebeur, begin die soektog van voor af, wat die pynlike wag vir die pasiënt verleng.

Stamsel- en beenmurgoorplanting: Wat’s die verskil?

SA se jonges skroom nie om beenmurgskenkers te word nie. (Foto: Hannah Busing/Unsplash)

Die belangrikste verskil tussen ʼn stamsel- en beenmurgoorplanting is of stamselle uit die bloedstroom of die beenmurg versamel is.

ʼn Stamseloorplanting gebruik stamselle uit jou eie of ʼn skenker se bloedstroom. Dit word ook ʼn stamseloorplanting van perifere bloed genoem. Met ʼn beenmurgoorplanting word stamselle van jou eie of ʼn skenker se beenmurg gebruik.

Stamseloorplantings is om die volgende redes meer algemeen as beenmurgoorplantings:

  • Dit is makliker om stamselle uit die bloedstroom as die beenmurg te versamel;
  • meer selle kan uit die bloedstroom versamel word; en
  • bloedtellings is geneig om vinniger ná ʼn stamseloorplanting te herstel.

Waarom word dit gedoen?

ʼn Stamsel- of beenmurgoorplanting vervang beskadigde of kankeragtige bloedselle met gesonde selle.

Stamselle is spesiale selle wat deur die beenmurg geproduseer word (die sponsagtige weefsel wat aan die binnekant van ons bene voorkom) en wat in verskillende soorte bloedselle verander. Dit sluit in:

  • Rooibloedselle, wat suurstof deur die liggaam vervoer;
  • witbloedselle, wat help om infeksie te beveg; en
  • bloedplaatjies, wat help om bloeding te stop.

ʼn Stamseloorplanting behels die vernietiging van enige ongesonde bloedselle en die vervanging daarvan met stamselle wat uit die bloed of beenmurg onttrek is.

Wanneer word dit gedoen?

Stamseloorplantings word gedoen om siektes soos die volgende te behandel:

  • Ernstige aplastiese anemie (beenmurgversaking);
  • leukemie, ʼn soort kanker wat die witbloedselle aantas;
  • limfoom, ʼn ander soort kanker wat die witbloedselle aantas;
  • myeloom, kanker wat die plasmaselle aantas; en
  • sekere bloed-, immuunstelsel- en metaboliese afwykings soos sekelselanemie, talassemie, ernstige gekombineerde immuniteitsgebrek (SCID) en Hurler-sindroom.

ʼn Stamseloorplanting word gewoonlik net uitgevoer as ander behandelings nie suksesvol was nie, die potensiële voordele van ʼn oorplanting swaarder as die risiko’s weeg, en die persoon, ten spyte van die onderliggende toestand, relatief gesond is.

Wat kan skenkers te wagte wees?

Met die skenking van bloedstamselle ontvang skenkers inspuitings wat die aantal bloedstamselle in die bloedstroom vermeerder. Dié medikasie word gewoonlik ʼn paar dae voor die skenking toegedien.

Tydens die skenking word bloed met ʼn buis uit ʼn aar in die arm getrek – baie soos wanneer ʼn mens bloed skenk. Die bloed gaan deur ʼn masjien wat die stamselle verwyder, waarna die bloed na die skenker terugvloei. Dié proses word aferese genoem en duur sowat 4 tot 6 ure. Sommige skenkers benodig veelvuldige sessies, afhangende van hoeveel bloedstamselle benodig word.

Die versameling van stamselle uit beenmurg is ʼn operasie wat in die teater uitgevoer word. Narkose word gebruik en maak die prosedure geheel en al pynloos. Naalde word in die agterkant van die bekkenbeen gesteek om die murg uit die been te onttrek en die prosedure neem gewoonlik 1 tot 2 uur.

Ná die beenmurgonttrekking word die skenker in die herstelkamer gemonitor en soms spandeer die skenker die nag in die hospitaal.

Mediese tegnologie het in só ʼn mate verbeter dat die risiko’s en nagevolge van albei soorte skenkings minimaal is. Gewoonlik is skenkers binne ʼn dag of wat weer op ʼn drafstap doenig met hul normale dagtake.

Word ʼn skenker

As jy tussen 16 en 45 jaar oud is en ʼn skenker wil word, kontak die SABMR by 021 447 8638 of stuur ʼn e-pos na [email protected]. Finansiële skenkings is ook broodnodig en kan aanlyn gedoen word by www.sabmr.co.za/donate

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.