Ekseem: Móénie krap waar dit jeuk nie

(Foto: iStock)

Wanneer ekseem toeslaan en jy voor die versoeking swig om daaraan te krap, is dit net so moeilik om jou werk gedoen te kry as om te probeer slaap. As die uitslag op jou vel sigbaar is, moet jy boonop die skaamte daarvan heeldag verduur.

Ekseem is nie ʼn spesifieke kwaal of toestand nie, maar ʼn oorkoepelende term vir velontstekings wat skubberige droë, jeukerige kolle op die vel veroorsaak. Dit kom veral by kinders voor omdat dit verwant is aan ʼn genetiese variasie met ʼn versteurende uitwerking op die vel se vermoë om vog te behou en teen bakterieë, irritasies en allergene voet neer te sit.

Die verskillende soorte en stadiums van ekseem raak meer as 10% van die bevolking en ofskoon dit oorerflik is, is dit nie aansteeklik nie. Sommige kinders ontgroei dit, maar die simptome kan sporadies weer opvlam – al was jy tot die létter gehoorsaam aan albei oumas se boererate én die dokter se leviete.

Jou enigste heil is om die simptome met leefstylaanpassings, vogrome en medikasie te bestuur, want daar bestaan helaas nog geen mediese kuur daarvoor nie. Trouens, niemand kan met sekerheid sê wat dit veroorsaak nie. Kennis en begrip daarvan sál egter in jou guns tel en help om die alewige gejeuk draagliker te maak.

Klinies gesproke

Volgens die Global Report on Atopic Dermatitis 2022 kom ekseem wêreldwyd by meer as 220 miljoen mense voor, waarvan sowat 43 miljoen tussen een en vier jaar oud is. Dit beklee die 15de plek vir niedodelike mediese toestande en die algehele eerste plek vir velsiektes.

Tekens van ekseem kan op enige deel van die vel voorkom. By mense met ʼn donker vel is die uitslag pers, bruin of grys, en op ligter velkleure vertoon dit pienk, rooi of pers.

(Foto: iStock)

Die mees algemene plek is in die waaie van die arms of in die plooie van die vel van die knieë of elmboë. Dit kom ook op die hande, nek, en enkels, in en rondom die ore, en op die wange en lippe voor. Dit kan ook die geslagsdele aantas, maar dit is seldsaam.

Atopiese dermatitis is klinies gesproke die mees algemene chroniese (langdurige) soort ekseem. Ekseem verwys na ʼn vorm van dermatitis en dermatitis beskryf die simptome van ʼn velontsteking. Atopies beteken op sy beurt ʼn genetiese neiging tot allergiese hipersensitiwiteit.

Ekseem kan enigiemand op enige ouderdom beïnvloed. Hoewel dit by tot 20% van babas gediagnoseer word, word die simptome in die meeste gevalle minder of verdwyn heeltemal namate jou spruit ouer word. Benewens atopiese dermatitis, word die volgende soorte onderskei:

  • Allergiese kontak-dermatitis is ʼn velreaksie ná kontak met ʼn stof of allergeen wat die immuunstelsel as vreemd beskou.
  • Dishidrotiese ekseem beskryf irritasie van die vel op die palms van die hande en voetsole, en gaan soms met blase gepaard.
  • Neuro-dermatitis is skubberige plekke op die kopvel, voorarms, polse en onderbene. Die oorsprong van die gejeuk en gevolglike gekrap is byvoorbeeld ʼn insekbytplek.
  • Nummulêre ekseem is sirkelvormige kolle geïrriteerde vel wat opswel en skilferagtig, skubberig en jeukerig kan wees.
  • Seborrheiese dermatitis verwys weer na wit of geel skubberige kolle op olierige dele soos die kopvel, gesig en ore, en is in reaksie op die teenwoordigheid van mikroörganismes op die vel.
  • Stasis-dermatitis veroorsaak ʼn irritasie van die vel aan die onderbeen, en is gewoonlik verwant aan problematiese bloedsirkulasie.

(Foto: iStock)

Atopiese dermatitis op sigself veroorsaak nie pyn nie, maar pynlike rowe en selfs ontsteking kan ontstaan as jy gedurig daaraan krap of vryf. Ander soorte ekseem, soos allergiese kontak-dermatitis, veroorsaak ʼn ongemaklike brandgevoel.

Kliniese navorsing kan nog nie ʼn definitiewe oorsaak aan ekseem toedig nie, maar medici meen dat dit aan ʼn kombinasie van genetiese, leefstyl- en omgewingsfaktore toegedig kan word.

Daar is egter geen twyfel nie dat jou risiko hoër is as jou ouers in húl kinderdae ekseem of simptome van enige ander atopiese toestand getoon het. Terloops, ʼn volwassene kan steeds skurwe, droë of maklik irriteerbare vel op hul hande en ooglede hê, al het hulle dit ontgroei.

Slaan ekseem só hok

Ekseem is beslis bestuurbaar. Dit is net in akute gevalle waar die simptome nooit verdwyn nie. ʼn Relatief normale lewe is in die meeste gevalle moontlik met behulp van behoorlike, volgehoue velsorg en die regte medikasie.

(Foto: iStock)

Die belangrikste is om te leer wat die opvlamming in jou unieke geval veroorsaak of vererger, en dit so ver as moontlik te vermy. Hier is ʼn paar wenke om die ongemak te verduur:

  • Moenie onnodig aan die uitslag vat, vryf of krap nie
  • Hou jou vingernaels kort as voorsorg vir ás jy krap
  • Oppas vir velsorgprodukte wat preserveermiddels bevat
  • Kies ʼn vogroom wat geen parfuum (geurmiddels) en kleurstowwe bevat nie
  • Wend die vogroom elke dag herhaaldelik aan
  • Bad in louwarm water en moenie in die water talm nie
  • Gebruik altyd sagte, reuklose en kleurlose seep
  • Druk die handdoek net liggies op die vel om af te droog
  • Smeer dadelik ná die bad weer room aan om die vel vogtig te hou
  • Bly uit die son uit en hou kamertemperature matig, waar moontlik
  • Beperk aktiwiteite wat jou laat sweet en die opvlamming kan aanvuur
  • Dra lospassende klere van katoen of ander sagte materiale
  • Vermy klerasie wat wol, sy en sintetiese materiale bevat

(Foto: iStock)

Bykomende bronne: Royal Children’s Hospital, Eczema Society of Canada, Medical News Today, Dermnet, Healthline en Cleveland Clinic.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.