Emosionele eters: Wat is die eintlike probleem?

(Foto: Pixabay)

Emosionele etery word beskryf as ʼn manier van eet waar jy negatiewe emosies soos stres, angs, woede of hartseer onderdruk. Emosionele eters ooreet hulself dikwels aan kosse omdat dit hulle sus en vir ʼn tyd lank beter laat voel.

Xenia Ayiotis, ʼn opgeleide, geregistreerde afrigter vir mense wat meer aandagtig wil eet, sê die onderdrukking van emosies is ʼn groter bekommernis as die kos wat mense eet wanneer dit by emosionele etery kom.

Sy sê die negatiewe konnotasie van emosionele etery moet eerstens verwyder word sodat ʼn gesonde verhouding met kos vasgelê kan word.

Xenia Ayiotis (Foto: Verskaf)

“Dit is natuurlik vir mense om hulself met kos te sus– dit gebeur tog vandat ons babas is. Kos en emosies kan nie van mekaar geskei word nie.

“Kyk byvoorbeeld na enige emosionele geleentheid – of dit nou hartseer of gelukkig is – daar is altyd kos betrokke. As iemand oorlede is, bring mense kos; as iemand trou, eet mense saam, en daar is altyd kos as ʼn verjaarsdag gevier word. En dit strek oor alle gelowe en kulture.”

Kom agter die kap van die byl

Hoewel mens van kleins af geleer word dat kos jou beter kan laat voel, word baie mense nie van kleins af geleer om hul emosies te verstaan nie. Dit is hoekom sommige mense hul emosies op só ʼn manier onderdruk.

“Daar word vir ons gesê om gelukkig te wees, maar niemand leer ons hoe om hartseer te hanteer nie. Ons word geleer dat slegs ʼn paar emosies aanvaarbaar is en die ander is onaanvaarbaar, maar wat ons eintlik moet leer, is dat alle emosies aanvaarbaar is,” sê Ayiotis.

“As iemand jou onreg aangedoen het, is dit van pas om kwaad te wees, en as iemand oorlede is, is dit van pas om hartseer te wees. Alle emosies is aanvaarbaar.

“Omdat ons die emosies probeer vermy borrel dit op en manifesteer dit in die vorm van angs en stres.” Ayiotis sê dit is normaal vir mense om pyn te vermy en plesier te soek, en dit is juis wanneer mense “hul emosies eet”.

Wat kan ons doen?

Die mees algemene redes hoekom mense emosioneel eet, is as gevolg van stres, eensaamheid, verveeldheid, te lang ure werk, angs en kosreëls.

“Die eerste ding wat ons moet weet, is dat die probleem nie die kos is nie; die probleem is mense wat nie weet hoe om hul emosies te hanteer nie.”

As mense vir lang tye reeds ʼn dieetkultuur volg en kosreëls het en dit gaan gepaard met ʼn lang, stresvolle dag, gaan jy jou makliker aan kos vergryp waarvan jy ontneem voel.

“Mense wat nog nooit kos beperk het nie en wat nooit diëte gevolg het nie, kan baie keer ʼn ander manier vind om hul emosies te hanteer. As hulle wel na kos draai, kan hulle dit doen en aanbeweeg sonder om hulself daarvoor te blameer.”

Ayiotis sê kos word wel ʼn probleem wanneer kosvergrype (binge eating) gereeld gebeur omdat mense dan nie net die kos as ʼn susmiddel gebruik nie, maar as ʼn verdowingsmiddel.

“As jy agterkom jy eet omdat jy emosioneel is, gee jouself toestemming om te eet om die emosies te hanteer. Maar probeer stop wanneer jy verlig en gesus voel, eerder as om te stop as jy verdoof voel. Op so manier leer jy jouself stadig maar seker om ʼn bietjie emosionele ongemak te kan hanteer,” sê sy.

Sy sê ʼn groot deel daarvan om emosionele etery te hanteer, is om nie jouself te veroordeel nie, en medelye met jouself te hê.

“As jou dag stresvol was en jy eet daaroor, wees jouself genadig en probeer eerder verstaan wat jou liggaam vir jou probeer sê. Probeer eerder verstaan hoekom jy so voel. So kan jy by die kern van die saak uitkom, en dít hanteer vir ʼn langtermynoplossing.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Noels244 ·

Ek kan 100% hiermee identifiseer: ek eet tot ek beter voel en daarna voel ek skuldig en skaam omdat ek dit gedoen het om mee te begin.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.