Epilepsieweek plaas kollig op siektestigma

(Foto: iStock)

Epilepsie is een van die mees algemene neurologiese toestande én een van die oudste gedokumenteerde mediese kwale. Trouens, daar is reeds so vroeg soos 4 000 v.C. oor dié siekte geskryf. Ten spyte daarvan dat nagenoeg 50 miljoen mense wêreldwyd daarmee leef, aldus die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), insluitend 1 uit elke 100 Suid-Afrikaners, is die hantering van die stigma dikwels ʼn groter uitdaging as die behandeling van die siekte self.

Met bykans vyf miljoen mense wat jaarliks met epilepsie gediagnoseer word, waarvan 80% in lae- en middelinkomstelande woon, is die enigste suksesvolle teenvoeter om bewustheid oor epilepsie te bevorder en voorspraak vir epilepsielyers te maak.

Daar word beraam dat tot 70% van mense wat met epilepsie leef, toevalvry kan leef as dit behoorlik en vroegtydig gediagnoseer en behandel word. Tog kry 75% van mense met epilepsie wat in lae-inkomstelande woon, nie die behandeling wat hulle benodig nie. ʼn Kommerwekkende syfer as in ag geneem word dat die risiko van voortydige dood by mense met epilepsie tot drie keer hoër is as vir die algemene bevolking.

Volgens die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika (NVSA) is die tekort aan neuroloë in Suid-Afrika ook ʼn bron van kommer. Volgens die NVSA is daar een neuroloog per 500 000 mense van die bevolking, terwyl dié syfer veel hoër op 35 per 500 000 mense in hoë-inkomstelande is.

Internasionale Epilepsiedag word jaarliks wêreldwyd op die tweede Maandag in Februarie gevier, en in Suid-Afrika volg ons dit op met Epilepsieweek wat vanjaar vanaf 13 tot 19 Februarie plaasvind – die ideale geleentheid om mites te ontwortel en kennis te ontsluit.

Wat is epilepsie presies?

Epilepsie is ʼn chroniese neurologiese toestand wat elektriese aktiwiteit in die brein sporadies versteur. Dit belemmer die normale oordrag van die brein se instruksies na die liggaam en veroorsaak abnormale, onwillekeurige reaksies soos stuiptrekkings, spierspasmas, bewusteloosheid en geheueverlies.

Die toestand kan ontstaan weens kopbeserings, genetiese afwykings, en ontwikkelingstekorte. Daar is soms ʼn geïsoleerde oorsaak soos hoë koors, infeksie, blootstelling aan gifstowwe en metaboliese afwykings soos hipoglukemie. Dit kan ook die gevolg van ʼn onderliggende mediese toestand wees.

Maar, vir tot 70% van pasiënte is die oorsaak onbekend, ʼn toestand wat idiopatiese epilepsie genoem word. Die oorblywende gevalle waar die oorsake wél vasgestel kan word, staan as simptomatiese epilepsie bekend.

Al kan epileptiese toevalle by enigiemand voorkom, is dit meer algemeen onder jong kinders en ouer volwassenes. Mans is meer vatbaar as vroue, waarskynlik weens groter blootstelling aan risiko’s soos alkoholmisbruik en kopbeserings.

Klassifikasie en snellers

Dokters klassifiseer toevalle op grond van waar in die brein dit begin, en watter simptome dit veroorsaak. Algemene toevalle beïnvloed die hele brein, terwyl fokale (gedeeltelike) toevalle slegs een deel van die brein raak.

ʼn Ligte toeval kan moeilik wees om te herken of klassifiseer. Dit duur dalk net ʼn paar sekondes, met die persoon wat wakker en helder bly terwyl dit gebeur. Ernstiger toevalle kan spasmas en onwillekeurige spiersametrekkings veroorsaak en ʼn paar sekondes of ʼn paar minute duur, met gepaardgaande verwarring of bewusteloosheid en selfs geheueverlies.

Kriptogeniese epilepsie verwys na gevalle waar die oorsaak onbekend is, maar met die vermoede van ʼn strukturele abnormaliteit in die brein. Simptome sluit abnormale bewegings, verlies van bewussyn en stuiptrekkings in.

Snellers vir toevalle sluit in:

  • Spanning;
  • Slaapkwessies soos om nie goed of genoeg te slaap nie, oormoeg te wees en slaapversteurings soos slaapapnee;
  • Alkoholgebruik, -onttrekking, en dwelmgebruik;
  • Hormonale veranderings;
  • Infeksie of hoë koors;
  • Flitsende ligte of patrone;
  • Ongesonde eetgewoontes (ongebalanseerde of ongereelde maaltye, te min vloeistofinname, en vitamien- en mineraaltekorte);
  • Oormatige fisieke inspanning;
  • Spesifieke kos (kafeïen is ʼn bekende sneller); en
  • Die gebruik van sekere medikasie.

Diagnose en behandeling

Die diagnose van epilepsie is ʼn ingewikkelde proses. Dit begin gewoonlik met ʼn fisieke ondersoek en ontleding van die pasiënt se mediese geskiedenis, gevolg deur diagnostiese toetse soos ʼn EEG (ʼn spesiale toets wat breingolwe monitor). Hierdie toetse help om die ligging en erns van toevalle en enige onderliggende toestande te identifiseer.

Dokters behandel epilepsie met medisyne, chirurgie, mediese toestelle en soms met ʼn spesifieke dieet, maar feitlik altyd met ʼn kombinasie van hierdie metodes.

Antikonvulsiewe medikasie is gewoonlik die eerste vlak van behandeling en kan help om die frekwensie en erns van toevalle te verminder. ʼn Ketogeniese dieet is byvoorbeeld ʼn hoëvet-, lae-koolhidraat-voedselplan wat toevalle by kinders kan help hokslaan.

Chirurgie word dikwels oorweeg vir pasiënte met fokale epilepsie wat nie op medikasie reageer nie, of as die toevalle deur iets soos ʼn gewas of beroerte veroorsaak word. Sulke operasies behels die verwydering van ʼn deel van die brein wat toevalle veroorsaak, of die skeiding daarvan van die res van die brein.

Noodmedikasie kan in spesifieke situasies gebruik word. Dit vervang nie ʼn pasiënt se voorgeskrewe, daaglikse medikasie nie en is slegs vir gebruik om stuiptrekkings in noodgevalle te stuit.

Benewens medikasie en chirurgie, is daar ook leefstylveranderinge wat epilepsie kan help bestuur. Dit sluit in om genoeg slaap te kry, om snellers soos stres en sekere kos te vermy, en om voorsorgmaatreëls te tref wat die risiko van beserings tydens ʼn toeval sal verminder.

Daar is ook twee tipes mediese toestelle wat gebruik kan word om epilepsie te behandel:

  • Vagus-senuweestimulasie (VNS): Gereelde elektriese impulse word na die brein gestuur om toevalle te voorkom, vanaf ʼn toestel onder die vel op die bors.
  • Responsiewe neurostimulasie (RNS): Dit behels ook gereelde elektriese impulse na die brein, maar vanaf ʼn toestel onder die kopvel.

Bykomende bronne: Healthline, WebMD, Cleveland Clinic, National Today, Mayo Clinic.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.