Epilepsie behandelbaar; tog styg sterftesyfer

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Marcelo Leal / Unsplash)

Een uit elke 100 mense in Suid-Afrika word deur epilepsie geraak terwyl meer as 75% hul eerste aanval voor die ouderdom van 20 kry. Die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika (NVSA) sê nou hoewel epilepsie behandelbaar is, is die risiko van voortydige dood onder epilepsielyers tot drie keer hoër as by ander lede van die bevolking.

Oorsake van sterftes word onder meer gekoppel aan skielike, onverwagte dood weens epilepsie (Sudep) wat sedert 2004 met 100% in Suid-Afrika toegeneem het. Verdere oorsake is een of meer toevalle wat langer as vyf minute duur, onbedoelde beserings wat tydens ʼn aanval opgedoen word en selfmoord onder epilepsielyers.

ʼn Ernstige tekort aan personeel- en hulpbronne is een van die redes dat min mense in Suid-Afrika vir epilepsie behandel word.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het op 27 Mei ʼn intersektorale globale aksieplan vir epilepsie en ander neurologiese afwykings (IGAP) aanvaar om toegang tot behandeling en sorg vir lyers te bevorder.

Tog is daar miljoene mense wat steeds nie toegang tot behoorlike behandeling het nie.

Luidens die NVSA se verklaring ly ongeveer 50 miljoen mense wêreldwyd aan epilepsie waarvan 70% tot 80% in lae- en middelinkomstelande aangetref word. Dit is juis in dié gebiede waar lyers onvoldoende toegang tot gesondheidsfasiliteite en behandeling het.

Dr. Patty Frances, president van die NVSA, het op Wêreldbreindag (22 Julie) gesê dat aansienlik minder mense in lae-inkomstelande toegang tot behandeling het, veral in landelike gebiede. Frances sê sowat 75% van epilepsielyers in dié lande se aanvalle word nie op die gegewe tydstip behoorlik behandel nie.

Slegs een neuroloog per 500 000 mense in SA

“Ernstige personeel- en hulpbrontekorte het tot gevolg dat min mense in Suid-Afrika vir epilepsie behandel word,” sê Frances.

“Die verhouding van neuroloë tot die bevolking in Suid-Afrika is een tot 500 000, vergeleke met 35 per 500 000 in hoë-inkomstelande.”

Frances meen daar is ook beperkte toegang tot medisyne, ʼn gebrek aan kennis, wanpersepsies en ʼn stigma wat aan epilepsie kleef.

“Epilepsie raak mense van alle ouderdomme, geslagte, rasse en inkomstevlakke. Dit is ʼn hoogs behandelbare toestand en meer as 70% van mense met epilepsie kan aanvalvry lewe as hulle toegang tot behoorlike behandeling teen aanvalle het – waarvan die meeste koste-effektief is.”

Frances sê gesondheidstelsels het nog nie voldoende gereageer op die las wat neurologiese afwykings op lyers plaas nie.

“Terwyl sowat 70% van mense met neurologiese afwykings in lae-inkomstelande woon, word hierdie behoefte swak erken met slegs 28% van lae-inkomstelande wat ’n toegewyde beleid vir neurologiese afwykings het.  “Wêreldwyd bly die openbare gesondheidstelsel se uitgawes aan neurologiese afwykings ook laag.

Al het artikel 27 van die Suid-Afrikaanse Grondwet betrekking op gesondheidsake, is daar geen spesifieke melding van epilepsie of neurologiese afwykings nie.”

Wat veroorsaak epilepsie? 

Epilepsie is ’n mediese toestand en diagnose word gemaak wanneer ’n persoon ’n herhalende, onuitgelokte aanval ervaar. Die NVSA sê epilepsie “word beslis nie deur ’n psigiatriese versteuring, demoniese besetenheid, voorvaderlike misnoeë of hormonale disfunksie veroorsaak nie”.

In ongeveer 66% van die gevalle is die onderliggende oorsaak van epilepsie egter onbekend. In die oorblywende gevalle kan die onderliggende oorsaak kopbeserings insluit, wat op enige ouderdom kan voorkom.  Geboortebeserings soos die gebrek aan suurstof tydens die geboorteproses, alkohol- en dwelmmisbruik; neurodegenerasie, metaboliese of biochemiese versteurings, beroertes, infeksies en breingewasse kan ook tot epilepsie lei.

Migraines kom by ongeveer 19% van mense met epilepsie voor, terwyl intellektuele gestremdheid by ongeveer 26% van volwassenes en 30% tot 40% van kinders met epilepsie aangetref word. Francis sê soveel as 80% van mense met epilepsie sal hul aanvalle met medikasie kan beheer.

Wenke vir epilepsielyers

– Moet nooit te naby aan oop vuur sit of staan nie.

– Moenie die badkamerdeur sluit nie. Die deur moet ideaal ook na buite oopmaak.

– Dis in die algemeen veiliger om te stort as om te bad. Badwater moet vlak getap wees indien individue wat aan epilepsie ly wel wil bad of as ʼn stort nie beskikbaar is nie.

– Sommige lyers kry aanvalle terwyl hulle slaap en word aangeraai om sonder ʼn kussing te slaap.- Lyers moet altyd ʼn valhelm dra wanneer hulle fiets- of perdry.

– Moenie alleen swem, berg- of rotsklim of seil nie.

– Epilepsielyers word aangeraai om mense na aan hulle van hul toestand in te lig.- Dra ʼn MedicAlert-bandjie wat aandui dat jy aan epilepsie ly.

– Sluit by ondersteuningsgroepe aan. Vir meer inligting oor epilepsie besoek www.epilepsy.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

AmY ·

Ek het my eerste aanval gekry ‘n maand vóór ek 21 geword het.
Tot vandag is dokters nie seker wat dit veroorsaak nie. Al rede wat hulle kan kry is dat ek Neurofibromatose het, en dat epilepsie algemeen by lyers van hierdie toestand is.
Maar dan was daar hierdie juffrou op skool gewees… sy het met haar kneukel op ‘n sekere plek teen jou kop gekap, en dan het sy ‘letterlik jou brein geskok.’
Dit was bitter seer gewees. Vandag wonder ek of my epilepsie nie daarvan ook gekom het nie.
Sal seker nooit weet.
Solank ek my pille drink, kry ek geen aanvalle nie. Medikasie beheer dit 100%.

4ntj13 ·

Dis onwaarskynlik dat u juffrou u brein so kon beseer het. Medikasie help vir ander aanvalle as epilepsie ook. Ek is dankbaar u het ʼn oplossing.

AmY ·

Baie dankie. Ek het altyd net gewonder. Ek het dit nog nooit aan my dokter genoem nie.
Ek het nooit ‘n ernstige hoofbesering opgedoen nie.
Enigste verklaring is dan my Neurofibromatose.

Swerwer ·

En ongelukkig word die simptome behandel en die oorsaak nie gesoek in die meeste gevalle nie.

4ntj13 ·

ʼn Paar verduidelikings: Meeste konvulsies is nie epilepsie nie. In Europa kry 0.2% mense epilepsie, 2% kinders koorskonvulsies, en daar word geskat tot 20% mense een of ander tyd in hul lewe ʼn soortgelyke toeval wat deur iets anders veroorsaak word, soms herhalend.
In SA sal epilepsie meer wees omdat verwaarloosde breinbesering meer is. Gewone dokters behoort dus opgelei te word om die hele spektrum van konvulsies tot epilepsie te kan onderskei en behandel. Dís ons grootste probleem!
In groter Afrikalande, van Zambië, Nigerie, tot Tunisië, Egipte en Marocco, is daar verskeie spesialiste met >1 jr voltydse neurofisiologie opleiding, die internasionaal aanvaarde minimum. In SA is daar 0, zero. Die neuroloë doen dit hier op veel minder, en nooit voltyds nie (dus geen “mediese neurofisioloë”). Dís ook ʼn groot probleem.
Bo-op hul gebrek aan leiding en samewerking oor die laaste 4 dekades, wat ek glo daarmee verband hou. Natuurlik sal druk van provinsiale regerings als vererger!

4ntj13 ·

Dis hartseer dat daar van NASA altyd beroepe gedoen word vir hulp, maar hulle kom nooit halfpad om dit reg te kry nie. Waar moet die provinsies nou meer neuroloë kry as daar nie meer opgelei word of vir meer poste beplan word nie? Dis asof hulle bang bly iemand vat hul werk van hul af weg!
As ek as buitestaander my eiertjie kan lê, sou ek sê skop die 1950s-tipe fossiele onder hul bas en kry meer opleidingsposte in alle aspekte van sulke praktyke. Gee krediet vir mense wat wel pro-aktief die veld voorberei. Werk saam Pediatrie, Psigiatrie en Interne Geneeskunde om gewone dokters beter op te lei en stop die dreinering van tegnoloë na aanverwante spesialiteite deur meer op te lei en saam te werk met daardie spesialiteite, en met TUs ook saam te werk.
En, kla dan hier ook. Ongelukkig is hierdie nie ʼn beginpunt nie. Jy gaan net jou neus verbrand met die waarheid! En die fondse verarm die tegnologiese sy, wat nie as tegnoloë kán lei nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.