Genesende krag van uitmuntende uie

(Foto: iStock)

Die skilwerk laat dalk jou oë traan, maar die gesondheidsvoordele en interessante gebruike wat in uie skuil, is allermins ’n treurmare. Uie is deel van die allium-genus van blomplante wat ook knoffel, sjalotte, preie en grasuie insluit.

Die geneeskragtige eienskappe van uie word sedert antieke tye erken, toe dit onder meer gebruik is om kwale soos hoofpyn, hartsiektes en mondsere te behandel. Sedertdien het tientalle navorsingstukke bewys dat dié groente van bakterieë tot bloedklonte se baas is.

Ui-tstekende gesondheidsvoordele

  • Een mediumgrootte ui bevat slegs 44 kalorieë, maar bied ’n stewige dosis vitamiene, minerale en vesel. Dis besonder hoog in vitamien C, wat immuungesondheid, kollageenproduksie, weefselherstel en ysterabsorpsie in die hand werk. Vitamien C is ook ’n kragtige antioksidant wat jou selle beskerm. Die B-vitamiene in uie, waaronder folaat (B9) en piridoksien (B6), speel ’n sleutelrol in metabolisme, rooibloedselproduksie en senuweefunksie. Die kalium in uie help weer met selfunksie, vloeistofbalans, senuwee-oordrag, nierfunksie en spiersametrekking.
  • Die antioksidante en nuttige plantverbindings in uie werk inflammasie teen en verlaag cholesterolvlakke, wat gevolglik die risiko vir hartsiektes verlaag. Die kragtige anti-inflammatoriese eienskappe help om hoë bloeddruk hok te slaan en teen bloedklonte te beskerm.
  • Die meer as 25 verskillende antioksidante in uie keer oksidasie. Oksidasie is ’n proses wat selskade veroorsaak en bydra tot siektes soos kanker, diabetes en hartsiektes.
  • Navorsing het ook bevind dat deur groente soos knoffel en uie van die allium-genus te eet, die risiko vir maag- en kolorektale kanker met tussen 15% en 22% verlaag. Boonop kan uie help om bloedsuikervlakke te beheer, wat veral belangrik is vir mense met diabetes.
  • Hoewel suiwel die meeste eer kry vir die bevordering van beengesondheid, meen navorsers dat verskeie kossoorte, waaronder uie, beendigtheid bevorder en osteoporose teenwerk.
  • Uie is ’n ryk bron van vesel en prebiotika, wat nodig is vir optimale dermgesondheid. Navorsing het voorts bevind dat uie potensieel gevaarlike bakterieë soos Escherichia coli ( coli) beveg.

(Foto: iStock)

Ander nuttige gebruike

  • Uiesap is een van die beste boererate om hare wat uitval in hul spore te stuit en haargroei ’n hupstoot te gee. Uie bevat swael wat kollageenproduksie in die weefsels bevorder en keer dat hare bros raak en maklik breek.
  • Niemand wil nou juis na ’n ui ruik nie, maar as jy jou êrens in die bos bevind en op soek is na ’n insekweerder soos min, vryf gerus ’n skyfie ui oor jou arms en bene. Uie doen ook wondere om die pyn en swelling van ’n bysteek te verlig.
  • Is jou laai vol geroeste messe? Uie bevat ’n soort suur wat die waterstofione in roes afbreek en jou silwerware weer sal laat skitter.
  • Moenie van jou uieskille ontslae raak nie. Kook die skille vir vyf tot sewe minute in water en gebruik dié unieke aftreksel in sop en bredies. Jy kan dieselfde vloeistof gebruik om metaaloppervlakke mee skoon te maak.
  • Keer dat gesnyde avokado’s verkleur deur ’n gesnyde ui saam met die avokadostukke in ’n houer te plaas.
  • Dryf die reuk van ’n vars geverfde vertrek jou teen die mure uit? Sny ’n ui in die helfte en plaas ’n helfte in twee van die hoeke van die vertrek om van die verfreuk ontslae te raak.
  • Gebruik ’n ui om jou braairooster skoon te maak, of smeer jou braairooster voor die braai met ’n ui om te help dat die vleis minder vassit. Daar is niks soos uie wat in ’n potjie prut om ’n geurige atmosfeer te skep nie.

(Foto: iStock)

Keer die tranedal

Wanneer jy ’n ui sny, veroorsaak dit ’n chemiese reaksie wat ’n irriterende middel vrystel wat veroorsaak dat jou oë traan. Dis byna soos traangas, het een wetenskaplike aan die New York Times gesê. Dié “chemiese oorlogvoering” is die ui se natuurlike verdedigingsmeganisme teen diere wat dit wil verorber.

Hoewel daar meer fiksie as feite bestaan oor die korrekte manier om ’n tranedal met die skil van uie te voorkom, beveel koskenners onder meer dié wenke aan:

  • Gebruik ’n baie skerp mes. Dit sal minder skade aan die selwande veroorsaak, wat minder van die chemiese stof sal vrystel.
  • Koel uie in die yskas af, plaas dit vir 15 minute in die vrieskas, of dompel dit vir 30 minute in ’n yswaterbad. Dit sal die hoeveelheid chemikalieë verminder wat vrygestel word. Jy kan dit ook onder die water probeer sny.
  • Dra oogbeskerming. Hoewel ’n mens in sommige lande selfs ’n spesiale uiskilbril kan koop, behoort ’n plastiek Covid-19-gesigskerm ook die ding te doen.

Bykomende bronne: food.ntdv.com; readersdigest.ca; healthline.com; webmd; yummly.com; bonappetit.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus W ·

In Buckingham Paleis word geen uie en knoffel toegelaat nie.

Eend Bessinger ·

Groente, vrugte, kruie en speserye het almal genesende geheime. En dis baie maal duisende kere beter as medikasie.

Sarel ·

Hierdie raad WERK. Knyp jou lippe saggies op mekaar en suig liggies in. Hou dan jou mond só toe terwyl jy die ui sny. MOET nie die mond oopmaak terwyl jy sny nie. Jou oë sal nie traan nie. Spoel jou hande af na snyery en maak dan eers jou mond oop. Ek weet dis seker maar moeilik vir party mense om die mond toe te hou vir só lank. Lol.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.