Help dowe gemeenskap met geestesgesondheid

(Foto: iStock)

Deur Maretha Botes

Dikwels gemarginaliseerd, worstel dowe individue met ʼn magdom emosionele, sielkundige en samelewingskwessies wat hul welstand aansienlik kan beïnvloed.

Dr. Ian Westmore, raadslid van die Suid-Afrikaanse vereniging vir psigiaters, sê gehoorverlies het ʼn geweldige, en dikwels negatiewe, uitwerking op die individu en lei tot akademiese uitdagings, verhoogde werkloosheidsyfers, swakker algemene gesondheid en sosiale isolasie. Die dowe gemeenskap, soos enige ander, is nie immuun teen gesondheidsuitdagings nie, met depressie, angstigheid en middelmisbruik wat algemene uitdagings is.

Westmore beklemtoon die feit dat kommunikasie steeds die grootste uitdaging vir dié mense bly. “Ongeag die feit dat gebaretaal nou een van die land se twaalf amptelike tale is, word dit steeds nie erken óf deur die meerderheid mense gepraat nie. Die gebrek aan kommunikasie veroorsaak isolasie, frustrasie en vererger reeds bestaande geestesgesondheidstoestande,” sê hy. “Daar is ʼn noemenswaardige gebrek aan bewustheid onder gesondheidsorg-verskaffers en -beleidmakers wat die unieke geestesgesondheidsbehoeftes onder die dowe gemeenskap betref. Dit lei tot onderontwikkelde dienste en ʼn te kort aan dienste wat spesifiek vir dowe mense met unieke behoeftes geskep word.”

Hy sê verder die geestesgesondheidsuitdagings van die dowe gemeenskap verskil fundamenteel van die behoeftes van die algemene bevolking.

Mense gesels met gebaretaal aanlyn. (Foto: Cottonbro/Pexels)

“Gesondheidswerkers moet bewus gemaak word en rekening hou met gapings in kennis en emosionele woordeskat, kulturele agtergrond, en die onvermoë om geestesgesondheidsimptome te kan kommunikeer. Kommunikasie met die dowe gemeenskap bied sy eie uitdagings. In baie gevalle kan sekere geestesgesondheidskonsepte nie voldoende deur gebaretaal alleen oorgedra word nie.

“Lip-lees is dikwels ʼn vaardigheid wat te kort skiet, en geskrewe taal kan ook nie ten volle die gesproke taal vervang nie. Bowenal kompliseer die te kort aan mense wat gebaretaal kan interpreteer dinge verder. Sonder die nodige en gepaste metodes om geestesgesondheidstoestande aan te spreek, is daar ʼn risiko van verkeerde of selfs geen diagnose van die toestande nie,” sê Westmore.

Buiten kommunikasie-uitdagings, bly stigmatisering ʼn nare realiteit vir dowe individue en lei dit in baie gevalle tot lae ʼn selfbeeld, angstigheid en depressie. Vir dié wat doof gebore word, kan vroeë stressors wat met die gestremdheid gepaard gaan, geestesgesondheidskwessies later in die persoon se lewe vererger.

Ansie Hoffman is ‘n gebaretaal-tolk. (Foto: Verskaf)

Westmore sê daar is moontlike oplossings:

  • Opleiding van mediese kenners: Algemene praktisyns en klinieke is in baie gevalle die eerste bron van hulp vir pasiënte. Gesondheidsorgverskaffers behoort opgelei te wees in basiese gebaretaal om die kommunikasiegapings te oorbrug en kwaliteit van sorg vir dowe individue te verbeter.
  • Doof-vriendelike geestesgesondheidsorgdienste: Gespesialiseerde geestesgesondheidsdienste wat ontwerp en gefokus is op die dowe gemeenskap, en ʼn veilige en vriendelike omgewing skep waar individue kan hulp soek sonder angstigheid om verkeerd verstaan te word.
  • Bewusmakingsveldtogte: Inisiatiewe om bewusmaking oor geestesgesondheidsuitdagings onder die dowe gemeenskap te verskerp. Sulke veldtogte kan ook help om stigmatisering en diskriminasie te beperk en te verminder.
  • Gemeenskapsondersteuning: Ondersteuningsgroepe en gemeenskaporganisasies kan ʼn rol speel om emosionele ondersteuning en hulpbronne vir dowe individue wat sukkel met geestesgesondheidskwessies te bied.
  • Opvoeding: Geestesgesondheidsorg-verskaffers behoort ʼn dieper begrip te hê van gehoorverlies, die verband daarvan met psigiatriese toestande en die behandeling van hierdie toestande. Akkurate diagnose hang af van die gesondheidsorgwerker se bekendheid met die unieke uitdagings wat die dowe gemeenskap in die gesig staar.
  • Afmerklysies: Alle gesondheidsorgwerkers behoort toegerus te wees met simptoom-gebaseerde afmerklysies wat deur die dowe individu of ʼn familielid voltooi kan word. Hiér moet die vlak van geletterdheid en opvoeding egter ook in ag geneem word.
  • Loopbane in geestesgesondheidsorg: Moedig lede van die dowe gemeenskap aan om loopbane in gesondheidsorg te volg en op dié manier die gaping te oorbrug.

Vir bykomende hulpbronne en om ondersteuning te soek, kan die dowe gemeenskap en hul familielede uitreik na:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.