Hier is die tekens van uitbranding

(Foto: Anna Tarazevich/Unsplash)

Deur Elize Barnardt

Daar is ʼn nuwe jaar wat om die draai lê en wink. Ons almal het voornemens en planne vir die jaar wat voorlê. Dit is ook ʼn tyd om te besin oor jou lewe en dit is nodig om te vra: hoe vol is jou dagboek? Is jy al moeg en gespanne voor die jaar begin? Hoekom is dit nodig om oor uitbranding te praat? Nie almal van ons is meer aktief in die arbeidsmark nie, maar ons het almal iemand wat hierby kan baat.

Wat is die verskil tussen alledaagse spanning en uitbranding?

Wanneer is ons stresvlakke vir ons ʼn goeie ding en wanneer steek dit die grense oor en is ons oorweldig of dreig uitbranding?

Spanning is deel van ons alledaagse lewe. Spanning is die wyse waarop jou liggaam op uitdagings of eise reageer. Dit help jou om gevaar te vermy of waarsku jou teen moontlike bedreigings. Dit hou jou op jou tone en maak jou opgewonde oor nuwe dinge of gebeure. Jou liggaam reageer op stres deur hormone af te skei. Hierdie hormone maak jou brein “wakker”, laat jou spiere saamtrek en verhoog jou hartklop. Dit dra alles by om jou liggaam vinnig en effektief te laat reageer.

Spanning is nodig dat ons ons beste kan lewer. ʼn Gesonde hoeveelheid spanning is nodig sodat ons kan groei of ten minste verbeter. Gesonde vlakke van stres gee selfs energie. Ons ervaar dit elke dag. “Gesonde stres” is soms deel van die lewe en ʼn normale reaksie op die verantwoordelikhede in jou beroeps- en gesinslewe of sekere situasies waarin jy jou kan bevind en kan jou help om hierdie dinge te hanteer. Spanning oor ʼn kort tydperk is voordelig, maar wanneer dit ʼn chroniese toestand raak beïnvloed dit jou gesondheid.

Ons raak oorweldig wanneer die stresvlakke so hoog gaan draai dat ons dit nie meer suksesvol kan bestuur nie. Dit veroorsaak dat ʼn persoon dan ineenstort (shut down). Dit kan vergelyk word met ʼn enjin: dit kan ook net soveel gebruik word, dan moet dit gediens word, anders breek dit. Dieselfde beginsel geld vir jou liggaam: daar moet gelet word op tekens van ooreising, anders kan dit nie sy “diens” lewer nie.

Wanneer ons oorweldig is, kan ons nie funksioneer nie. Ons kan nie besluite neem nie, ons kan nie iets logies aanpak nie. ʼn Mens gaan in ʼn permanente veg-, vlug- of vriestoestand in. Ons kan dus nie die gewone situasies hanteer nie. Wanneer het ʼn mens te veel spanning? Hoe weet jy wanneer stres nie meer gesond is nie? Die kanse is baie goed dat jy al ʼn uitbrandingsprofiel het as jy op die volgende vrae ja antwoord:

  • Is jy oorwegend sinies/ krities by jou werk?
  • Sleep jy jouself elke dag werk toe?
  • Sukkel jy om jou ritme te vind as jy eers daar is?
  • Is jy meer geïrriteerd, onverdraagsaam en veral ongeduldig met kollegas en met kliënte?
  • Is jou energievlakke te laag om konsekwent produktief te wees by die werk?
  • Is dit vir jou moeilik om te konsentreer?
  • Voel jy voortdurend ontnugter oor jou werk?
  • Gebruik jy kos, alkohol, dwelmmiddels of tuismedikasie om jou te laat beter voel?
  • Het jou slaappatrone verander?
  • Sukkel jy met onverklaarbare hoofpyne, maagpyne, verteringsprobleme en allerhande fisieke klagtes?

Spanningsimptome is soms vaag en stem ooreen met baie ander mediese toestande. Elke persoon hanteer spanning anders en nie almal vertoon dieselfde simptome nie. Dit beïnvloed alle vlakke van jou lewe en voorbeelde van simptome kan op verskeie vlakke gesien word.

Tekens dat jy aan te veel spanning of stres ly:

(Foto: Nik Shuliahin/Unsplash)

Hier is 23 tekens waarna ons kan oplet:

Verstandelike simptome

  1. Sukkel om te konsentreer of professionele effektiwiteit neem af
  2. Sukkel om besluite te neem
  3. Sien die glas half leeg – ʼn negatiewe of siniese uitkyk op die lewe
  4. Angstige en malende gedagtes
  5. Konstante kommer

Emosionele simptome

  1. Algemene buierigheid
  2. Geïrriteerd en kort van humeur; onverdraagsaam en ongeduldig met kollegas en kliënte
  3. Onvermoë om te ontspan – altyd half kwaad
  4. Voel oorweldig deur die eise van die lewe
  5. Voel alleen en geïsoleerd
  6. Ongelukkig in die algemeen – selfs depressief

Fisiese simptome

  1. Pyne en skete in die liggaam
  2. Diarree of hardlywigheid
  3. Naarheid, duiseligheid en vertigo
  4. Vinnige hartklop, selfs borskaspyn
  5. Lae libido
  6. Lae immuniteit, gereelde verkoue- en griepepisodes

Gedragsimptome

  1. Eet meer of minder
  2. Slaap meer of minder
  3. Isoleer jouself van ander
  4. Stel belangrike verantwoordelikhede uit of verwaarloos dit of werk selfs onmenslike lang ure.
  5. Oorgebruik van alkohol, sigarette of selfs dwelmmiddels om te kan ontspan
  6. Senuweeagtige gewoontetjies

Dit is belangrik dat ons stres bestuur. Ons is ʼn groot deel van die dag en week by die werk. Die ure na werk is min om lewensgehalte in te bou. Vir jare was die werksetiek nie gefokus op die totale mens nie, dit was nie ʼn prioriteit dat mense vervulling uit hulle werk moes kry nie. Die siening was dat jy moet werk om te eet. Daar is geredeneer dat jy maar te dankbaar moet wees jy het ʼn werk en dat jy nie noodwendig van jou werk sal hou nie, jy moet net jou kop laat sak en werk! Hierdie is gruwelike diskoerse, maar tree tog nou weer in, omdat werk skaars is en mense nie altyd kan kies waar hulle wil werk nie. Daar moet verkieslik ʼn werkskultuur heers dat jou werk nie net stimulerend moet wees nie, maar dat jy ook werksbevrediging behoort te ervaar.

 Empatiese oorlading (compassion fatigue)

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Josefa Ndiaz / Unsplash)

Dit is ʼn term wat die fisiese, emosionele en psigologiese impak op ʼn versorger of persoon wat ander mense help, beskryf. In die hulpprofessie word dikwels stres en trauma ervaar. Hierdie helpers kan emosioneel en fisies so gedreineer word dat hulle vermoë om empatie vir ander te voel, afneem. Die tekens hiervan stem ooreen met die tipiese tekens van uitbranding – ’n opbouende gevoel van uitputting of onvervuldheid. Dit word dikwels beskryf as die negatiewe prys wat versorgers moet betaal, ʼn sekondêre traumatiese stres. Hierdie tipe uitbranding is al jare bekend, maar is nou weer met die wêreldwye pandemie die afgelope paar jaar onder die vergrootglas geplaas.

Hoe kan uitbranding voorkom word?

Bestuur stres suksesvol. Kry maniere om jou stresreaksies te lees en te beheer en die liggaam te help om te ontspan en te genees.

Ken jou uitbrandingsprofiel. Jy moet weet wanneer steek jy die grense tussen die volgende drie dimensies oor: voel energiek – voel moeg of lusteloos – uitputting of uitbranding. Wees ook bewus van hoeveel keer en wanneer jy hierdie grense getoets het. Maak seker dat jy weet wat maak jou moeg, wat put jou uit en wat maak jou moedeloos.

Ontdek die waarde van uitdrukking. Praat met kollegas, jou baas of ʼn terapeut. Deur taal skep ons realiteit. In taal druk ons dit wat ons ervaar in woorde uit, dus kan die taal wat ons gebruik ons ervaringe verander. Ons taal is die huis waarin ons woon.

Bou ʼn ondersteuningsisteem op, deur te delegeer of gebruik te maak van ʼn mentor, toesighouer of vriend om jou te ondersteun.

Kuier met ʼn vriend of vriendin. Dit laat jou fokus op iemand anders.

Monitor jou slaapure, slaapomgewing en slaappatroon.

Gesonde eet- en drinkgewoontes is belangrik. Vermy te veel koffie of energiedrankies.

Kry genoeg oefening. Dit is voordelig vir jou gesondheid om fiks te bly, jou gewig te beheer en vir jou doelwitte hiervoor te stel.

Fokus op selfliefde. Kristin Neff van selfcompassion.org sê: “Give yourself the same kindness and care we’d give to a good friend.”

Neem verlof. Verlof is so belangrik vir jou werksgesondheid as wat slaap vir jou liggaam is. Dit verg drie weke van ononderbroke rus om van uitbranding te herstel. Dokters mag iemand nie meer as 3-5 dae afboek nie, anders moet die pasiënt gehospitaliseer word. Gebruik dus betyds jou verlof, voordat jy vir uitbranding mediese hulp moet inroep. Kry ʼn afstand (ook in jou gedagtes) van jou werk of van dit wat jou spanning veroorsaak af.

Kom in kontak met die natuur. Die elemente van die natuur grond weer jou menswees.

Kry vir jou stokperdjies.

Raak stil of mediteer. Dit gee jou brein kans om weer te programmeer.

Gaan kerk toe, sing geestelike liedere of gesels met jou geestelike mentor.

Kry vir jou ʼn digitale geestesgesondheidstoepassing of vriend. ʼn Voorbeeld hiervan is Get Frank of Your companion.

Leer om die energie van elke dag se stres te transformeer tot energie vir die lewe!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.