Is ons aandag aan die kwyn?

(Foto: iStock)

Is die oorvloed stimuli op sosiale media, ander aanlyn snuffelplekke en die nuusmedia besig om ons konsentrasievermoë te kortwiek? Het ons vermoë om behoorlik aandag te skenk en ten volle op ’n spesifieke taak te fokus, werklik tot minder as dié van ’n goudvis verskraal?

Wat is aandag?

Daar is reeds ontsaglik baie empiriese navorsing gedoen om te bepaal wat die maksimum aantal gedagtes is waarop ons kan fokus, en vir hoe lank ons dit kan volhou. Die twee primêre veranderlikes wat hierdie vermoë beïnvloed, is die mate waarin ons in iets belangstel, en hoeveel ander stimuli om ons aandag meeding, berig die inligting- en opvoedkundige webwerf, Very Well Mind.

Aandagspan is egter nie ’n enkelvoudige óf eenvoudige kognitiewe proses nie. Dit is die ingewikkelde gevolg van verskeie prosesse waarmee ons die aandagkaf van die koring skei. Die Amerikaanse sielkundige en filosoof William James het dit reeds in 1890 in The Principles of Psychology beskryf as “besitneming deur die verstand, op ’n helder en duidelike manier, van een voorwerp of gedagtegang uit verskeie ander wat gelyktydig moontlik kan wees. Dit impliseer die vervreemding van een, ten einde doeltreffend met die ander om te gaan”.

(Foto: iStock)

Aandag kan op meer as een manier vergestalt:

  • Toegespits – volgehoue aandag aan een bepaalde stimulus of aktiwiteit;
  • Selektief – uitsluitlike aandag aan een stimulus ten koste van ander stimuli in die omgewing;
  • Verdeeld – gelyktydige, dog beperkte aandag aan meer as een stimulus in die omgewing; en
  • Wisselend – verdeelde aandag aan meer as twee stimuli in die omgewing.

Inligtingoormaatgevaar

Volgens navorsing deur die Tegniese Universiteit van Denemarke, is daar ’n sterk ooreenstemming tussen die enorme hoeveelheid inligting wat aan ons opgedis word, en die wêreldbevolking as ’n geheel se kollektiewe konsentrasievermoë. Dié studie, wat in die Amerikaanse Vereniging vir die Bevordering van Wetenskap gepubliseer is, het bevind dat daar soveel meer onderwerpe is wat ons aandag vereis, dat ons minder tyd het om op individuele onderwerpe te fokus.

Die felheid waarmee onderwerpe in ons reeds gefragmenteerde openbare diskoers teen mekaar meeding, en die snelheid waarteen dit mekaar vervang, gaan klaarblyklik nog verder toeneem. Dit sal ons konsentrasievermoë noodgedwonge belemmer en ons fokus verwater. Sosioloë, sielkundiges en onderwysers voorspel trouens ’n naderende krisis weens die gevaarlike behoefte daaraan om heeltyd op die hoogte te wees van onderwerpe op sosiale media en in die nuus.

Dr. Gloria Mark, professor in informatika aan die Universiteit van Kalifornië, meen in die boek, Attention span: A groundbreaking way to restore balance, happiness and productivity, dat ons skerm-aandagspan van 2½ minute in 2004 tot gemiddeld 47 sekondes gedaal het, berig CNN. Volgens Gloria is ons konsentrasiespan nie net besig om te kwyn nie, maar indien ons aandag afgelei word, neem dit ongeveer 25 minute om weer op die oorspronklike taak (waarmee ons doenig was) te fokus.

Die goudvis-fabel

(Foto: iStock)

Die stelling dat ons vermoë om aandag te gee tot minder as dié van ʼn goudvis gedaal het, is egter ’n twyfelagtige stelling. Verskeie weergawes daarvan het in 2015 in respekteerde publikasies soos The New York Times, Forbes, Marketplace en die tydskrif Time opgeduik.

Dié vername publikasies se beriggewing berus op ’n aanhaling uit ’n voorlegging van Microsoft in 2015. Dit het bemarkers van ’n Microsoft-produk aangeraai om sosialemediagebruikers se aandag met klein happies hiperfokus in te hok. Een van die illustrasies het ’n goudvis uitgebeeld met ’n byskrif wat suggereer dat bemarkers net agt sekondes het om gebruikers se aandag te kry.

Dit mag dalk die geval vir sosiale media wees (waar ’n mens se vinger vinnig van die een plasing na die volgende woerts), maar as ons gedagtegang werklik net enkele sekondes lank was, hoe is dit moontlik dat daar nog rolprente en reekse gemaak word?

’n Netflix-opname in 2017 het getoon dat die meeste van sy kykers gemiddeld twee tot ses episodes ná mekaar kyk en verkies om ’n reeks in een sessie deur te draf, eerder as om die episodes een vir een te kyk. In 2019, ’n dag nadat Netflix die derde reeks van Stranger Things vrygestel het, het 824 000 Amerikaanse kykers ál nege episodes binne die eerste dag verorber. Belangstelling en aandag is dus ten nouste verweef.

As (net) die goudvisteorie gegeld het, sou dit onmoontlik vir enigiemand gewees het om meer as sewe uur se beeldmateriaal in een sitting te absorbeer. (En sou jy waarskynlik lankal ophou lees het aan hierdie artikel!)

Verbeter jou konsentrasievermoë

(Foto: iStock)

Ons vermoë om ons aandag toe te spits, te verdeel of te wissel, verskil natuurlik van mens tot mens, omdat elke brein uniek bedraad en geprogrammeer is. Dit bereik ’n hoogtepunt in ons vroeë twintigs, net soos al ons ander breinfunksies.

Kinderontwikkelingskenners meen die aandagspan van tweejariges wissel tussen 2 en 5 minute, terwyl dié van 16-jariges tussen 32 en 48 minute is. Dit hang natuurlik af van hoeveel afleiding in die nabyheid is, hoe honger of moeg die kind is, en hoe geïnteresseerd hulle in die aktiwiteit is. As jou kind se aandagspan egter korter as die gemiddelde is, is dit ’n moontlik rede tot kommer en tyd om ’n kenner te nader.

As jy as volwassene bly vergeet waar noodsaaklike items is, of aanhou om agterlosige foute te maak en swak besluite te neem, moenie dit ignoreer nie. Sulke simptome kan op onderliggende kognitiewe kwessies of gemoedsversteurings dui weens stres, uitputting, slaapgebrek, dehidrasie, ’n gebrekkige dieet of ʼn onaktiewe leefstyl.

Toets en handhaaf roetines of maatreëls wat jou konsentrasievermoë op alledaagse maniere verbeter, soos byvoorbeeld:

Bykomende bronne: Harvard Health Publishing, Healthline, Brain Balance en Parents.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.