Jou dieet kan jou depressie vererger

depressie

(Foto: Mentalhealth.com)

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (Sadag) het die aantal oproepe van mense wat tekens van depressie toon, toegeneem weens die Covid-19-pandemie en die gevolglike afsondering.

Volgens studies ly sowat 300 miljoen mense wêreldwyd aan depressie en die helfte van die mense wat gediagnoseer is, voltooi nooit die behandeling daarvoor nie. In Suid-Afrika word een uit elke vier vroue jaarliks met kliniese depressie gediagnoseer.

Omy Naidoo, ʼn dieetkundige by Newtricion Wellness, sê mense moet hulle dieet in ag neem wanneer hulle depressie probeer bekamp.

Daar is talle maniere hoe depressie ʼn mens se dieet kan beïnvloed, byvoorbeeld ʼn verandering in eetlus, ʼn vermindering of algehele verlies van eetlus en ʼn hunkering na sout, soet of hoëvet-kos wat alles bydra tot verminderde energie.

(Foto: Pixabay)

“Navorsing toon toenemend dat inflammasie ʼn aanwyser van depressiewe en nie-depressiewe simptome is. Dit beteken dat diëte wat hoog in kossoorte is wat die liggaam se inflammasie verhoog, die kans op depressie verhoog, terwyl anti-inflammatoriese kossoorte mense teen depressie kan beskerm,” sê Naidoo.

Naidoo stel voor dat mense kos eet wat ryk is aan onverfynde graansoorte, visolie, maer vleis en varkvleis, neute, vars vrugte en groente, asook boontjies, lensies en ertjies om die kanse van depressie te verminder.

Deur bedag te wees op wat jy eet, kan jy nie net depressie voorkom of verminder nie, maar dit is ook op lang termyn voordelig vir jou fisieke en geestelike gesondheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.