Leukemie: As die witbloedselweermag faal

(Foto: iStock)

Witbloedselle is die liggaam se soldate wat hom teen infeksie en siektes beskerm. Soms ontwikkel abnormale witbloedselle egter teen só ʼn strawwe spoed dat dit normale witbloedselle, rooibloedselle en bloedplaatjies, wat onder meer suurstof na lewensnoodsaaklike liggaamsdele vervoer en met bloedstolling help, verdring en leukemie veroorsaak.

Augustus is Leukemiebewustheidsmaand en luidens die resultate van ʼn studie wat in 2021 gepubliseer is, ly sowat 2,4 miljoen mense aan dié soort kanker. Die woord leukemie is ʼn samestelling van die Griekse woorde vir “wit” (leukos) en “bloed” (haima).

Leukemie, wat ook bloedkanker genoem word, word gekenmerk deur die vinnige groei van abnormale bloedselle, gewoonlik ontwikkelende (of onvolwasse) witbloedselle. Hierdie onbeheersde selgroei vind in die beenmurg plaas, waar die meeste van die liggaam se bloed vervaardig word. In teenstelling met ander soorte kanker, vorm leukemie gewoonlik nie ʼn groeisel of gewas wat op X-strale of CT-skanderings opgemerk kan word nie.

Soorte leukemie

Sommige soorte leukemie kom meer algemeen by kinders voor, terwyl ander soorte meer dikwels by volwassenes gevind word. Daar word tussen akute en chroniese leukemie onderskei.

By akute leukemie verdeel die selle blitsig en vorder die siekte vinnig. Die persoon sal binne weke siek begin voel. Akute leukemie is lewensgevaarlik en vereis onmiddellike mediese sorg. Dit is die algemeenste kanker by kinders. Chroniese leukemie vorder op sy beurt stadiger. As jy chroniese leukemie het, kan jy vir jare geen simptome opmerk nie. Chroniese leukemie is meer algemeen by volwassenes as by kinders.

Vier hoofsoorte leukemie word onderskei:

  • Akute limfositiese leukemie (ALL) is die algemeenste soort leukemie by kinders, tieners en jong volwassenes tot die ouderdom van 39 jaar, maar kan ook by volwassenes van enige ouderdom voorkom.
  • Akute myelogene leukemie (AML) is die algemeenste soort wat by volwassenes gediagnoseer word. Dit is meer algemeen by ouer volwassenes (diegene ouer as 65 jaar), maar word ook soms by kinders gediagnoseer.
  • Chroniese limfositiese leukemie (CLL) is die algemeenste chroniese leukemie by volwassenes (veral by mense ouer as 65 jaar). Simptome van CLL sluimer dikwels ongesiens vir jare.
  • Chroniese myelogene leukemie (CML) is meer algemeen by ouer volwassenes (veral by mense ouer as 65 jaar), maar kan volwassenes van enige ouderdom raak. Dié soort leukemie kom selde by kinders voor en soos by CLL, kan simptome van CML eers later opduik.

Simptome

(Foto: iStock)

Simptome sluit in:

  • Uitputting;
  • koors of nagsweet;
  • gereelde infeksies;
  • kort van asem;
  • bleek vel;
  • onverklaarbare gewigsverlies;
  • been- of gewrigspyn, of teerheid;
  • pyn of “vol gevoel” onder die ribbes;
  • geswelde limfkliere in die nek, oksel, lies of maag;
  • ʼn vergrote milt of lewer;
  • kneus of bloei maklik, insluitend neusbloeding en bloeiende tandvleis; en
  • ʼn uitslag of pers of donker kolle.

Risikogroepe

Hoewel leukemie dikwels meer gereeld by mans voorkom, kan enigeen leukemie ontwikkel. Studies het wel faktore geïdentifiseer wat jou risiko kan verhoog:

  • Vorige kankerbehandeling wat bestraling of chemoterapie behels, kan die waarskynlikheid verhoog dat jy leukemie ontwikkel.
  • As jy ʼn geskiedenis van rook of blootstelling aan tweedehandse rook het, het jy ʼn groter risiko om AML te ontwikkel.
  • Benseen en formaldehied is bekende kankerveroorsakende chemikalieë wat in boumateriaal en huishoudelike chemikalieë voorkom. Benseen word gebruik om plastiek, rubber, kleurstowwe, plaagdoders en skoonmaakmiddels te vervaardig. Formaldehied kom in boumateriaal en huishoudelike produkte soos seep, sjampoe en skoonmaakmiddels voor.
  • Genetiese afwykings soos neurofibromatose, Klinefelter-sindroom, Schwachtman-Diamond-sindroom en Downsindroom, kan jou leukemierisiko verhoog.
  • Navorsing dui daarop dat sommige soorte leukemie deur geslagte kan strek. Dit beteken egter nie dat jy of ʼn familielid vir seker leukemie sal ontwikkel as ʼn familielid leukemie het nie. Jou dokter kan egter genetiese toetse aanbeveel om jou risiko te bepaal.

Diagnose

Diagnostiese toetse kan die volgende insluit:

  • Fisiese ondersoek: Jou dokter sal oor jou simptome uitvra en jou vir geswelde limfkliere en ʼn vergrote milt of lewer ondersoek. Hy of sy sal ook na jou tandvleis kyk vir bloeding en swelling, asook vir ʼn veluitslag.
  • Volbloedtelling: Dié bloedtoets toon of jy abnormale vlakke rooibloedselle, witbloedselle en bloedplaatjies het. As jy leukemie het, sal jy waarskynlik ʼn baie hoë witbloedseltelling hê.
  • Bloedselondersoek: Bykomende bloedmonsters kan geneem word om merkers te identifiseer wat die teenwoordigheid van leukemieselle of ʼn spesifieke soort leukemie kan aandui.
  • Beenmurgbiopsie: ʼn Beenmurgbiopsie help om die persentasie abnormale selle in jou beenmurg te bepaal, wat ʼn leukemiediagnose kan bevestig.
  • Skanderings: Jou dokter kan ʼn borskas X-straal, CT- of MRI-skandering aanvra as daar aanduidings is dat leukemie jou bene, organe of weefsel aangetas het.
  • Lumbale punksie: Spinale vloeistof kan voorts getoets word om vas te stel of die leukemie na die vloeistof wat jou brein en rugmurg omring, versprei het.

Behandeling

Die behandelingsprotokol vir leukemie hang af van die soort leukemie, die persoon se ouderdom asook sy of haar algehele gesondheid. Dit kan insluit:

  • Chemoterapie is die algemeenste behandelingsvorm en is daarop gemik om leukemieselle dood te maak of te verhinder dat dit vermeerder. Dié behandeling is binneaars of deur medikasie wat gedrink word, of ʼn kombinasie daarvan.
  • Immunoterapie behels medikasie om die liggaam se verdedigingstelsel (jou immuunstelsel) te versterk om leukemieselle te beveg. Dit help die immuunstelsel om kankerselle te identifiseer en meer selle te produseer wat dit beveg.
  • Geteikende terapie teiken spesifieke dele van ʼn leukemiesel (soos ʼn proteïen of geen) om te verhinder dat dié selle vermeerder, sny hul bloedtoevoer af of maak hulle dood. Geteikende terapie is minder geneig om normale selle te beskadig.
  • Met bestraling word sterk energiestrale of X-strale gebruik om leukemieselle dood te maak of te keer dat hulle groei. Die bestraling is op spesifieke plekke in die liggaam waar die kankerselle is, of kan voor ʼn hematopoïetiese seloorplanting oor die hele liggaam gedoen word.
  • ʼn Hematopoïetiese seloorplanting (stamsel- of beenmurgoorplanting) vervang die kankeragtige selle wat deur chemoterapie en/ of bestraling doodgemaak word met nuwe, gesonde selle. Die gesonde selle vermeerder en vorm nuwe beenmurg en bloedselle.
  • Chimeriese antigeenreseptor (CAR) T-selterapie: Dit is ʼn nuwe soort terapie wat jou liggaam se infeksiebestrydende T-selle (ʼn T-sel of T-limfosiet is ʼn soort immuunsel) onttrek, dit “aanpas” en in die liggaam terugplaas om die leukemieselle te beveg.

Bykomende bronne: Cleveland Clinic, Mayo Clinic, Healthline, WebMD, Cancer.org en Medlineplus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.