Lewensgevaarlike slaapdief wat jou rus steel

(Foto: iStock)

Jy kan gerus maar gaan loer: Die belangrikheid van genoeg slaap en die handhawing van ’n gesonde slaaproetine duik nie net in elke denkbare gesondheidstudie op nie, maar verskyn op die doktersvoorskrif vir bykans enige kwaal.

Tog is daar ’n sluimerende skurk wat dikwels in die spreekkamer oor die hoof gesien word – ’n potensieel lewensgevaarlike slaapversteuring wat, sonder die korrekte behandeling, jou gesondheid sal bly ontspoor.

Vergelyk dit met ’n rekenaar. As jy ’n draai gaan loop en jy jou rekenaar vir ’n rukkie nie gebruik nie, gaan dit in “slaapmodus”. Dis nou wanneer allerlei kleurvolle blokkies, patrone of foto’s oor die skerm dans. Die rekenaar is egter steeds aangeskakel. Slaap, dis nou behoorlike of gesonde slaap waarvan die kenners praat, is as die rekenaar heeltemal afgeskakel en uitgeprop is. Slaapapnee veroorsaak dat jou liggaamsrekenaar nooit heeltemal afskakel nie, maar in slaapmodus talm.

So wat is slaapapnee presies?

Slaapapnee is ’n gevaarlike toestand wat veroorsaak dat jy ophou asemhaal terwyl jy slaap. Die woord apnee kom van die Griekse woord wat “asemloos” beteken, en is óf as gevolg van ’n blokkasie van jou lugweg, óf omdat jou brein nie jou asemhaling korrek reguleer nie.

(Foto: iStock)

Die gevolglike gebrek aan suurstof aktiveer ’n oorlewingsrefleks of -reaksie wat jou net wakker genoeg maak om weer asem te haal. Ofskoon dié refleks jou letterlik aan die lewe hou, onderbreek dit jou slaapsiklus. Dit rem egter nie net rustige slaap nie, maar het ’n enorme uitwerking op jou gesondheid wat potensieel dodelike gevolge kan hê.

Hoewel sekere mense ’n hoër risiko het om slaapapnee te ontwikkel, raak dit mense van alle ouderdomme – van pasgebore babas tot volwassenes. Daar word geraam dat minstens 10% van die wêreldbevolking aan slaapapnee ly. As jy snork en dag ná dag uitgeput uit die bed strompel, is die kans goed dat jy hiermee worstel.

Soorte slaapanee

Die hoofsoorte slaapapnee is:

  • Obstruktiewe slaapapnee (OSA). Dit is die meer algemene vorm en kom voor wanneer die spiere in die keel ontspan en die vloei van lug belemmer.
  • Sentrale slaapapnee (CSA) is wanneer die brein nie behoorlike seine na die spiere stuur wat asemhaling beheer nie.
  • Behandeling-ontluikende sentrale slaapapnee, ook bekend as komplekse slaapapnee, gebeur wanneer OSA (dit word met ’n slaapstudie gediagnoseer) omskakel na CSA wanneer ’n persoon behandeling vir OSA ontvang.

Simptome

(Grafika: Janice du Plessis/Maroela Media)

Risikofaktore

Faktore wat die risiko vir slaapapnee verhoog, sluit in:

  • Vetsug verhoog die risiko aansienlik, omdat vet rondom die boonste lugweg versamel en asemhaling kan belemmer.
  • Mense met ’n dikker nek, kan nouer lugweë hê.
  • ’n Vernoude lugweg. Mangels of adenoïede kan ook die lugweg vergroot en blokkeer, veral by kinders.
  • Mans is 2 tot 3 keer meer geneig om slaapapnee te hê as vroue. Vroue se risiko verhoog egter as hulle oorgewig is of deur menopouse gegaan het.
  • Slaapapnee kom meer dikwels by ouer volwassenes voor.
  • Om familielede met slaapapnee te hê, kan jou risiko verhoog.
  • Alkohol en medikasie. Gebruik van alkohol, kalmeermiddels of spierverslappers ontspan die spiere in jou keel, wat obstruktiewe slaapapnee kan vererger.
  • Rook. Rokers is drie keer meer geneig om obstruktiewe slaapapnee te hê as mense wat nog nooit gerook het nie. Rook kan die hoeveelheid inflammasie en vloeistofretensie in die boonste lugweg verhoog.
  • Neusverstopping. As jy sukkel om deur jou neus asem te haal, hetsy as gevolg van ’n anatomiese rede of allergieë, is jy meer geneig om obstruktiewe slaapapnee te ontwikkel.
  • Mediese toestande. Hartversaking, hoë bloeddruk en tipe 2-diabetes is van die toestande wat die risiko van obstruktiewe slaapapnee kan verhoog. Polisistiese ovariumsindroom, hormonale afwykings, vorige beroerte en chroniese longsiektes soos asma kan ook die risiko verhoog.

Gevaarlike gevolge

Slaapapnee is ’n ernstige mediese toestand, met komplikasies wat die volgende kan insluit:

  • Die feit dat jy gereeld wakker skrik, lei tot ernstige slaperigheid, moegheid en prikkelbaarheid gedurende die dag. Die gevolglike gebrekkige konsentrasievermoë lei tot ’n verhoogde risiko vir motor- en werkplekongelukke. Angs, depressie en buierigheid kan jou interaksie met ander nadelig beïnvloed (dis nou benewens die gesnork wat geliefdes die hasepad na ’n ander slaapkamer of sitkamerbank laat vat), terwyl kinders en adolessente met slaapapnee swak op skool presteer en gedragsprobleme kan toon.
  • Hoë bloeddruk en hartprobleme. Skielike dalings in bloedsuurstofvlakke, verhoog bloeddruk en strem die kardiovaskulêre stelsel. Dit verhoog jou risiko vir hoë bloeddruk, ook bekend as hipertensie. Dit kan ook jou risiko vir herhalende hartaanvalle, beroertes en onreëlmatige hartklop verhoog. As jy hartsiektes het, kan verskeie episodes van lae bloedsuurstof (hipoksie of hipoksemie) lei tot skielike dood as gevolg van ’n onreëlmatige hartklop.
  • Tipe 2-diabetes. Slaapapnee verhoog jou risiko om insulienweerstandigheid en tipe 2-diabetes te ontwikkel.
  • Metaboliese sindroom. Hierdie afwyking, wat hoë bloeddruk, abnormale cholesterolvlakke, hoë bloedsuiker en ’n groter middellyfomtrek insluit, word met ’n hoër risiko vir hartsiektes verbind.
  • Komplikasies met medisyne en chirurgie. Obstruktiewe slaapapnee is ook problematies wanneer dit by sekere medisyne en algemene narkose kom. Mense met slaapapnee kan meer geneig wees om komplikasies ná ʼn groot operasie te hê, omdat hulle geneig is tot asemhalingsprobleme. Lig jou geneesheer in as jy aan slaapapnee ly, voordat jy chirurgie ondergaan.
  • Mense met slaapapnee is meer geneig om onreëlmatige resultate op lewerfunksietoetse te hê, en hul lewer is meer geneig om “littekens” te toon, beter bekend as nie-alkoholiese lewervetsiekte.

Diagnose en behandeling

Jou mediese dokter sal jou waarskynlik na ’n slaapspesialis verwys wat toetse vir slaapapnee sal doen. Die evaluering behels dikwels oornagmonitering van jou asemhaling en ander liggaamsfunksies tydens slaaptoetse by ’n slaapsentrum. Huisslaaptoetse kan ook ’n opsie wees. Toetse om slaapapnee op te spoor, sluit in:

  • Nagtelike polisomnografie. Tydens hierdie toets word jy aan toerusting gekoppel wat jou hart-, long- en breinaktiwiteit, asemhalingspatrone, arm- en beenbewegings, en bloedsuurstofvlakke monitor terwyl jy slaap.
  • Jou gesondheidsorgverskaffer kan jou dalk van vereenvoudigde toetse voorsien wat by die huis gedoen kan word om slaapapnee te diagnoseer. Hierdie toetse meet gewoonlik jou hartklop, bloedsuurstofvlak, lugvloei en asemhalingspatrone.

As die resultate nie tipies is nie, kan die spesialis behandeling sonder verdere toetsing aanbeveel. As jy obstruktiewe slaapapnee het, kan jou gesondheidsorgverskaffer jou na ‘n oor-, neus- en keelspesialis verwys om ’n blokkasie in jou neus of keel uit te skakel. ‘n Evaluering deur ’n hartspesialis (kardioloog), of ’n dokter wat in die senuweestelsel spesialiseer (neuroloog), kan nodig wees om die oorsake van sentrale slaapapnee te bepaal.

In ligter gevalle van slaapapnee, kan leefstylveranderings soos om gewig te verloor of op te hou rook, ’n reuseverskil maak. Jy kan dalk ook die posisie waarin jy slaap, verander. As jy allergieë het, kan jou dokter behandeling hiervoor voorskryf.

(Foto: iStock)

As hierdie maatreëls egter nie jou simptome verbeter nie of as jou apnee matig tot ernstig is, is ’n aantal ander behandelings beskikbaar, insluitend lugwegdruktoestelle wat kan help om die lugweg oop te hou, suurstofinname te beheer en reëlmatige asemhaling in die hand te werk. Chirurgie word gewoonlik as ’n laaste uitweg aanbeveel.

Bykomende bronne: Mayo Clinic, Cleveland Clinic, Hopkins Medicine, WebMd, Sleep Foundation en Medical News Today.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

koos ·

Met hierdie huidige regime aan bewind, kan geen regdenkende mens rustig slaap nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.