Moegheid: Simptoom of sindroom?

(Foto: iStock)

Ten spyte van ’n behoorlike Desemberblaaskans, en die jaar wat nou eers die stertkant van Februarie nader, is talle mense se gô rééds uit. Of dit nou om die braaivleisvuur of Sondag ná kerk is: Al meer mense kla van ’n futloosheid wat hul energievuur reeds op dié vroeë stadium van die 2023-wedstryd versmoor. Is dit bloot moegheid of ’n mediese toestand met dieperliggende oorsaakwortels?

Simptoom of sindroom?

Dit is belangrik om te weet dat chroniese (of langdurige) moegheid en chroniesemoegheidsindroom (“chronic fatigue syndrome” of CFS) nie dieselfde is nie. Moegheid is ’n simptoom, iets wat jy ervaar en kan beskryf, en nie ’n siekte nie. CFS is egter ’n perd van ’n ander kleur. So wat is die verskil?

  • Chroniese moegheid verwys na oormatige, oënskynlik onverklaarbare moegheid en ’n gebrek aan energie – gereelde rus en slaap ten spyt. Dit kom voor weens spanning, depressie, oormatige óf ’n gebrek aan inspanning, slapeloosheid, verkeerde medikasie, of ʼn kombinasie van verskeie faktore. Dit kan ook ʼn simptoom wees wat by ander diagnoseerbare siektes voorkom, insluitend CFS.
  • Hoewel dit vroeër kontroversieel was, is chroniesemoegheidsindroom vandag ’n erkende mediese toestand met langdurige moegheid as een van die primêre simptome, bykomend tot byvoorbeeld spier- en hoofpyne, kognitiewe inkorting en slaapversteuring. CFS, of myalgiese enkefalopatie (ME) kan slegs gediagnoseer word mits dit langer as ses maande voortduur, en dokters deeglik alle ander moontlike oorsake opgeweeg het.

Tensy daar spesifiek na die sindroom (CFS/ME) eerder as die simptoom verwys word, is dit langdurige moegheid. Jou mediese dokter kan bepaal of jou moegheid die gevolg is van ’n diagnoseerbare, langtermyn- mediese probleem soos bloedarmoede of ’n skildklierdisfunksie.

Simptome

Daar kan ’n ooglopende verband tussen die oorsaak en die simptome wees, soos lomerigheid wat jou saam met ’n verkoue bekruip, of ’n tekort aan slaap weens finansiële bekommernis. Simptome kan insluit:

  • hoofpyn en lighoofdigheid;
  • seer of swak spiere;
  • vertraagde reflekse;
  • belemmerde oordeel;
  • prikkelbaarheid en buierigheid;
  • swakker hand-oog-koördinasie;
  • gebrekkige eetlus;
  • trae immuunfunksie;
  • dowwe of vae sig;
  • korttermyngeheueverlies;
  • verswakte konsentrasie;
  • drastiese aandagafleibaarheid;
  • gereelde seer keel;
  • teer en geswelde limfkliere in jou nek en oksels;
  • ortostatiese onverdraagsaamheid (om van lê of sit na ’n staande posisies te beweeg, laat jou lighoofdig of duiselig voel;
  • hallusinerende episodes; en
  • lae vlakke van motivering.

Oorsake

Die oorsake van CFS is nie klinkklaar nie. Sommige teorieë sluit in ’n virale infeksie, ’n verswakte immuunstelsel, ’n hormoonwanbalans, emosionele spanning of ‘n kombinasie van faktore. CFS kan enigiemand beïnvloed, al kom dit die algemeenste onder vroue in hul 40’s en 50’s voor. Daar is geen genesing hiervoor nie, maar behandeling is op die verligting van die simptome gerig.

Behalwe vir diagnoseerbare oorsake soos bloedarmoede, skildklierdisfunksie, diabetes of spesifieke hartsiektes, kan dit ook toegeskryf word aan leefstylprobleme, stresvolle situasies by die werk, of emosionele trauma en bekommernis.

(Foto: iStock)

Leefstylprobleme sluit in:

  • Te veel of te min slaap, of ’n onvermoë om aan die slaap te raak;
  • stimulante wat tot slapeloosheid lei, soos alkohol, nikotien en kafeïen;
  • slaapversteurings soos slaapapnee;
  • slaapsteurnisse soos raserige bure, kinders wat snags wakker skrik, of ’n lewensmaat se gesnork;
  • energievlakke wat daal weens ’n gebrek aan fisieke aktiwiteit of oefening;
  • voedingstekorte weens swak eetgewoontes; en
  • persoonlike uitdagings met gesondheid, finansies of verhoudings.

Stresvolle situasies by die werk sluit in:

  • Die ontwrigtende uitwerking van skofwerk;
  • werk- of toekomsonsekerheid;
  • aanpassing by ’n nuwe omgewing (soos tuiskantoor of pendel tussen tuiskantoor en maatskappykantoor);
  • oorlading of onderbenutting; en
  • werkloosheid.

Emosionele trauma en bekommernis is ’n vername oorsaak van chroniese moegheid. Dit sluit in:

  • Depressie en neerslagtige gevoelens; en
  • angs en stres, hartseer, verlies en eensaamheid.

Ten spyte van al meer navorsing oor die onderwerp, bly CFS ‘n ingewikkelde toestand met geen presiese bekende oorsaak en genesing nie. Die herstelkoers word boonop op slegs 5% geraam. Dit kan by tye verdwyn (in remissie gaan), maar later weer kop uitsteek. Die bestuur van CFS kan dus uitdagend wees.

(Grafika: Janice du Plessis/Maroela Media)

Meer oor die vyfpuntplan

  • Slaap: Dit is ʼn lewensbelangrike funksie wat jou liggaam slegs kan uitvoer terwyl jy slaap. Daarom voel jy verkwik, wakker en vol energie nadat jy ’n behoorlike, ononderbroke nagrus gehad het. Elke persoon se liggaam is uniek, maar volgens aanbevelings van die Amerikaanse Akademie vir Slaapmedikasie en Slaapnavorsing, benodig volwassenes ten minste sewe uur slaap per nag.
  • Eet reg: Voedingstoftekorte kan daartoe lei dat jy uitgeput voel, selfs al kry jy ’n behoorlike nagrus in. Navorsing het getoon dat ’n tekort aan die volgende voedingstowwe moegheid aanwakker: yster, riboflavien (vitamien B2), niasien (vitamien B3), pantoteensuur (vitamien B5); piridoksien (vitamien B6), folaat (vitamien B9), vitamien B12, vitamien D, vitamien C en magnesium. Gesels met jou dokter of dieetkundige om te verseker dat jy dié broodnodige voedingstowwe as deel van ’n gesonde en gebalanseerde dieet inneem.
  • Slaan stres vir ’n ses: Chroniese spanning kan lei tot stresverwante uitputtingsversteuring (ED), ’n mediese toestand wat gekenmerk word deur sielkundige en fisieke simptome van uitputting. Boonop kan chroniese stres strukturele en funksionele veranderinge in jou brein veroorsaak en lei tot chroniese inflammasie. Hoewel ’n mens nie altyd stresvolle situasies kan vermy nie, kan die bestuur van stres help om algehele uitputting te voorkom. Maak tyd vir jouself, hetsy deur te lees, te bad, te mediteer, ’n stokperdjie te beoefen of te gaan stap.
  • Dokter toe! As jy onverklaarbare chroniese moegheid ervaar, moet jy jou dokter raadpleeg. Toetse kan gedoen word om sekere gesondheidstoestande wat moegheid veroorsaak uit te skakel, soos slaapapnee, hipotireose, kanker, veelvuldige sklerose, angsversteurings, niersiekte, depressie, diabetes en fibromialgie.
  • Vloeistofinname: Hoewel die meeste van ons meen ’n koppie boeretroos is ál medisyne vir moegheid, moet jy waak teen oormatige kafeïeninname (soos koffie en energiedrankies). Te veel kafeïen veroorsaak rusteloosheid, slapeloosheid, verhoogde nagontwakings, verminderde totale slaaptyd en lomerigheid bedags. Maak seker jy neem genoeg vloeistof in. Hoewel die agt-glase-per-dag aanbeveling soms omstrede is, hang jou vloeistofinname af van jou gewig, ouderdom, geslag en fisieke aktiwiteit. Die sleutel is om genoeg vloeistof te drink om goeie hidrasie te handhaaf. Algemene simptome van dehidrasie sluit in dors, moegheid, duiseligheid en hoofpyn.

Bykomende bronne: Mayo Clinic, dr. Johann Oberholzer, Better Health Channel, Healthline, NHS en Medline Plus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.