Sien om na jou geestesgesondheid tydens Covid-19

depressie-angs

Foto: Kristina Tripkovic/Unsplash.com

Deur Yolanda Taylor

Die koronavirus het omtrent die wêreld op sy kop gekeer en dalk vir jou ook, mits jy voorsorg tref om ’n gesonde gees te aanhou huisves.

Dit voel dalk soms byna onmoontlik om weg te kom van die konstante nuusvloei oor die chaos wat Covid-19 wêreldwyd veroorsaak, die negatiewe impak op die ekonomie, Suid-Afrika se afgradering na rommelstatus, besighede wat gebukkend gaan en moontlik kan vou en die enorme finansiële spanning wat dit meebring.

Sosiale media gons oor elke gebeurlikheid en weinig is positief, daarom raak dit moeiliker om jou kop hoog te hou met elke dag wat verbygaan onder die staat van afsondering. Veral dié wat dalk reeds aan depressie, angstigheid, obsessiewe kompulsiewe versteuring of ander geesteskwale lei.

Dit is bykans onmoontlik om die realiteit te ontsnap of in ontkenning te leef in ons huidige situasie, maar alles begin by jou denke. Alhoewel dit heeltemal verstaanbaar is om bekommerd te wees en selfs angstig oor die onsekerheid asook om in ’n staat van afsondering – wat onnatuurlik en onbekend is – te funksioneer, is dit van die uiterste belang dat jy ’n middeweg vind om kop te hou ondanks die uitdagings.

Angstigheid word teweeggebring deur die vrees om nie in beheer te wees nie, en om die gepaardgaande onsekerheid te kan hanteer. Om ’n sosiale afstand te handhaaf, is sekerlik een van die faktore wat ’n direkte invloed kan hê op individue. Dit is beslis ’n uitdaging en kan traumaties wees om nie fisieke kontak te mag hê met familie en vriende nie en heeldag in en om jou tuiste deur te bring. Dit kan beslis ’n verandering in denkwyse vereis.

Daar is toenemende kommer oor die ingrypende veranderinge wat Covid-19 veroorsaak in ons lewe, gemeenskap en ekonomie. Geleerdes is veral bekommerd oor die psigologiese effek van die pandemie op veral bejaardes, kinders en tieners, minderbevoorregtes en gesondheidswerkers.

Maroela Media het berig dat Suid-Afrikaners meer angs oor hul verlies aan inkomste as gevolg van die Covid-19-pandemie beleef, as oor die pandemie self.

Volgens ʼn aanlyn studie getiteld “Covid 19 Barometer” wat deur die navorsingsmaatskappy Clear Strategy Company van stapel gestuur is en reeds deur sowat 16 000 respondente voltooi is, is respondente se vlak van angs uit 100 oor hul verlies aan inkomste sowat 76,3, terwyl hul vlak van angs oor die siekte self 66,8 uit 100 is.

Abdurahman Kenny, psigiese gesondheid-portefeuljebestuurder by Pharma Dynamics sê namate infeksies toeneem en Suid-Afrikaners sosiaal geïsoleerd is en inkomste verloor, is dit onafwendbaar dat stresvlakke die hoogte sal inskiet.

“Spanning tydens die pandemie kan vrees en kommer veroorsaak oor mense se eie gesondheid asook dié van geliefdes, wat heeltemal normal is. Ernstiger veranderinge waarop jy jou vinger moet hou, is slaaploosheid, ’n gevoel van wanhoop, gebrek aan konsentrasie, selfdoodgedagtes en chroniese gesondheidstoestande wat verswak.”

Foto: Nik Shuliahin/Unsplash

Elzaan Brand, trauma- en verhoudingsberader van Bredasdorp bied die volgende wenke vir die hantering van lewe in isolasie tydens COVID-19 pandemie:

  1. Vestig ’n roetine: Met afsondering (isolasie) verander jou normale dagbeplanning drasties. Stel so gou moontlik ’n rooster op wat die hele gesin pas. Gaan slaap en staan daagliks op ’n redelike tyd op. Jou rooster moet tyd maak vir werk, oefeninge, huistake en hulp met die kinders. Ouers kan om die beurt werk en na die kinders omsien. Roetine orden die huislewe en voorkom onnodige spanning tussen gesinslede wanneer almal weet wat van hulle verwag word.
  2. Oefeninge: Probeer om ten minste 30 minute per dag aktief te wees. Daar is soveel maklike oefeninge om tuis te doen asook talle YouTube-videos aanlyn beskikbaar met tonne inspirasie. Dans is uitstekende oefening en die hele gesin kan deelneem en pret hê. Navorsing toon dat herhalende bewegings (brei, inkleur, verf, kleispeel, touspring, ensovoorts), veral links-regs beweging (hardloop, tromme speel, rolskaats, ensovoorts) kan help met selfkalmering en regulering van emosies tydens tye van nood en spanning.
  3. Dieet: Wanneer ’n mens gespanne is, is jy geneig om te veel te eet, vergeet om te eet of om kos te vermy. Drink genoeg water en volg ’n gebalanseerde dieet.
  4. Beperk blootstelling aan sosiale media en nuus: Die nuus is oorspoel met Covid-19-nuus. Te veel hiervan kan lei tot angstigheid en selfs depressie indien daar nie balans is nie. Indien dit jou angstig/depressief/negatief laat voel, neem liefs ’n pouse van nuus en sosiale nuus.
  5. Organiseer jou huis: Pak jou kaste reg, gooi uit wat jy nie meer gebruik nie en skenk aan minderbevoorregtes. Sorteer daardie foto’s van jou wat al jare lê en stof opgaar. Pak jou motorhuis reg.
  6. Verhoudings: Probeer om rusies tussen gesinslede te bekamp/voorkom. Indien jy en jou maat gereeld vassit, stel ’n rooster op wat kontak tussen julle verminder. Julle kan beurte maak om toesig oor die kinders te hou en kos te maak. Verdeel huistake tussen julle en deel die verantwoordelikhede.
  7. Ruimte: Gee mekaar ruimte, selfs al kom julle goed oor die weg. Dit is belangrik om bietjie eie alleentyd te hê om net weer jouself te “vind” en rustig te raak. Help kinders om ’n spesiale plek te identifiseer waarheen hulle kan ontsnap indien hulle spanning ervaar.
  8. Almal het die reg op uiting van emosies: Laat jou maat toe om aan sy/haar emosies uiting te gee. Probeer geduldig en ondersteunend wees. Daar is eintlik geen regte of verkeerde manier om ’n situasie (isolasie) te hanteer wat niemand in die gesin/verhouding al ooit beleef het nie – elke persoon bestuur sy/haar emosies op sy/haar eie manier. Party mense hanteer hul emosies/frustrasies deur hul maat en die res van die gesin daarvan te vertel, en ander verkies weer om hulself af te sonder en besig te hou met ander aktiwiteite as ’n manier om hul frustrasies te hanteer.
  9. Versterk jou kommunikasievaardighede: Kommunikasie is 90% luister en 10% praat! Luister eers om te verstaan en dan te reageer. Indien jy onseker is oor hoe die persoon voel oor ’n saak, reflekteer op wat jy hoor. Byvoorbeeld, as jou maat vir jou sê, “Ek is moeg om alles alleen in die kombuis te doen!” reflekteer deur te sê, “Verstaan ek jou reg as ek sê jy voel gefrustreerd en sal graag meer hulp in die kombuis wil hê?” Sodoende voel jou maat dat jy luister én sy/haar emosies erken.
  10. Bly in kontak: Sosiale media kan beslis ook positief aangewend word. Gebruik Skype, Zoom of FaceTime om tyd met familie en vriende deur te bring. Doen moeite om kontak te maak met vriende, familie en bure wat alleen woon.
  11. Kry hulp: Indien jy sukkel om die spanning in hierdie tyd van isolasie te hanteer: daar is talle beraders, sielkundiges, psigiaters en ander kenners wie aanlyn konsultasies aanbied deur middel van Skype en Zoom. Hierdie is ’n uiters uitdagende tyd vir veral ouers van kinders met spesiale behoeftes en kinders met gestremdhede. Reik uit na ondersteuningsgroepe met soortgelyke situasies en behoeftes.

Pharma Dynamics is toegewyd aan die geestesgesondheid van alle Suid-Afrikaners en kan by die tolvrye nommer, 0800 205 026 gekontak word waar opgeleide beraders beskikbaar is vanaf 08:00 tot 20:00, sewe dae per week. Vista Clinic, ’n privaat psigiatriese hospitaal, kan ook gekontak word vir ondersteuning. Besoek www.vistaclinic.co.za

  • Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boesman ·

Dis belangrik om positief te bly; wees dankbaar vir elke klein seëning.

Die Wolf ·

Ek ondersteun dat jy jou blootstelling beperk tot die nuus en sosiale media. 80% is ongelukkig net sensasie en fop nuus. Dit word gewoonlik net gebruik om verwarring te saai. n Ou truuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.