Slaan slegte asem hok

Foto ter illustrasie. (Foto: iStock)

Om aan ’n heerlike knoffelbroodjie weg te lê en dan gou ’n takkie pietersielie of ’n lepel grondboontjiebotter te gryp om ’n wanklankie af te weer, is een ding. Chroniese slegte asem, medies bekend as halitose, is egter ’n perd van ’n ander kleur én geur. Dit is dikwels die liggaam se waarskuwingswalm dat iets dieperliggend talm.

Chroniese slegte asem beïnvloed miljoene mense se selfvertroue, sosiale interaksie en algehele lewensgehalte, en is meer algemeen as wat ’n mens dink. Studies dui daarop dat tussen 25% en 30% van die wêreldbevolking aan chroniese slegte asem ly, met verskillende grade van erns.

Dit kan sporadies voorkom as gevolg van sekere kossoorte of slegte gewoontes, maar vir sommige individue is dit ’n meulsteen met ’n mediese oorsprong. As jy ’n bitter of slegte smaak in die mond het, is die kans goed dat jou asem sleg ruik. In 75% van gevalle skuil die oorsaak hiervan in jou mond.

Wortel van die kwaad

(Foto: iStock)

  • Swak mondhigiëne: Die algemeenste oorsaak van slegte asem is swak mondhigiëne. Wanneer voedseldeeltjies tussen die tande, op die tong of langs die tandvleislyn vasgevang bly, floreer bakterieë en stel dit onwelriekende gasse vry wat slegte asem veroorsaak.
  • Mangelstene: Wanneer kos aan jou mangels vassit (agter in jou keel), verhard dit soms tot kalsiumafsettings wat mangelstene genoem word.
  • Tandheelkundige probleme: Tandheelkundige probleme soos tandbederf (gaatjies), tandvleissiektes (gingivitis of periodontitis), mondinfeksies en tandheelkundige toestelle (soos kunsgebitte) wat nie behoorlik pas nie, kan tot slegte asem bydra. Hierdie toestande skep die ideale omgewing vir bakterieë om te gedy.
  • Droë mond: Speeksel speel ’n deurslaggewende rol om stukkies kos weg te spoel en sure in die mond te neutraliseer. Verminderde speeksel, wat veroorsaak word deur faktore soos sekere medikasie, asemhaling deur die mond, angstigheid en speekselklierafwykings, kan lei tot ’n droë mond (xerostomia) en gevolglik slegte asem.
  • Eetgewoontes: Skerp kossoorte soos sekere kase en vleis, knoffel, uie, speserye, asook drankies soos gaskoeldrank, koffie en alkohol kan tydelike slegte asem veroorsaak. ’n Kitsdieet of vas kan die metaboliese toestand ketose veroorsaak, wat gekenmerk word deur asem wat soos vrugte ruik.
  • Rook: Die gebruik van tabakprodukte dra nie net by tot tandvleissiektes en mondkanker nie, maar veroorsaak ook ’n knaende slegte asem. Tabakrook laat oorblyfsels in die mond en longe agter, wat lank kan talm en ’n slegte asem veroorsaak.
  • Mediese toestande: Sekere siektes en mediese toestande kan halitose as ’n simptoom hê. Dit sluit in respiratoriese infeksies, sinusitis, diabetes, lewer- of niersiekte en gastro-intestinale afwykings soos suurrefluks of gastritis.

Maak korte mette van klankies

(Foto: iStock)

  • Verbeterde mondhigiëne: Deur ten minste twee keer per dag tande te borsel, gereeld te vlos en ’n alkoholvrye, antibakteriese mondspoelmiddel te gebruik, kan help om kosdeeltjies, tandbederf en bakterieë wat verantwoordelik is vir slegte asem, uit te skakel. Borsel of skraap jou tong om bakterieë en aanpaksels op die oppervlak van die tong te verwyder.
  • Tandheelkundige sorg: Gereelde tandheelkundige ondersoeke en skoonmaak deur ’n mondhigiënis (ten minste elke ses maande) is noodsaaklik vir die handhawing van mondgesondheid en om onderliggende tandheelkundige probleme te identifiseer en te behandel wat tot slegte asem kan bydra.
  • Hidrasie: Deur gehidreer te bly, help om speekselproduksie te stimuleer en ’n droë mond te voorkom. Drink baie water deur die dag om van voedseldeeltjies en bakterieë ontslae te raak.
  • Dieetaanpassings: Vermy kos wat slegte asem kan veroorsaak, asook kitsdiëte. Kou suikervrye kougom en peusel aan kraakvars vrugte en groente (soos appels, pere, seldery en wortels) om speekselvloei te bevorder en jou asem te verfris. Ander asemvriendelike voedsel sluit in groen- en swarttee, pampoen- en vinkelsaad, kruisement en pietersielie, klapperolie, en donkergroen groente. Dit sal jou asem egter net op die korte duur varser laat ruik en nie chroniese slegte asem opklaar nie.
  • Hou op rook: Deur op te hou rook, sal nie net ’n slegte asem hokslaan nie, maar jou algemene en mondgesondheid verbeter. Sluit by ’n ondersteuningsgroep aan, en bespreek nikotienvervangingsterapie met jou dokter.
  • Mediese ondersoek: As slegte asem voortduur ten spyte van behoorlike mondhigiëne en leefstylveranderings, kan ’n deeglike mediese ondersoek gedoen word om onderliggende siektetoestande of die moontlike newe-effekte van medikasie uit te skakel. Die behandeling van die onderliggende oorsaak kan halitose dikwels vir goed uitskakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.