Vat gerus dié kos kop toe  

(Foto: iStock)

Die belangrikheid van ’n gebalanseerde dieet wat verseker dat jou wiele die regte hoeveelheid woema op die regte tyd kry, is welbekend. In die nadraai van die wêreldwye Covid-19-pandemie tree die uitwerking van die kos wat ons eet op ons sosiale, emosionele en geestesgesondheid al hoe meer op die voorgrond.

Hoewel heelwat navorsing nog gedoen moet word om die onderliggende verhouding tussen dieet en geestesgesondheid behoorlik te ontrafel, het verskeie studies reeds bewys dat dié twee in werklikheid baie nouer verwant is as wat voorheen gereken is.

Voedingspsigiatrie is ’n bedryf wat al hoe meer veld wen en fokus op hoe mense se dieet en kosinname die manier waarop hulle geestelik voel, beïnvloed.

“Ofskoon voedingspsigiatrie nie die tradisionele behandeling, terapie en moontlike medikasie (kan) vervang wat deur sielkundiges en psigiaters gebied word nie, is dié ondersteunende behandeling van geestesgesondheidstoestande met behulp van dieet- en lewenstylveranderings beslis sy sout werd,” meen dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park.

Derms die brein se beste vriend

Die een rede waarom ons koskeuses ’n noemenswaardige invloed op ons brein het, is omdat ons spysverteringstelsel, oftewel ingewande (gut), eintlik ’n hegte band met die brein het, sê hy. “Die ingewande is die tuiste van miljarde mikrobes wat verskeie funksies in die liggaam verrig. Dit sluit die vervaardiging van neuro-oordragstowwe in wat chemiese boodskappe na die brein stuur om slaap, pyn, eetlus, bui en emosie te reguleer.”

Trouens, daar is só ’n ingewikkelde interaksienetwerk tussen die twee dat die ingewande dikwels die “tweede brein” genoem word. Die verhouding tussen die ingewande en die brein staan formeel as die derm-brein-verbinding of derm-brein-as bekend.

Die navorsingsbevindings is klinkklaar dat die kos wat ons eet die gesondheid van dermmikrobekolonies beïnvloed, wat ons brein en gevolglik ons geestelike en emosionele welstand beïnvloed.

Eet dít vir goeie geestesgesondheid

(Foto: iStock)

Soos reeds genoem, vervang dieet- en lewenstylveranderings nie die individuele sorg van ’n sielkundige of psigiater nie, maar dit is beslis ’n belegging wat jy sélf in jou algehele welstand en geestesgesondheid kan maak. Dié voedingstowwe en kossoorte het ’n bewese, positiewe invloed op geestesgesondheid:

  • Omega-3-vetsure: neute, vlassaad, salm, haring en sardiens.
  • Folaat: beeslewer, rys, sekere versterkte (fortified) ontbytgraan, swartoog-ertjies, spinasie, aspersies en Brusselse spruite.
  • Yster: oesters, beeslewer, versterkte graankosse, spinasie, donkersjokolade, witbone, lensies en tofu.
  • Magnesium: spinasie, pampoen- en chiasade, sojamelk, swartbone, amandels, kasjoeneute en grondboontjies.
  • Sink: oesters, hoender, varktjops, gebraaide beesvleis, krap, kreef en pampoensade.
  • B-vitamiene: hoenderborsies, beeslewer, mossels, tuna, salm, kekerertjies, aartappels en piesangs.
  • Vitamien A: beeslewer, haring, melk, ricotta-kaas, patats, wortels en spanspek.
  • Vitamien C: rooi en groen soetrissies, lemoen- en pomelosap, aarbeie en broccoli.

Dít ry geestesgesondheid in die wiele

  • Verwerkte voedsel – Dit is kossoorte wat industriële verwerkingstegnieke ondergaan het en geneig is om meer kalorieë, sout, bygevoegde suiker en onversadigde vette te bevat. Dit sluit in lekkergoed, gebakte produkte, versoete drankies en southappies. Die gereelde inname van verwerkte voedsel word verbind met ’n hoër voorkoms van simptome wat met angs, depressie en spanning verband hou.
  • Alkohol – Die inname van alkohol en die uitwerking op geestesgesondheid is bietjie soos ’n bose kringloop. Mense wat simptome van geestesgesondheidstoestande ervaar, gebruik alkohol dikwels vir tydelike verligting, net om te vind dat dit juis die simptome wat hulle probeer verlig, stukrag gee. Studies is duidelik dat alkohol simptome van depressie, spanning, angs en gemoedsversteurings vererger.
  • Wisselvallige etenstye – Daar is bevind dat ongereelde maaltye ons koskeuses, sirkadiese ritme (die natuurlike siklus waarin ons liggaam, gemoed en gedrag in ’n 24-uur-siklus verander), inflammasie en selfs die dermmikrobioom beïnvloed – dinge wat alles ’n uitwerking op ons geestesgesondheid het. ’n Onlangse studie onder 4 500 werknemers het bevind dat onreëlmatige maaltydpatrone met hoër vlakke van neurotisisme, produktiwiteitsverlies en slaapprobleme verbind word.
  • Te min slaap – Tesame met ’n gesonde dieet, gereelde oefening en die vermyding van tabak en alkohol, is behoorlike slaap ’n fundamentele boublok van geestesgesondheid. Nie net word ’n gebrek aan slaap met swakker geestesgesondheid verbind nie, maar dit beïnvloed ook ons dermgesondheid en koskeuses. Vermy veral kaffeïen en energiedrankies as jy sukkel om ’n gesonde slaappatroon te skep.

(Foto: iStock)

Nog goedvoelwenke

  • Probiotika – Prebiotika is voedsel vir die goeie bakterieë wat in jou ingewande woon, terwyl probiotika self gesonde bakterieë bevat. ’n Dieet wat propvol pre- en probiotika is, help om homeostase (balans) in die ingewande te handhaaf en speel ’n rol in die liggaam se reaksie op stres en depressie. Eet gerus meer jogurt, karringmelk, knoffel, uie, preie, artisjokke, aspersies, hawermout, appels en piesangs.
  • Vrugte en groente – Vrugte en groente is ryk aan voedingstowwe wat geestesgesondheid ondersteun, insluitend vesel, komplekse koolhidrate, vitamien B, vitamien C en gesonde plantchemikalieë genaamd polifenole. Navorsing het bevind dat die verhoogde inname van vrugte en groente hoër vlakke van optimisme en selfdoeltreffendheid in die hand werk, terwyl dit depressie en angstigheid verminder. Eet gerus meer bessies, sitrusvrugte en blaargroente.
  • Eet ’n slag saam – Om maaltye om ’n tafel met familie en vriende te deel, is een van die oudste tradisies en is die ideale manier om jou gemoed op te kikker as jy ’n slegte dag beleef.

Bykomende bronne: Mentalhealth.org, New York Times, The Conversation, Healthline, Medical News Today en WebMD.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.