Vroeë opsporing kan servikskanker stuit

(Foto: iStock)

Bykans 11 000 vroue in Suid-Afrika word jaarliks met servikskanker gediagnoseer. Dit maak dit die tweede mees algemene kanker met die hoogste sterftesyfer onder vroue in ons land.

Hoewel een uit elke 40 vroue die risiko het om servikskanker te ontwikkel, word slegs sowat een miljoen vroue jaarliks hiervoor getoets, ’n syfer wat volgens die nasionale departement van gesondheid vyf keer hoër behoort te wees.

Volgens die internasionale agentskap vir kankernavorsing, wat deel van die Wêreldgesondheidsorganisasie uitmaak, is 604 000 vroue in 2020 wêreldwyd met servikskanker gediagnoseer en sowat 342 000 vroue is aan dié siekte dood.

Op die rug van Vrouemaand in Augustus en Servikskankerbewustheidsmaand wat in September gevier word, het die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) vroue opnuut aangemoedig om vir gereelde siftingstoetse te gaan om servikskanker vroegtydig op te spoor en te behandel.

Servikskanker is van die mees voorkombare kankers en is hoogs behandelbaar as dit vroeg opgespoor word en behandeling so gou moontlik kan begin. Servikskanker ontwikkel wanneer die serviks – die lae, smal gedeelte van die baarmoeder – met menslikepapilloomvirus (MPV) besmet word. Indien dit nie behandel word nie, kan indringende soorte kanker ontwikkel.

Volgens Lorraine Govender, Kansa se nasionale bestuurder vir gesondheidsbevordering, is daar ’n groot gaping tussen siftingstoetse en behandeling in Suid-Afrika. “Omtrent 50% van vroue met voorkanker of abnormaliteite word vir opvolgafsprake verwys, byvoorbeeld ’n kolposkopie of biopsie.

“Die meeste vroue wat deesdae met servikskanker gediagnoseer word, het egter nie vir gereelde papsmere gegaan of opvolgafsprake ná abnormale resultate gemaak nie. Dit is baie belangrik dat vroue nie wegbly nadat hulle abnormale resultate ontvang het nie.

“Mites, wanbegrip en verkeerde inligting rakende kanker lei dikwels tot stigmas wat vroue se besluite oor voorkoming en behandeling negatief beïnvloed. Faktore soos ’n tekort aan geld, vervoer en kindersorg weerhou vroue ook dikwels van toegang tot gesondheidsorggeriewe, siftingstoetse of om verdere mediese hulp te kry,” sê sy.

Papsmere is by die meeste Kansa-sorgsentrums reg oor Suid-Afrika teen R380 beskikbaar. Dit sluit ’n kliniese borstoets asook die laboratoriumkoste in. Indien enige abnormaliteit opgespoor word, kan Kansa help met ’n verwysing na ’n mediese praktisyn.

Kragtens die nasionale departement van gesondheid se beleid vir die voorkoming en beheer van servikskanker kan vroue drie gratis papsmere in hul leeftyd by openbare gesondheidsklinieke kry, naamlik op die ouderdom van 30, 40 en 50 jaar.

(Foto: iStock)

Indien vroue abnormale simptome ervaar, kan hulle by ’n plaaslike staatskliniek vir ’n papsmeer vra. Vroue wat MIV-positief is, kan ’n papsmeer by diagnose kry, en daarna elke drie jaar indien die resultaat vir servikskanker negatief is (jaarliks, indien die resultaat positief is).

“Kansa ondersteun ook die departement van gesondheid se MPV-inentingsprogram om die risiko van servikskanker te verlaag. Alle vroue tussen die ouderdomme van nege en 26 jaar kan ingeënt word en vroue wat reeds die inenting ontvang het, moet vir servikskanker getoets word,” sê Govender.

Volgens die Amerikaanse Nasionale Kankerinstituut is die veiligheid van die MPV-inentings reeds bo alle twyfel vasgestel, met miljoene mense wêreldwyd wat die afgelope 16 jaar dié inentings ontvang het. Daar is geen bewys dat die inenting tot onvrugbaarheid of outo-immuunsiektes lei nie, hoewel dié gerugte gereeld op sosiale media die rondte doen.

In die Verenigde Koninkryk, waar ’n MPV-inentingsprogram al sedert 2008 bestaan, het die voorkoms van servikskanker onder meisies wat tussen 12 en 13 jaar oud ingeënt is, met tot 87% gedaal.

Die Suid-Afrikaanse regering is sedert 2014 besig met ’n landwye veldtog om graad 4-meisies in staatskole teen MPV in te ent. Twee dosisse word ses maande uit mekaar toegedien, met die ouers se toestemming vooraf.

Hoewel servikskanker hoofsaaklik deur MPV veroorsaak word, is daar ook ander risikofaktore. Dit sluit in as iemand oorgewig of onaktief is, alkohol inneem en ’n swak dieet volg, rook en aan chemikalieë blootgestel word. Vroue wat MIV-positief is, het ook ’n hoër risiko om servikskanker te kry.

Ondersteuning en inligting is beskikbaar deur die Kansa-hulplyn by 0800 22 66 22 te skakel of ’n e-pos na [email protected] te stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.