Wêreldretinaweek: Sigverlies al groter risiko vir SA’ners

(Foto: Nonsap Visuals/Unsplash.)

Suid-Afrikaners sukkel al hoe meer met hul sig. Dit kan toegeskryf word aan meer mense wat met diabetes gediagnoseer word en ʼn ouerwordende bevolking.

Diabetiese retinopatie, ’n komplikasie van diabetes wat skade aan die bloedvate in die retina agter die oog veroorsaak, is wêreldwyd die hoofoorsaak van sigverlies, terwyl die aantal diabete in Suid-Afrika skerp gestyg het – van 1,3 miljoen in 2010 tot 4,5 miljoen in 2019. Na verwagting sal dié syfer 6 miljoen in 2030 bereik,10% van die land se geprojekteerde bevolking.

Aangesien die aantal mense wat geraak word deur sigverlies as gevolg van siekte, ouderdom en ander oorsake (insluitend die verhoogde blootstelling aan skadelike lig van digitale toestelle) meer word, het Retina Suid-Afrika en die Oftalmologiese Vereniging van Suid-Afrika (OVSA/OSSA) saamgespan om bewustheid oor sigverlies te bevorder gedurende Wêreldretinaweek wat vanaf 21 tot 27 September plaasvind.

Dr. Gerhard Kok, president van die Suid-Afrikaanse Vitreoretinale Vereniging (’n subvereniging van OVSA/OSSA), sê dat ongeveer 1,7% van diabetiese pasiënte retinopatie ontwikkel, terwyl verbeterde lewensverwagting wêreldwyd beteken dat die voorkoms van ouderdomverwante makulêre degenerasie na verwagting 288 miljoen sal bereik in 2040 (vanaf ’n voorkoms van 196 miljoen in 2020).

Ouderdomsverwante makulêre degenerasie (OMD/AMD) is die hoofoorsaak van onomkeerbare blindheid in mense ouer as 50 jaar. OMD/AMD word ook erken as ’n toestand waarvoor die voorgeskrewe minimum voordeel (VMV) van toepassing is, wat mediese skemas in Suid-Afrika verplig om die behandeling daarvan te befonds.

Kok sê dat die Covid-19-pandemie en die afsonderingstydperk veral moeilik was vir die blinde en gesiggestremde gemeenskappe omdat daar beperkte toegang tot oogsorg was. Die situasie is verder vererger deur beperkte mobiliteit gedurende dié tydperk en die vrees vir doktersbesoeke en besoeke aan gesondheidsgeriewe.

“Baie ouer pasiënte met ouderdomverwante makulêre degenerasie het gereelde inspuitings in die oog nodig om verdere sigverlies te probeer beperk. Indien die behandelings misgeloop word, kan dit lei tot ernstige en onomkeerbare verlies van sig. Mense met diabetes wat mediese behandelings mis, word ook geraak aangesien dit tot ernstige komplikasies, soos skade aan die retina, kan lei.

“Beperkte toegang tot oogsorg gedurende die grendeltydperk, saam met die ekonomiese ontbering wat volg op die pandemie, het veroorsaak dat talle pasiënte wat roetine-opvolgafsprake en chroniese behandeling vir hul retinale toestande moes kry, nie toegang tot die nodige, gereelde sorg gehad het nie. Dit gaan waarskynlik ’n uitdaging in die komende weke en maande skep om visuele uitkomste vir hierdie pasiënt te optimaliseer en in stand te hou.”

Sosiale distansiëring is ook haas onmoontlik vir mense wat net gedeeltelike sig het of heeltemal blind is aangesien hulle hoofsaaklik staatmaak op aanraking om te vergoed vir die verlies van soveel as 80% van hul sensoriese insette wat van die oë afkomstig is.

“Hulle hou ’n elmboog van ’n siende persoon vas, of gebruik hul tassintuig vir oriëntasie, sekuriteit en balans. Die verlies van hierdie tasbare sensoriese insette lei tot verwarring en isolasie.

“Ons hoop dat Wêreldretinaweek 2020 daartoe sal bydra om bewustheid van hierdie baie kwesbare deel van ons samelewing te verhoog en dat ons landsburgers sal hande vat om hul lewens makliker te maak. Klein gebare van hoflikheid dra geweldig daartoe by om blinde of gesiggestremde persone te help om oor die weg te kom in hierdie moeilike tye,” sê Kok.

Gedurende die Covid-19-pandemie het Retina SA ’n uitreikprogram van stapel gestuur om bystand en raad te bied aan duisende Suid-Afrikaners wat hul sig verloor het as gevolg van retinale toestande.

Die program het groot probleme aan die lig gebring soos die vermyding van doktersbesoeke, sowel as die negatiewe invloed wat die afsonderingstydperk op mense se gesondheid het: nie net as gevolg van die stres wat dit veroorsaak nie, maar ook omdat dit mense minder mobiel maak, lei tot swak voedselkeuses, en die bykomende risiko inhou dat verlengde tye voor skerms deurgebring word wat lei tot die verhoogde blootstelling aan skadelike lig van rekenaars, selfone, televisieskerms en ander toestelle.

Retina SA vrees dat die negatiewe invloed van die pandemie in die toekoms ’n langtermyn- en ernstige uitwerking op sig en gesondheid kan hê.

Die organisasie het ook gevind dat die verbanning van alkoholverkope “tot die ernstige en onverwagte gevolg gelei het dat desperate persone handontsmettingsmiddels begin drink het”. Die giftige alkohol in handontsmettingsmiddels, soos metanol of isopropielalkohol, kan ernstige skade aan die optiese senuwee en blindheid of selfs dood veroorsaak.

Retinale toestande soos OMD/AMD, retinitis pigmentosa, Stargardt se siekte en Usher-sindroom beïnvloed duisende Suid-Afrikaners en is tans nog ongeneeslik. Retina SA doen ’n beroep op siende persone om die soektog na behandelings vir hierdie toestande te ondersteun.

Vir meer inligting besoek www.retinasa.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.