Help! Ek trou, waar begin ek?

Argieffoto (Foto: Samantha Gades/Unsplash)

Het jy onlangs verloof geraak en beplan julle om binnekort te trou? Miskien ken jy iemand wat binnekort trou en alles vir dié groot dag moet regkry.

Waar begin ek?

Wanneer die verlowingsvlinders bedaar het en Pinterest se ideale prentjie in ʼn werklikheid omskep moet word, kan troubeplanning spoedig een van dié stresvolste tye in ʼn paartjie se lewe word.

Bruide raak angstig oor tierlantyntjies en die gastelys, terwyl die bruidegom wonder wat sý rol in die proses is.

Buiten vir groot besluite soos die begroting, ligging, aantal gaste en verskaffers wat bespreek moet word, is daar talle kleiner aspekte wat nét so belangrik is.

Hier is ʼn paar praktiese wenke wat jou sal help om uit die staanspoor in beheer van die troubeplanning te wees.

Raadpleeg jou aanstaande

ʼn Algemene persepsie van die troudag is dat dit die bruid se dag is. Hoewel die bruid grootliks in beheer van die troureëlings is, is dit ʼn ewe groot ervaring en mylpaal vir die bruidegom (selfs al verstaan hy niks van kleurskemas of skouerruikers nie!).

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Wenke:

  • Verdeel die pligte en sorg dat elkeen weet waarvoor die ander een verantwoordelik is.
  • Praat gedurig en deel julle idees met mekaar.
  • Bruid: Vra jou aanstaande se opinie oor verskaffers, kleure en dekor. Net omdat hy dalk nie ʼn benul van neigings het nie, beteken nie dat hy nie ʼn opinie het nie. Wees ook bereid om te luister wanneer hy insette lewer (selfs al kla hy oor onnodige uitgawes!).
  • Bruidegom: Die dae dat bruidegomme in die skadukant van troubeplanning gestaan het, is verby. Moenie huiwer om jou behoeftes te kommunikeer en voorstelle te maak nie. Wees geduldig met jou bruid en gesels oor dinge wat haar opgewonde maak.

Om te trou is in wese ʼn spanpoging wat ʼn paartjie aanpak. Gesels deurentyd met mekaar en beskou dié proses as ʼn geleentheid om mekaar beter te leer ken en saam te groei.

Klop aan vir hulp

Jou aanstaande gaan nie altyd die antwoorde op jou vrae hê nie en dis heeltemal in orde. Identifiseer dus mense in jou lewe, hetsy ʼn ouer, broer of suster, óf vriende, wat jy vertrou en deurentyd kan raadpleeg.

Wenke:

  • Skep ʼn WhatsApp-groep met die twee of drie mense wat van die begin af deel van jou troureëlings is. Op dié manier kan almal op een platform insette lewer.
  • Skep ʼn Pinterest-bord en nooi jou vertrouelinge uit as medewerkers. Laat elkeen toe om hulle idees aan te heg.
  • Wees op die uitkyk vir interaktiewe aanlynplatforms wat op troubeplanning fokus. Jy kom dalk gou agter dat jou probleem nie uniek of onoorkombaar is nie.

Hoewel jou binnekring waardevolle insette kan lewer, word die finale besluite uiteindelik deur die bruid en bruidegom geneem. Reik uit wanneer dit nodig is en weet wanneer om die besluit te neem en aan te beweeg.

Doen deeglike navorsing

Elke bruid het ʼn denkbeeld van hoe die troudag moet lyk. Party vroue het dalk reeds ʼn gedetailleerde prentjie van hoe die sprokie gaan afspeel, terwyl ander bruide eerder op ʼn verskaffer sal staatmaak om die prentjie in te kleur.

Nietemin is dit die bruid se verantwoordelikheid om van die begin af leiding te gee.

Foto ter illustrasie (Foto: rawpixel.com)

Wenke:

  • Vind ʼn metode om dagboek te hou van jou idees, verskaffers en afsprake. Koop ʼn dagboek of notaboek, skep ʼn dokument op jou rekenaar of kry ʼn toevoulêer waarin jy alle dokumente kan stoor.
  • Skep ʼn nuwe lêer op jou rekenaar en stoor alle troudokumente op een plek.
  • Begin deur ʼn lys te maak van verskaffers, jou kleurskema, die seisoen waarin julle wil trou, begroting, en so meer. Van hier af kan jy die lyste aanvul namate jou idees uitbrei en vorm aanneem.
  • Stel ʼn voorlopige tydlyn saam en bevestig datums waar nodig.
  • Kry ʼn bruidsgids en maak seker dat jy aan alles gedink het.

Dis ʼn tydsame proses, maar jy sal dankbaar wees dat jy vroegtydig hiermee begin het.

Volg jou instink

Dis maklik om in trouneigings en -tradisies verstrengel te raak, maar aan die einde van die dag moet elke bruidspaar doen waarmee hulle gemaklik is. Daar is hope riglyne en idees op Pinterest, Instagram en die internet beskikbaar, maar niks keer julle om ʼn unieke bruilofsfees te skep nie.

Wees voorbereid op die onvoorsiene

Uit die bloute kan ʼn fotosessie, kombuistee of uitnodiging wat haarfyn beplan is anders uitdraai as wat jy beplan het. Moenie toelaat dat hierdie onbenullighede jou gemoed kelder of die res van jou troubeplanning oorheers nie. Soveel getroude paartjies getuig daarvan dat die klein goedjies jare later nie saak maak nie.

Die kern van die dag is julle troubeloftes aan mekaar. Wie daar is en watter blomme op die tafels pryk is nié van soveel belang nie.

Maroela se Bruid van die Jaar: Skryf in as Somerbruid!

Maroela Media bied hierdie jaar vir die eerste keer ʼn spesiale Bruid van die Jaar-kompetisie aan. Dit word in samewerking met Dream Hotels & Resorts aangebied en daar is boonop groot pryse op die spel.

Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys. Jy kan in aanmerking kom vir ons Somerbruid as jy tussen Desember 2021 en Februarie 2022 trou. Inskrywings vir ons Somerbruid sluit op 4 Maart 2022. Klik hier om in te skryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Stof ·

Ek lees die laaste paragraaf met dank. Tog, jammer dat dit as ‘n kort nagedagte gelaat word.
As huweliksbevestiger is een van my grootste kopsere, dikwels juis by troues waar die estetiese so perfek beplan is, maar die bruidspaar die geestelike voorbereiding en die administratiewe voorbereiding nalaat, en dikwels as blote nagedagte, ‘n bevestiger naderhark op dikwels ‘n riskante laat stadium.
Die geestelike voorbereiding is noodsaaklik, want om ‘n lewensgelofte te maak sonder dat die grondslag reg is, is waarskynlik die rede waarom soveel egpare mekaar later versaak.
Die administratiewe, wat net so afgeskeep word, is weer van groot belang omdat ons in vandag se lewe vasgevang is in ‘n gemeenskap wat alles gedokumenteer en verifieer. Om dus ons versoeke om die korrekte dokumentasie uit te stel en as nagedagte te sien, maak ons vooraf verifikasie van inligting baie moeilik.
Baie dankie aan die pare wat wel, hierdie aspekte reg en betyds hanteer.

Gawie ·

Net soos Stof is ek ook ‘n huweliksbevestiger, en ek stem saam met hom – daar word partykeer so baie energie spandeer om die troudag suksesvol te maak, maar weinig tyd word spandeer om te sorg dat die huwelik self suksesvol gaan wees. Ek het ongelukkig al te veel keer gesien hoe ‘n ongelooflike troudag met al die ‘bells & wistles’ uitloop op ‘n mislukte huwelik.

Carel ·

Ek is al meer as 30 jaar getroud gelukkig getroud.
Ek stel voor dat jong verliefdes eers verstaan wat die KRITIESE ELEMENTE van ‘n gelukkige huwelik behels.

3x YouTube videos wat krities is vir ‘n suksesvolle huwelik:

• Love & Respect: The Love She Most Desires; The Respect He Desperately Needs deur Dr Emerson Eggerichs
• The Five Love Languages: How to Express Heartfelt Commitment to Your Mate by Gary Chapman
• Marriage Today boodskappe deur Jimmy Evans

SlinkseKoljander ·

Beste advies, moet nie trou nie!

Tweede beste advies, hou n klein troue en n groot honeymoon. Mense kom na jou trou on jou rok en kos te kritiseer, dronk te raak en hoop om n stukkie op te tel. Die 5 min wat hulle wel na jou kyk is nie die geld werd nie. Kry n goeie fotograaf, fotos hou langer as skinderstories. Die man se aandeel is altwee moet ooreenstem oor die trou lokaal, is een nie gelukkig is nie is dit n gemors van die begin. Tweedens moet die man die meetse geld by dra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.