Alfa se Giulia: Elegante en luukse Italiaanse ryperd

Wanneer mens aan emosionele, eksotiese rygoed dink, duik die Italianers altyd op. Motormense soos Brendon Staniforth, Maroela Media se motorjoernalis, en Jeremy Clarkson sê: “Jy is nie ʼn ware petrolkop indien jy nog nooit ʼn Alfa besit het nie.”

Die Giulia se ontwerp is pure Alfa en danksy uitsonderlike verrigting en padhouvermoë is ʼn rit in die Giulia werklik ʼn belewenis. Die Giulia is ʼn pragtige sedanmotor. Vier deure, ʼn lekker kattebak en perfekte proporsies. Baie mooier as al die sportnutsvoertuie wat ons paaie so oorheers.

Die binneruim is luuks en die Giulia spog met ʼn panoramiese sondak, dubbelsone-klimaatbeheer, ʼn 8,8″-raakskerminligtingstelsel wat Apple CarPlay en Android Auto bied, uiters gemaklike leersitplekke en ʼn sportiewe verhitte leerstuurwiel, ʼn draadlose laaimat en USB-poorte vir die passasiers voor en agter. Al dié dinge klink dalk indrukwekkend, maar dit is die samehorigheid wat die Giulia op die pad bied wat beïndruk. Die Giulia is uiters luuks, én sportief.

Die Giulia ry soos ʼn droom – 0-100km/h in 5,7 sekondes met die 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin wat 206 kW en 400 Nm bied. Alfa beweer dat die Giulia 6 l/100 km kan handhaaf, maar ek twyfel. Die enjin gaan gepaard met ʼn 8-spoed-ZF‑ outomatiese ratkas en die Giulia sal voluit 240 km/h haal … en dus kry “voet in die hoek sit” hier nuwe betekenis.

Die ritgehalte is uit die boonste rakke en dit voel amper of jy een word met dié Italiaanse ryperd. Die 50/50-gewigsverspreiding bied fantastiese padhouvermoë danksy die gebruik van ultraligte materiale. Dit is weinig dat mens ʼn moderne motor vind met goeie ritgehalte én padhouvermoë. Gewoonlik moet mens kies – die een of die ander.

Die Giulia kom met aktiewe spoedbeheer wat beteken dat hy self rem en weer versnel om in pas met die verkeer te bly. Baanhouhulp en blindekolwaarskuwing help om dinge mooi veilig te hou in die Alfa. Daar is ook ses lugsakke, sluitweerremme, vastrap- en stabiliteitsbeheer, elektroniese remkragverspreiding en botsingswaarskuwing met noodremhulp … ʼn vol suite van aktiewe en passiewe veiligheidstelsels. Indrukwekkend.

Op die oop pad is waar funksionaliteit, soos die drie rymodusse (Dynamic, Natural en Advanced Efficiency), 19″-allooiwiele, xenon-hoofligte met LED-dagryligte, parkeerafstandbeheer, ʼn trukamera en banddruksensors, die Alfa bó dié van sy mededingers plaas. Die rathefboom wat met leer oorgetrek is, verseker dat jy met gemak deur die ratte kan wissel. Wanneer jy self die ratwisseling wil doen, is daar spane wat vas is aan die stuurkolom en nie saam die stuurwiel draai nie.

Ek het ʼn bietjie kopgekrap oor hoe om die Alfa op te som. Já, dit is baie geld, maar dit is ʼn besonderse pronkmasjien. Die Giulia is uiters elegant en sorg vir ʼn uitsonderlike ry-ervaring. Kan ek ʼn rooie kry, asseblief?

Die reeks lyk só:

Alfa Romeo Giulia 2.0T Veloce206 kW/400 Nm0–100 km/h 5,7 sek

Topspoed 240 km/h

R989 900
Alfa Romeo Quadrifoglio375 kW/600 Nm0–100 km/h 3,9 sek

Topspoed 307 km/h

R1 599 900
Alfa Romeo GTA397 kW/600 Nm0–100 km/h 3,6 sek

Topspoed 307 km/h

R3 999 900
Alfa Romeo GTAm397 kW/600 Nm0–100 km/h 3,6 sek

Topspoed 307 km/h

R4 299 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5-jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

BMW 330i M Sport190 kW/400 Nm0–100 km/h 5,8 sek

Topspoed 250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R828 976
Lexus IS 300h F-Sport164 kW/221 +e Nm0–100 km/h 8,7 sek

Topspoed 200 km/h

7 jaar/105 000 km- voertuigwaarborg

8 jaar/195 000 km- batterywaarborg

7 jaar/105 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R949 200
Mercedes-Benz C300 Coupé AMG Line190 kW/370 Nm0–100 km/h 6 sek

Topspoed 250 km/h

2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R991 694

Elkeen van dié mededingers is mooi of spesiaal uit eie reg. Hulle verskil wel ook almal heelwat. Gaan toetsbestuur almal, een gaan jou hartsnare roer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chris ·

Jy het nog nie ‘n kar/motor gehad as jy nog nie ‘n Alfa Romeo gehad het nie. Almal het gewoonlik gesê, o moeilikheid, maar baie min wat so sê het ooit ‘n Alfa besit. Jy ry/bestuur nie ‘n Alfa Romeo nie, ervaar die motor/kar. (Dit is die man op straat se Ferrari.). As ek ooit weer nuwe kar wil koop/belostig om myself te bederf, koop ek ‘n Alfa.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.