Amper daar, Chery…

(Foto: Verskaf)

Dit is geen geheim nie dat die Chinese handelsmerke in die afgelope dekade enorme vordering gemaak het met hul produkte. As ʼn mens die ou Chery QQ3 langs ʼn nuwe Tiggo 8 Pro Max parkeer, kan jy jou nie eens indink dat dit uit die selfde stal kom nie.

Die nuwe Chery Tiggo 8 Pro is beskikbaar in twee weergawes – die 8 Pro en die 8 Pro Max. Die een het ʼn 1.6-viersilinderturbopetrolenjin wat 145 kW en 290 Nm bied. Dié reeksleier, die 8 Pro Max, het ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin met 187 kW en 390 Nm, meer luukshede en sewe sitplekke.

Met die eerste oogopslag is die Tiggo ʼn mooi buks. Sy proporsies is netjies, en dit lyk na ʼn produk van puik gehalte. Die oomblik wat jy inklim en die binneruim ervaar, hang jou mond ʼn bietjie oop. Dis werklik luuks daarbinne.

Met die wegtrek spring die eerste kwaal op soos ʼn kobra uit die bos. Die versneller se kalibrering is swak, en saam met die dubbelkoppelaar‑ outomatiese ratkas is die wegtrek maar altyd ʼn gestamp en stoot al werk jy hoe mooi met die versneller.

ʼn Mens voel vinnig gemaklik, die sitplekke is hemels en die lugreëling is in die kol – maar té gou beleef jy die tweede kwaal. Al die alarmpies wat die heeltyd beep en bong is genoeg om jou tot drank te dryf… en drink en bestuur is nie ʼn blink idee nie. Naderhand het jy al die veiligheidswaarskuwings en stelsels geprogrammeer om stilte te kry – en dis ongelukkig af. Die veiligheidstelsel kan jou ook nie help as dit af is nie.

(Foto: Verskaf)

Die derde kwaal is die stuurgevoel en akkuraatheid. Die stuur is te swaar en op omtrent 30 grade is daar ʼn dooie kol in die stuur wat veroorsaak dat jy alewig jou stuurinsette moet verander – dan lyk dit asof jy wel daai doppie gevat het om die gebeep stil te maak. Ek is amper klaar gekla. Laastens is die brandstofverbruik. Die Chinese is nie bekend vir ekonomiese voertuie nie, maar op ’n roete van ongeveer 400 km, meestal op die snelweë in Natal, kon die Tiggo 8 Pro Max nie veel beter as 10 ℓ/100 km haal nie. Hy’t heeltyd tussen 10 ℓ en 11 ℓ/100 km gehaal en dít op die oop pad, is swak. Ek het onlangs met die enorme BMW 740i en Mercedes-Benz S500 gery en hulle kan albei by die 7 ℓ/100 km kom op die oop pad met twee keer die krag wat die Chery bied uit hul sessilinderenjins.

Dit klink nou egter of ek die Chery Tiggo 8 Pro vreeslik sleg sê. Dis nie die geval nie. Ek sal só afsluit. Die voertuig bied wel goeie waarde, en is uiters luuks. Die bougehalte is goed, en die rit nie sleg nie. Chery bied ʼn een miljoen km‑waarborg op die enjin vir die eerste eienaar, maar ek voel dié goggas wat ek hier genoem het, is eenvoudig kalibrasieprobleme. Nou moet die Chinese net sover kom om in te stem dat die dinge wat ek hier noem, nie reg gekalibreer is nie.

(Foto: Verskaf)

Die reeks lyk só:

Chery Tiggo 8 Pro 1.6TGDI 290T Executive145 kW/290 Nm7,2 ℓ/100 kmR609 900
Chery Tiggo 8 Pro Max 2.0TGDI 390T Executive187 kW/390 Nm7,6 ℓ/100 kmR669 000

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km‑voertuigwaarborg en 10 jaar/1 000 000 km‑enjinwaarborg vir die eerste eienaar sowel as ʼn 7 jaar/90 000 km‑diensplan.

Ons sal weer tyd met die Chery Tiggo 8 Pro deurbring en sien hoe hy hom dan in die daaglikse roetine gedra en hom ook dan teen sy mededingers opweeg.

(Foto: Verskaf)

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kuver ·

Baie mense is al baie spyt hulle het n cherry gekoop, gaan lees maar net van al die probleme op hellopeter, van enjins wat oppak tot lank wag vir parte tot swak diens

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.