Aston Martin se 520 kW DBX 707 is hier

(Foto: Divio Dajee)

Wanneer jy na vinnige motors kyk, begin jy by sportmotors, dan supermotors – en toe die 500 kW-grens oorskry is, word hulle hipermotors. Moet ook nie die groot hipersedanmotors soos BMW se M5, Mercedes-AMG se E63 en Audi se RS6 ignoreer nie, en dan kom daar ʼn nuwe klas voertuie, super-sportnutsvoertuie. Dit is motors soos BMW se X5M, Mercedes-AMG se GLE63, Audi se RSQ8 en Porsche se Cayenne. Teenoor drie spesifieke sportnutse, is daai almal bietjie lig in die broek.

Lamborghini was eerste met die Urus – ʼn hiper-sportnutsvoertuig: 0–100 km/h in 3,6 sekondes en 305 km/h voluit. Toe kom Porsche met sy Cayenne Turbo GT en 0–100 km/h neem ʼn blitsige 3,3 sekondes. Nou is dit Aston Martin se beurt met sy DBX 707 – ʼn verstommende 520 kW (707 PS) en 0–100 km/h in 3,3 sekondes en ʼn topspoed van 311 km/h.

Daytona Luxury Cars in Johannesburg is werklik ʼn spoggerige plek. Die motors wat daar ten toon gestel word, is asemrowend. Daytona is die plaaslike agente vir Aston Martin, McLaren, Rolls Royce en Lotus.

(Foto: Divio Dajee)

Die DBX is ʼn direkte mededinger vir sportnutse soos die Cayenne en Urus, en seker die Ferrari Purosangue wanneer hy sy buiging maak. Die DBX is pure Aston Martin – ʼn elegante supermodel met ʼn stoute streek. Seker soos een van James Bond se kokette wat ʼn rollie aan haar binnebeen onder ʼn blinkerrok vasmaak.

Die ontwerp van die DBX is onmiskenbaar ʼn Aston Martin. Hy deel die silhoeët met al sy voorgangers en is pragtig. Die bougehalte aan die binneruim is ook fantasties … daar is selfs dubbel-geglaseerde vensters. Die leer is sag en die stiksels perfek. Sodra mens inklim, is die stilte in die kajuit indrukwekkend. Die bestuursposisie is perfek.

Onder die kap is ʼn 4.0 V8 met twee turbo’s vasgebout. Die enjin kom van AMG af, maar Aston Martin het groter turbo-aanjaers gepas – nou bied dit 4 000 cc, 520 kW en 900 Nm. Die enjin is gelykstaande aan ʼn 9-spoed-wringkragomsitter- outomatiese ratkas.

Dis op die pad waar die 707 die koring van die kaf skei. Eerstens, as mens die spoedmeter dophou, is die DBX asemrowend vinnig – maar dit voel nie angswekkend nie. Ná jy jou voete vind agter die stuur en jy ʼn paar lang draaie in die Magaliesberg-omgewing trotseer, kom jy agter die 707 is nie hier om koekies te bak nie. Sy padhouvermoë is fantasties sonder om ritgehalte in te boet. Die ritgehalte is nog ʼn raaisel. Die 707 loop op enorme 23″-wiele, maar hy is nie ongemaklik nie. Binne-in die reusewiele sit groot koolstofkeramiekremme, absoluut nodig om die kolos tot stilstand te bring.

Ek sal die DBX 707 só opsom: Dit is ʼn meesterstuk. Dit is interessant om te sien hoe die Urus, Cayenne Turbo GT en DBX 707 van mekaar verskil – amper dieselfde resultate, maar verskeie persoonlikhede. Vir diegene wat die velle het, is dit ʼn pragtige ryding. Die ervaring by die handelaar is ook iets om van te droom … gaan loer bietjie by hulle in.

Die DBX-reeks lyk só:

ModelKrag0–100 km/hTopspoedPrys
Aston Martin DBX405 kW/700 Nm4,5 sek292 km/hR4 299 999
Aston Martin DBX 707520 kW/900 Nm3,3 sek311 km/hR4 799 999

Die reeks word gedek deur ʼn driejaar/onbeperkte km-waarborg en diensplan.

Die mededingers lyk só:

Porsche Cayenne Turbo GT471 kW/850 Nm3,3 sek300 km/h2 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R3 500 000
Lamborghini Urus478 kW/850 Nm3,6 sek305 km/h3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R3 995 000

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.