Dié BMW in die kol

Die debat oor binnebrand-enjins vs. elektriese motors woed voort. Die meeste elektriese voertuie is tans nog buite die bereik van die algemene gebruiker. BMW skiet egter moontlik hier ʼn kolskoot.

BMW se X3 is uiters gewild en is in Desember 2022 met ʼn goeie marge sy gewildste model. BMW het 395 X3’s van die hand gesit.

Die mees bekostigbare X3 is die sDrive 18d – en hy kos R957 224. Die duurste X3 is die X3 M Competition en hy sal jou R2 072 618 uit die sak jaag. Dan is daar ook die volle elektriese iX3 M Sport teen R1 306 400.

Ek het laat verlede jaar tyd met klomp elektriese voertuie deurgebring. Audi se e-Tron, Volvo se XC40 P8, Audi se RS e-Tron GT en die iX3. My gunsteling tussen almal is beslis die BMW en dit is om verskeie redes.

Eerstens is dit ʼn doodgewone BMW X3. Hy lyk nes sy petrol- of dieselaangedrewe boeties. Die binneruim is bekend en voel nie volksvreemd nie – en mens is vinnig gemaklik weens die ergonomiese uitleg van die kajuit.

Tweedens, en waarskynlik die spreekwoordelike koeël deur die kerk, is die motor en die kalibrasie. Die elektriese motor bied 210 kW en 400 Nm. Oorgenoeg vir amper enige koper se behoeftes. 0-100 km/h neem ʼn ratse 6,8 sekondes en die iX3 is elektronies beperk tot 180 km/h … weereens, heeltemal genoeg. Die iX3 loop met ʼn 80 kWh-battery – voldoende vir tot 460 km se reikafstand.

Dít is weereens egter net ʼn klomp nommers. Die kalibrasie en samehorigheid van die elemente is wat die X3 voor sy mededingers plaas. Die sinergie tussen versneller en rempedaal is perfek. Die iX3 spring en hop nooit rond soos van die elektriese voertuie kan doen as mens nie sag met die versneller werk nie. Die onderstel voel perfek gekalibreer, dermate dat die iX3 uitermatig lig op krag voorkom. Die BMW se reikafstand het gereeld geklim na meer as wat BMW sê moontlik is.

Op die pad bied die iX3 ʼn tjoepstil kajuit – en die stilte in ʼn elektriese voertuig voel altyd ultraluuks. Die rit is effens hard weens die 20″-wiele. ʼn Jammerte aangesien die iX3 slegs in M Sport-spesifikasie beskikbaar is. Ek dink ʼn 18″-wiel sou die rit wesenlik verbeter. Padhouvermoë is meer as wat enige X3-koper ooit sou benodig.

Onder die bakwerk sit ʼn magdom veiligheidstelsels soos mens in enige ander moderne BMW vind. Aanpasbare spoedkontrole, baandwaalwaarskuwing met blindekolwaarskuwing, botsingwaarskuwing met noodremhulp – die lot.

Dít is waar elektriese voertuie werklik begin sin maak: nie twee keer die prys van hul petrolmededingers nie en met billike reikafstand. Ingesluit in die prys is ʼn laaier wat in jou motorhuis tuis geïnstalleer word – so mens hou die voertuig volgelaai eerder as hom “leeg” te ry en dan ʼn vulstasie te moet soek. Selfs tydens fase 4- en fase 6-beurtkrag is ons nie een keer gestrand gelaat nie.

Ek sal die iX3 só opsom: Dit is ʼn puik ryding. Dit sou my keuse wees in die X3-reeks. Sy sleepkapasiteit is nie baie teen 750 kg nie, en die rit is effens hard, maar dis kleinighede.

Die X3-reeks lyk só:

BMW X3 sDrive 18d110 kW/350 Nm5,2 ℓ/100 kmR957 224
BMW X3 sDrive 18d M Sport110 kW/350 Nm5,2 ℓ/100 kmR997 224
BMW X3 sDrive 20i135 kW/300 Nm7,3 ℓ/100 kmR1 015 778
BMW X3 sDrive 20 i M Sport135 kW/300 Nm7,3 ℓ/100 kmR1 055 778
BMW X3 xDrive 20d140 kW/400 Nm5,6 ℓ/100 kmR1 065 394
BMW X3 xDrive 20d M Sport140 kW/400 Nm5,6 ℓ/100 kmR1 105 394
BMW X3 xDrive 30d195 kW/620 Nm6,6 ℓ/100 kmR1 256 840
BMW X3 xDrive 30d M Sport195 kW/620 Nm6,6 ℓ/100 kmR1 296 840
BMW iX3 M Sport210 kW/400 Nm19,2 kWh/100 kmR1 306 400
BMW X3 M40i285 kW/500 Nm8,9 ℓ/100 kmR1 468 146
BMW X3 M Competition375 kW/650 Nm10,6 ℓ/100 kmR2 072 618

Die reeks word gedek deur ʼn tweejaar/onbeperkte km-waarborg en ʼn vyfjaar/100 00 km- omvattende instandhoudingsplan. Die iX3 geniet ʼn agtjaar/100 000 km-batterywaarborg.

Die kompetisie lyk só:

Volvo XC40 P6 Recharge Plus170 kW/330 Nm20 kWh/100 km

423 km

5 jaar/100 000 km- voertuigwaarborg en omvattende instandhoudingsplan

8 jaar/100 000 km- batterywaarborg

R1 075 000
Audi e-Tron 55 quattro300 kW/664 Nm21,4 kWh/100 km

440 km

1 jaar/onbeperkte km- voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km- batterywaarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 745 000
Jaguar iPace EV400 AWD Black394 kW/696 Nm22,3 kWh/100 km

470 km

5 jaar/100 000 km- voertuigwaarborg en omvattende instandhoudingsplan

8 jaar/160 000 km- batterywaarborg

R2 074 700

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

Jammer om te sê, maar vir amper R1 miljoen is hy nog steeds buite bereik vir die meeste mense en ek persoonlik dink daar is veel beter en goedkoper opsies daar buite met veel beter herverkoop waarde as ‘n BMW.

JohanEtz ·

Met Permanente beurtkrag gaan jy maar sukkel om battery te herlaai?
Of voorsiening maak om ñ brandstof aangedrewe kragopwekker saam te piekel…hahaha

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.