Dié sportmotor dans soos jy hom lei

(Foto: Verskaf)

As jy ʼn bietjie daaroor dink, is dit waarskynlik die een of ander sportmotor wat die eerste spreekwoordelike brandstof in die meeste motorentoesiaste se are gepomp het.

En vir elke geesdriftige is daar natuurlik ʼn ander soort sportmotor wat die hart vinniger laat klop. Dalk ʼn Porsche 911, of miskien ʼn Mustang? Dikwels is dit egter ʼn liggewig twee- of twee-plus-twee-sitplek uitleg, met ʼn gretige enjin voor, ratkas in die middel en agterwielaandrywing.

Mazda sal stry dat sy tweesitplek MX-5 met afslaandak die wêreld se gewildste sport-tjorrie is – maar dit bly ʼn bitter klein nis. Ek is nie reusagtig van statuur nie en ʼn MX-5 voel bitter knap… selfs vir my.

Japan het wat bekend staan as die JDM of Japanese Domestic Market. In daardie mark was daar ʼn voertuig genaamd die Toyota Trueno AE86, iets wat gelyk het soos ʼn kruising tussen ons Corolla Sprinter SE Liftback en ʼn Toyota Avante.

Nietemin. Daardie voertuig het wêreldberoemd geword vir sy vermoë om te drift en is gewild gemaak deur ʼn Japanse program genaamd Initial D.

(Foto: Verskaf)

Toe Toyota weer onder die GR-vaandel gesogte sportmotors begin hou, was dit duidelik dat daar ʼn nuwer Trueno sal moet wees. Die eerste 86 was amper daar, maar die nuutste een waarop ons pas ons hande kon lê, is werklik ʼn belewenis.

Die ontwerp is mooi. Dit is pure sportmotor; laag en plat met ʼn lang enjinkap. Die bestuurder sit lekker laag in hom, met jou boude amper oor die agterwiele. Die binneruim is verbasend ruim en voel nooit beknop of ongemaklik nie.

Dit sitplekke vou ʼn mens styf genoeg vas sodat jy weet wat onder jou met die motor aan die gebeur is – maar ook nie só styf dat jy vasgekeer begin voel nie. Dit is hier agter die stuur waar alle belangrike kontroles vir ry maklik bereikbaar is, dat jy begin besef die 86 gaan oor een ding: die ervaring van ʼn lekker motor, vinnig ry en pure genot daaruit put.

Onder die kap sit ʼn 2.4 viersilinder-bokserenjin. Die juweel van ʼn kragbron bied 174 kW en 250 Nm. Teen 3 700 r/min is die wringkragpiek heelwat laer as die vorige model – en maksimum krag word op 7 000 r/min gevind. Dit is ook daar tussen ses- en seweduisend waar hy die mooiste brul.

Daar is twee ratkaste beskikbaar: ʼn 6-spoed handrat (my gunsteling) en ʼn 6-spoed wringkragomsitter-outo. Nul tot 100 km/h neem 6,4 sekondes met die handrat en 6,8 sekondes in die outo.

Die outo se topspoed is 216 km/h en die handrat sʼn 226 km/h. Oorgenoeg.

Die bekendstelling het in die Oos-Kaap plaasgevind.

Ons het eers by die Aldo Scribante-renbaan gaan jaag – en die 86 betower jou agter die stuur.

Die Toyota slaan ʼn heel ander koers in as die meeste ander sportmotors deesdae.

Die goed klou en klou en klou en as hy los is daar gewoonlik ʼn ambulans iewers in die storie.

Die 86 beweeg rond en straf jou vir growwe insette, maar as jy mooi werk daarmee en jou insette meet en saggies invoer, dans hy presies soos jy hom lei.

Die feit dat ʼn mens heelwat stuuroorywerigheid kry op 130 km/h en eenvoudig teenstuur inskakel, jou voet op die versneller hou en die motor dan terugkom is een van die bevredigendste gevoelens wat jy agter die stuur kan beleef.

Nadat ons amok op die baan gemaak het, het ons koers gekies na St. Francisbaai. Die teerpaaie in die gebied is nie waffers nie, maar verbasend genoeg vreet die 86 die myle op. Sy vering is soepel genoeg dat sulke agterpaaie nie ongemaklik raak nie.

Ek sal die Toyota GR86 só opsom. Dit is ʼn motor wat vir ʼn petrolkop jare se ervaring in ʼn paar weke sal leer. Dit is ʼn bevredigende voertuig om mee te ry én te jaag… en só spelerig dat ek twyfel of jy ooit daarmee verveeld sal raak.

Ek is gek oor die GR86.

Die reeks lyk só:

Toyota GR86 handratR698 100
Toyota GR86 outoR733 700

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 4 dienste-diensplan.

Ons sal weer tyd met die 86 deurbring en hom dan met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja ek sal nie omgee nie. Ek sou wel ‘n klein turbo wou he, nie vir piek perdekrag nie, maar vir die ekstra wringkrag laer af wat jou plat in jou sitplek druk. Maar behalwe vir dit is hierdie een van die beste karretjies in Suid-Afrika as jy lus het vir sports maak. Ek het ‘n soortgelyke koepee gehad (Opel Astra Turbo Coupe) wat self lekker was om mee rond te ry, maar die voorwiel-aandrywing is nie die regte ding vir ‘n sportkoepee nie.

Veritas ·

Dis baie mooi en ek sal graag een in my motorhuis wil sien. Dit gaan egter nie gebeur nie tensy ek die Lotto wen, sal maar my 2005 Kia moet ry todat hy uitmekaar val LOL. Ten minste is hy jare terug al afbetaal.

JohanR ·

Moenie bekommer nie Allan is net ons geagte ministers, wat die 86 sal kan bekostig met belastingbetalers se geld!

Veritas ·

Ek stem saam Johan, maar ek dink tog hulle verkies daai blink swart Merc’s. Ons sal die klomp seker weer in die informele nedersettings sien rondry deur die vullis met hulle in 2024.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.