Ducati Supersport 950 – Een jaar van eienaarskap

(Foto: Brian Cheyne)

Elke motorfietsryer het ’n idee van sy of haar droomfiets êrens in die agterkop.

Myne was nog altyd tussen die Ducati Multistrada 950 en die Ducati Supersport. En daar is ’n rede daarvoor. Ek dink dit kom met ouderdom dat jy jou nie meer steur aan wat almal vir jou voorsê nie, maar eerder eerlik is met jouself. Die Panigale V4 en selfs die Multistrada V4 is hopeloos te veel fiets vir my. Die Multistrada V4 is ’n ongelooflike fiets, maar ek het nie al die krag nodig nie want ek het nooit ’n passasier saam met my nie. Ek sal ook nie ’n Panigale oorweeg nie, want my lyf kan nie meer opvou soos ’n knipmes om op hom te pas nie. Ek is ook nie ’n baanspesialis om die fiets regtig tot sy vermoë te kan benut nie.

(Foto: Beam Productions)

Tog is daar iets uiters spesiaal aan die dreun van die L-twee Ducati-enjins en vir my is die 937 cc-enjin genoeg. Soos die drie beertjies se pap, nie te warm nie, nie te koud nie, net reg!

Net voor die vierde Ducati Mystery Ride het Jos Mathyssen van Ducati my ingelig dat ek vir my ’n Ducati sou koop voor ons vertrek. Soos ons deur die vertoonlokaal geloop het, het ek reguit na ’n grys Supersport geloop. Daar was nie eens twyfel nie. Die datum 25 April 2022 was ’n besondere emosionele dag vir my toe ek moes regstaan vir ’n kiekie by my nuwe fiets. Nou is dit ’n jaar later, en ek voel dit is tyd om my eerlike opinie te gee oor my eerste jaar van eienaarskap.

(Foto: Brian Cheyne)

Die Ducati Supersport is op die 2016 EICMA-skou in Milaan aangewys as die mooiste fiets op die skou. Ten spyte daarvan was ek was nie mal oor die hooflig se ontwerp nie. Die spieëls was totaal nutteloos en die snelskakeling was temperamenteel. Behalwe daarvoor het die fiets met elke stukkie van my wese gepraat. Daar was oorgenoeg krag vir my beperkte vermoëns en die fiets het oral aandag getrek.

Die Supersport is in 2020 opgegradeer en het toe bekend gestaan as die Supersport 950. Die lyne is aangepas en as jy luister na die ontwerper, Julien Clement, dan praat hy met passie oor al die nuwighede aan die fiets. Die ontwerp is baie meer treffend en bied baie meer gerief aan die ryer. Die hitte van die enjin word netjies weg van die ryer herlei, en koel lug word weer ná die ryer gelei. Al hierdie kosmetiese veranderinge het ’n groot verskil gemaak aan die rygerief van die nuwe fiets. Ek kan getuig dat ek baie meer in my skik is met die hooflig se ontwerp, dat die snelskakeling nou seepglad is en dat die spieëls ’n klein bietjie minder nutteloos is. Jy moet maar op die spoed van die fiets staatmaak om te verseker dat niks jou van agter af benader nie.

As ’n alledaagse rondritsfiets het die Ducati tog sy tekortkominge, en die grootste hiervan is die hitte van die enjin. Al die slim foefies om hitte weg van die ryer te kry help nie veel as jy in die verkeer vassit nie. Nee, die Supersport is gemaak vir die langpad. Tydens die Mystery Ride het ons op een van die dae 928 km ver gery en ek kan eerlik sê dat daar min sporttoerfietse is wat kan kers vashou by die Ducati as dit by gerief kom. Die Supersport het ook nie teleurgestel in die kronkels nie. Ek het opgemerk dat dit seker die één fiets is wat my van my vrees vir draaie sou genees.

Ná die Mystery Ride het ek het die opsionele toerpakket op my fiets laat installeer. Dit sluit twee bagasietassies, verhitte grepe en ’n langer skerm in. Met hierdie byvoeging was die Supersport amper perfek. Hy kort nog net snelheidsbeheer en dalk ’n groter brandstoftenk. Die huidige brandstoftenk is piepklein, wat lang afstande noodgedwonge opbreek in korter dele.

Sover dit onderhoud aangaan was ek aangenaam verras. Die fiets se eerste diens was op 1 600 km en was goedkoper as wat my klein BMW G 310 GS s’n was. My jaarlikse diens is om die draai, en ek verwag dat hierdie diens ook in die omgewing van soortgelyke fietse sal wees. Met die gesofistikeerde fietse wat vandag beskikbaar is, is dit uiters onregverdig om Ducati uit te sonder vir hoë onderhoudskoste. Daar is egter twee dinge wat in gedagte moet hou met sekere Ducati-modelle, en dit is die komplekse Desmodromic-klepmeganisme. Hierdie tegnologie vereis ’n groot diens op 30 000 km en elke vyf jaar moet die interne aandryfbande vervang word. Maar, en ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie, ’n groot diens wat jou heelwat meer as normaal kos is nie uniek aan Ducati nie. Ander vervaardigers het dit ook, so jy moet jouself maar finansieel en geestelik voorberei vir die dag wat dit gedoen moet word, ongeag die fiets wat jy ry. Die Ducati se 16 000 km-diensintervalle maak die aanslag op jou beursie meer draaglik en nuwer Ducati V4-modelle doen weg met die Desmodromic-stelsel wat verdere besparings sal meebring.

So, as ek terugkyk op die jaar besef ek dat perdekrag of die Ducati se elegante lyne min tel as ek net dink aan hoeveel nuwe herinneringe ek gemaak het. Magoebaskloof en Clarens saam met vriende en almal wat oor my pad gekom het, bloot net omdat Jos my oortuig het om hierdie fiets te koop. Dit is nou al ’n jaar later, maar ek talm steeds so ’n oomblik of wat voordat ek die motorhuis se lig afsit. Ek wil nog net so rukkie langer kyk. Dan weet ek, ek het die regte fiets. My droomfiets. Die Ducati-verhaal eindig egter nie hier nie. Ek het klaar ’n ander fiets in die oog, maar oor hom gaan ek nog so rukkie langer droom. Ek geniet nog die Supersport te veel.

Die een groot pluspunt van Ducati hier in Suid-Afrika is die manier waarop die hele span jou hanteer. Jy is nie net ’n kliënt nie, julle word vriende, en jy voel soos familie. En daardie familiebande strek wêreldwyd. Op 6 Mei gaan Ducati’s oor die hele wêreld deelneem aan die tweede “We Ride As One”-geleentheid. Ducati Suid-Afrika gaan twee byeenkomste reël, een in Gauteng en een in Kaapstad. Registrasie is egter ’n vereiste, so gaan besoek gerus hul Facebook-blad vir nog besonderhede.

(Foto: Brian Cheyne)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Baie mooi fiets,die geel wiele miskien nie heeltemal nie ,laat my dink aan die silver dream machine wat ‘n suzuki katana was en waaroor ‘n film gemaak was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.